As jy dit kan bekostig, is die Urus vir jou

Die Lamborghini Urus. Foto: Verskaf

Elke nou en dan moet ek my kop krap. Vir Jan Alleman is R500 000 vir ʼn voertuig heelwat geld. As ʼn mens nou regtig begin goed doen, seker R1 miljoen. Maar daar is ʼn piepklein persentasie van die bevolking vir wie prys nie saak maak nie. Dink aan handelsmerke soos Lamborghini, Ferrari, McLaren, Bentley, Rolls Royce, Aston Martin – de lot. Hul kliënte word nie deur prys beïnvloed nie.

Daarom kon dié handelsmerke al vir dekades ons sintuie prikkel met die asemrowendste rygoed wat ʼn mens ooit kon uitdink. Ongelukkig, met moderne regulasies wat emissies en veiligheid betref, word dié einste vervaardigers nou gedwing om meer alledaagse voertuie te bou. As ʼn mens hulle alledaags kan noem.

Die Lamborghini Urus. Foto: Verskaf

Vir die voortbestaan van Lamborghini was ʼn grootvolume-verkoper dus nodig. Dink aan Porsche se Cayenne. Lamborghini is deel van die Volkswagen-groep. Só ook is Porsche, Audi, Bentley en dies meer. Dit beteken daar is ʼn platform, enjins en vierwielaandrywingstelsels – alles wat Lamborghini sou nodig hê vir ʼn sportnutsvoertuig van hul eie.

Welkom aan die Lamborghini Urus. R3,495 miljoen se bultende spiere. Ja, dit word gebaseer op Porsche se Cayenne en Audi se RS Q8. Meganies deel hulle baie, maar die eindproduk is werklik uniek. Ek was nog nie in die fabriek nie, maar dit voel vir my asof dit só werk:

Die Lamborghini Urus. Foto: Verskaf

Daar is ʼn pakhuis met al die onderdele. Die Duitsers (Porsche) daag op met ʼn spierwit lorrie en manne in hazmat-oorpakke wat die onderdele oplaai. Hulle vat dit terug na hul hermeties-geseëlde fabriek en bou ʼn perfekte Cayenne.

Die Italianers (Lamborghini) daag op met ʼn motorfiets, sigaret wat in die mond hang en geen valskerm nie; spoeg op die sypaadjie en sê vir die man agter die toonbank dat as sy onderdele nie nóú by sy fabriek opdaag nie, is daar perde. Gelukkig  is daar by die Lamborghini-fabriek ingenieurs wat dinge ernstig opneem – en die Urus is asemrowend om presies dié rede.

Die Lamborghini Urus. Foto: Verskaf

Die ontwerp is pure Lamborghini. Hy lyk kwaad daar waar hy in die parkeerterrein staan. Sy lyne is regtig uniek en aggressief. Die binneruim is uiters luuks. Daar is sitplek vir vyf volwassenes en die leer wat die hele kajuit bedek, is van die hoogste gehalte. Die sitplekke is van die gemaklikste waarin ek al ooit gesit het. Verder is elke denkbare luukse truuk in die Urus. Die Bang & Olufsen-klankstelsel in die Urus is uit ʼn ander wêreld.

Dit bring ons by die enjin. Die hart van enige sportmotor. Ek gaan eintlik sê supermotor. Die Urus word aangedryf deur ʼn barbaarse turboaangejaagde V8. Die enjin bied 478 kW en 850 Nm. Dit is amper twintig keer so veel soos die eerste VW-kewer. Krag word deur ʼn 8-spoed outomatiese ratkas aan al vier wiele gestoot. Vir 0 – 100 km/h neem dit net 3,6 sekondes en hy sal aanhou storm tot ʼn verpletterende 305 km/h.

Die fantastiese deel is nie nét jou voet in die mat begrawe en jouself vergaap aan die versnelling nie, maar waar die Urus my die meeste beïndruk het, is op twee maniere. Eerstens, hoe hy stop. Die Urus het kolossale 440 mm-koolstofkeramiekremskywe voor en 370 mm agter en kan stilhou van 100 km/h in ʼn kort 33,7 m. ʼn Mens het reusebande nodig om daai remskywe in weg te steek, so die Urus loop op bande tussen 21 en 23 duim.

Tweedens is hoe die Urus stuur. Ons het twee Lamborghini’s op een dag gery. Een was die Huracán Evo, en die ander die Urus. Die Huracán het slim vierwielstuur en allerhande truuks om hom rats te laat voel. Dit het die Huracán vir my benoud laat voel. Die Urus aan die ander kant was fantasties. Ek kan steeds nie verstaan hoe 2,2 ton só kan trek, stop en stuur nie.

In die Wes-Kaap op paaie wat lieflik vloei, hoef die Urus vir niks terug te staan nie. Behalwe die Huracán in Franschhoekpas, maar dis te verstane. Die stuur is perfek – ʼn mens hoef nie halfpad deur ʼn draai verstellings aan jou stuurinsette te maak nie, die Urus loop presies waar jy hom mik.

Die Lamborghini Urus. Foto: Verskaf

Die ritgehalte is soepel genoeg vir ʼn sportnutsvoertuig, en die padhouvermoë goed genoeg vir ʼn supermotor. Ek weet regtig nie hoe die ingenieurs dit reggekry het om só ʼn balans te bied nie. Vir die gemiddelde Lamborghini-eienaar gaan sy Urus beslis grondpad ry, en dalk ʼn boot sleep en te water laat.

Die Urus is maklik om op te som. Dit is ʼn fantastiese kar wat vir ʼn klein persentasie mense beskore is. Dis ʼn praktiese sportnutsvoertuig met plek vir vyf en ʼn uitlaatpyp wat die hoendervleis oor jou nek kan blaas. Die enjin trek soos ʼn atoombom en dan is daar die eksklusiwiteit van die handelsmerk… Lamborghini sê dat die gemiddelde Urus wat uit die vertoonlokaal ry omtrent R5 m kos nadat hy verpersoonlik is. Puik.

Die Lamborghini-reeks lyk nou só

Lamborghini UrusR3 495 000
Lamborghini Huracán EvoR4 500 000
Lamborghini Huracán Evo SpyderR4 950 000
Lamborghini Huracán Evo AWDR5 500 000
Lamborghini Huracán Evo AWD SpyderR5 950 000
Lamborghini Aventador SR7 895 000
Lamborghini Aventador S RoadsterR8 695 000
Lamborghini Aventador SVJR9 695 000
Lamborghini Aventador SVJ RoadsterR10 408 000

Alle Lamborghini’s word met ʼn 3 jaar/100 000 km-diensplan verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.