Audi se RS vs Merc se AMG

Ek het ’n ruk terug tyd met twee juwele deurgebring. Toe ek ’n jong volwassene was, het alles oor drie handelsmerke gegaan – M, RS en AMG.

BMW, Mercedes-Benz en Audi het elkeen sy eie hoëverrigting-handelsmerke geskep, en die resultate was opwindend.

Ek het nog altyd die M verkies. Dit was die skerper ryding. Die AMG was die ou wat tennis wil speel met ’n bazoeka, en die RS4 was warm genoeg, maar die stuurtraagheid van die vierwielaandrywing het hom altyd gekeer om die vinnigste van almal te wees.

Die prentjie het ietwat verander oor die jare. Die AMG is nou ’n atoombom, en die RS4 het nou slim programmering op sy vastrapbeheer wat hom in staat stel om jou soos ’n held te laat lyk. Kom ons kyk hoe vergelyk dié twee:

Ontwerp

Audi RS4 Avant Quattro

Punt: 5/5

Mercedes-AMG C63S

Punt: 5/5

Ek was nog altyd ’n groot liefhebber van Audi se stasiewaens. Daar was vir my nog nie een lelike RS Avant nie. Die nuwe RS4 het bitter skoon lyne. Sy ontwerp meer teruggetrokke as die AMG s’n. Aan die ander kant is die nuwe AMG’s se ontwerp net so mooi. Dit is wel ’n baie meer aggressiewe ontwerp as dié van die Audi – maar tog sportief en netjies.

Binneruim

Audi RS4 Avant Quattro

Punt: 5/5

Mercedes-AMG C63S

Punt: 4,5/5

Hier is die Audi nét voor die AMG vir die eenvoudige rede dat daar ’n bietjie meer spasie is. Die vorm van die Audi se deure is ook beter, so dit is makliker om in en uit die Audi te klim. Verder is albei voertuie se binneruim van puik materiale gemaak en die bougehalte fantasties. Die spesifikasievlakke van albei is briljant met elke denkbare luuksheid tot jou beskikking.

Enjin, ratkas en dryfstelsel

Audi RS4 Avant Quattro

Punt: 4,5/5

Mercedes-AMG C63S

Punt: 5/5

Al is die Audi se nuwe 2.9 V6 enjin puik, en sy ratkas goed en sy vierwielaandrywing fantasties – is die V8 AMG-enjin ongeëwenaar op die oomblik. Ek het ’n tydjie terug geskryf dat ek dink die V8 van AMG moontlik tans die beste enjin ter wêreld is. Dieselfde geld hier. Die V8 is nie net die sterkste nie, maar daai klankbaan gee hoendervleis. Audi gebruik ’n 8-spoed en AMG ’n 9-spoed. Albei is wringkragomsitter outomatiese ratkaste. Die Audi het vierwielaandrywing, en die AMG is agterwielaangedrewe. Weens die enjin is die Audi ’n halwe punt agter die AMG.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid

Audi RS4 Avant Quattro

Punt: 5/5

Mercedes-AMG C63S

Punt: 4,5/5

Dit is in die dryfstelsel-afdeling waar dié twee verskil. Dié wat ’n hiperveilige vuurpyl soek sal die RS4 verkies. Dié wat nie ʼn bang haar op hul kop het nie sal die AMG verkies. Die adrenalien wat die AMG bied is elektries, maar as mens nie die kundigheid het nie, sal hy jou beslis byt. Die ritgehalte is effe beter in die RS4 – die AMG ry bitter hard. Die padhouvermoë van albei is fantasties, maar die Quattro-stelsel in die Audi bied ’n veiligheidsnet wat mens nie kan miskyk nie. Sit die RS4 in sy sporthanteringmodus, dan laat die blikbrein jou toe om te toor met die Audi, waar die AMG jou eenvoudig sal opkou en uitspoeg. Albei motors het ’n magdom veiligheidstelsels, maar die Mercedes het sewe lugsakke teenoor die Audi se ses, en ’n opsie vir nóg twee vir ’n totaal van nege.

Opsomming

Audi RS4 Avant Quattro

Puntetotaal: 19,5/20

Mercedes-AMG C63S

Puntetotaal: 19/20

My opsomming is ’n bitter pil om te sluk. Die punte wys dat die RS4 die beter voertuig is om te koop – maar my hart smag na die AMG. Ek persoonlik sou die Mercedes-AMG C63S koop vir die pretrit wat dit bied. Die RS4 is fantasties, maar hy waarsku my nie af en toe en sê “pasop vir jou” nie. Ek soek dit. ’n Mens kan ook nie die prys miskyk nie – en dit maak die RS4 ’n reusewinskoop.

Die twee vergelyk só:

 Audi RS4 Avant QuattroMercedes-AMG C63S
Enjin2.9 V6 turbo4.0 V8 turbo
Krag331 kW/ 600 Nm375 kW/ 700 Nm
Ratkas8-spoed outo9-spoed outo
0 – 100 km/h4.1 sek4 sek
Topspoed250 km/h (beperk)290 km/h (beperk)
Brandstofverbruik9.2 ℓ/ 100 km9.9 ℓ/ 100 km
Diensplan & Waarborg1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instanhoudingsplan

PrysR1 216 000R1 696 200

Die kompetisie lyk só:

 BMW M4 CompetitionAlfa Romeo Giulia QuadrifoglioLexus RC F
Enjin3.0 inlyn-6 turbo2.9 V6 turbo5.0 V8
Krag331 kW/ 550 Nm375 kW/ 600 Nm351 kW/ 530 Nm
Ratkas7-spoed outo8-spoed outo8-spoed outo
0 – 100 km/h4 sek3.9 sek4.3 sek
Topspoed280 km/h (beperk)307 km/h270 km/h (beperk)
Brandstofverbruik8.3 ℓ/ 100 km8.2 ℓ/ 100 km11.2 ℓ/ 100 km
Diensplan & Waarborg2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

3 jaar/ 100 000 km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

7 jaar/ 105 000 km waarborg

7 jaar/ 105 000 km omvattende instandhoudingsplan

PrysR1 496 462R1 430 244R1 385 300

 Elkeen van dié mededingers is spesiaal vir hul eie rede. Gaan toetsbestuur almal, een gaan jou hart steel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

aag, dit help nie eens ek lees die rubriek nie, waar sal/kan ek oor ‘n miljoen vir ‘n kar betaal?

koos10 ·

Ek is ‘n groot Merc aanhanger, maar teen daai prys dink ek hulle het hulself uit die mark uit geprys. Jammer ons kan nie die ekstras se pryse sien nie, dit kan miskien die prys vergelykings in meer perspektief geplaas het. Maar dis nie my prysklas nie, so ek droom maar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.