Almal het ʼn jaagduiwel – watse kleur is joune?

Die Lamborghini Huracán Performante. Foto: Verskaf

Maroela Media was onlangs so bevoorreg om genooi te word na ʼn plaaslike ervaring saam met Lamborghini.

Ons was al voorheen by die onthulling van die Urus in 2018 – maar nooit in my wildste drome het ek gedink dat ek ʼn Lamborghini self sou ry nie.

Vir ʼn petrolkop moet mens verstaan – die twee groot Italiaanse handelsmerke stap ʼn pad saam met ʼn laaitie van kleins af. Gelukkig vir ons in Suid-Afrika weet Toby Venter, eienaar van LSM Distributors – of altans Porsche, Lamborghini, Bentley én Kyalami in Suid-Afrika, nét hoe om met die vyfjarige laaitie in jou te gesels.

Die Lamborghini Huracán Performante. Foto: Verskaf

Dit is waarvan drome gemaak is. Daar is seker nie veel seuntjies wat nie in die een of ander stadium in hul lewe gesê het nie: “Pappa, eendag as ek groot is, gaan ek vir ons twee Lamborghini’s koop!” Soos ons in ʼn grasgroen Lamborghini Huracán Performante deur die Wes-Kaap jaag en om elke hoek en draai mense kry wat gil, fluit, waai en kyk, kom mens agter hoe spesiaal dié voertuig is. ʼn Supermotor gaan nie oor – “Ag, wat kos só ʼn ding nie”… dit gaan meer oor – “Ek wens ek kon een hê!”

My generasie is by ʼn vurk in die pad. Bespaar die omgewing … of daar gaan niks oorbly vir ons kinders nie, nog minder hul kinders. Met dié gaan alles oor besparing, ekonomie en die omgewing. Wat vir my fantasties is – is die feit dat ʼn Lamborghini nog bestaan. Al wat groen was van ons Huracán was die verf … grasgroen.

Ek lieg eintlik – die Huracán Performante is glad nie so swaar op brandstof soos ek verwag het nie. Ons het heeldag tussen 5 en 6 km/ℓ gehandhaaf. Heel goed vir ʼn kar wat van 0-100 km/h kan versnel in 2,9 sekondes … of tot 200 km/h in 8,9 sekondes … en aanhou en aanhou tot 325 km/h. Dis fantasties.

Die Lamborghini Huracán Performante. Foto: Verskaf

Die Huracán Performante gaan nie nét oor die syfers nie. Dit gaan oor die aanslag op mens se sintuie. Ek’t al baie vinnige karre gery. Ek’t verlede week ʼn AMG gehad met 430 kW … maar dit kom nie naby die Lambo nie. As jy ʼn karmens is – dink hoe voel 470 kW teen 8 000 r/min … en die 5.2 V10 omtrent 50 cm agter jou ore. Ek kry hoendervleis as ek daaraan dink. In die kar staan ál jou hare penorent. Dis asemrowend. Dink net, jy weet die roete is omtrent 300 km. Jy weet daar is twee bergpasse. Jy weet daar is ʼn reguit stukkie pad waar die teer mooi is. Jy kan nie wag om daar te kom nie.

Die Huracán sit soos ʼn klein jaagduiwel op jou skouer en fluister aanhoudend in jou oor om net jou voet in die mat te begrawe. Dán kom jy uiteindelik by die bergpas – daar is nie verkeer nie. Jy skuif die rymodus na Sport … trek drie keer terug aan die linkerratspaan … 5 200 cc en tien silinders spring met ʼn barbaarse geraas aan die gang en begin bou, en bou, en bou. By 7 500 r/min wonder jy of dit ooit gaan ophou en die hoendervleis kruip oor jou vel soos ʼn warm bad in die winter. By 8 500 r/min trek mens die regterkantse ratspaan, die dubbelkoppelaarratkas kies die volgende rat in ʼn oogwink en die Huracán slinger jou na die horison met ʼn onversadigbare honger. Te gou is mens anderkant die bergpas uit en jou persepsie van wat ʼn vinnige kar is, is vir ewig verander.

Kyk – moenie dink alles is perfek nie, ons praat hier van die Italianers, en hulle het ʼn paar vreemde idees. Die rigtingwysers byvoorbeeld. Dit is ʼn motorfiets-tipe knoppie op die stuurwiel. Hoekom? Mens kan stry dat dit dáár is sodat dit nie die ratwisselingspane agter die stuurwiel belemmer nie – maar ander fabrikate kry dit reg. Ek weet hoekom – want hulle kan, en daar mors dit nie met die kunstenaar se ontwerp nie. Ek kry die gevoel mens moet bly wees dis nie in die kattebak nie. My enigste ander kwaal is die feit dat ek ʼn 36- of 38-broek dra. Nou kyk – Italiaanse supermodelle het dalk ʼn 28-middeltjie met sulke stywe boudjies – maar nie ek nie … en daai rensitplekke kan mens ná ʼn ruk begin druk. Dan sal ek wel byvoeg … dit hoort só. Dit moet ongemaklik sit. Dit dra by tot die hele ervaring.

Die Lamborghini Huracán Performante. Foto: Verskaf

Ek’t oor die jare nogal ʼn vrees opgebou vir ʼn supermotor met die enjin in die middel. Ek’t al stories gehoor van hul hantering wat aan die moeilike kant kan wees. Ek en my rygenoot sê albei – dis bog. Indien dit wel só is, kan mens nie dáái vlak op die openbare paaie bereik nie, moontlik by ʼn baan met enorme spasie. Die Huracán Performante hanteer briljant. Die padhouvermoë is asemrowend. Die stuurreaksie is vlymskerp en die remme hou net nie op nie. Ek hoor nou die mense kerm oor hoe veilig dit is. Kom ek stel dit só. Dié Lambo sal korter en vinniger stop van 200 km/h af as die meeste gesinsmotors van 100 km/h. Elke element van dié voertuig is ontwerp sodat hy veilig vinnig kan ry. Baie vinnig. Én hy lyk asemrowend terwyl hy dit doen.

Née … die Lamborghini Huracán Performante is nie vir almal nie. Dit is vir die kleinste groepie mense beskore. Maar wow – ek beny hulle nie. As jy die geld het, koop ʼn Lambo … koop twee – jy sal elke liewe sekonde daarvan terdeë geniet. Ek belowe – dis ʼn belewenis.

Die Lamborghini-reeks lyk só:

Lamborghini Urus4.0 V8 bi-turbo

478 kW

850 Nm

3,6 sek305 km/h12,7 ℓ/

100 km

R3 495 000
Lamborghini Huracán Evo5.2 V10

470 kW

600 Nm

2,9 sek325 km/h13,9 ℓ/

100 km

R5 695 000
Lamborghini Huracán Performante5.2 V10

470 kW

600 Nm

2,9 sek325 km/h14,3 ℓ/

100 km

R6 095 000
Lamborghini Huracán Evo Spyder5.2 V10

470 kW

600 Nm

3,1 sek325 km/h14,1 ℓ/

100 km

R6 265 000
Lamborghini Huracán Performante Spyder5.2 V10

470 kW

600 Nm

3,1 sek325 km/h14,2 ℓ/

100 km

R6 795 000
Lamborghini Aventador S6.5 V12

544 kW

690 Nm

2,9 sek350 km/h18,4 ℓ/

100 km

R7 895 000
Lamborghini Aventador S Roadster6.5 V12

544 kW

690 Nm

3,0 sek350 km/h18,4 ℓ/

100 km

R8 695 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Daar is niks mooier as ‘n blouselblou ThriumpTR7 nie.
Tweede op my lys is ‘n metalic groen Fiat X19. Dis nou as mens na die Classic cars kyk.
Nuwer modelle is ‘n grys Peugeot 307 Cabriolet my gunsteling

Dorothy ·

Gee my maar in my drome ‘n bloedrooi Roadster. Dis so so aandag trek voertuig.

marco polo ·

n Maroen Jaguar E-type vir my, die mooiste kar ooit. Of dalk n oranje Ford Capri Perana met n swart enjinkap.

Andreas ·

Laat jy my nou der jare terug verlang toe ek ook daai twee gery het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.