Audi se vlagskip beïndruk

Foto: Verskaf

Audi het ʼn wyle terug die Q8 aan ons bekendgestel. Daar was aanvanklik slegs die 55 TFSI-petrolweergawe beskikbaar. Ons het nou ʼn beurt gehad met die 45 TDI-weergawe, en dít sou nou my keuse van enjin wees indien ek in die mark was vir só ʼn voertuig.

Die Q8 is die vyfsitplek-koepee-gestileerde weergawe van die groter Q7. Ek persoonlik dink die groter Q7 met sewe sitplekke is ʼn meer veelsydige voertuig, maar ʼn groot gedeelte van die mark plaas stilering bó nut.

Die Q8 het ʼn pragtige binneruim met luukshede in oorvloed. Die Q8 het Audi se nuwe raakskerms en inligtingstelsels aan die mark bekendgestel. Ek neem aan ʼn mens sal dit wel gewoond raak, maar vir my is al die raakskerms effens irriterend.

Foto: Verskaf

Ek verkies fisieke knoppies vir goed want dan bou ʼn mens spier-geheue en kan jy naderhand die funksies bewerk sonder om daarvoor te kyk. ʼn Magdom funksionaliteit sowel as veiligheidstelsels hou alles in die Audi veilig en gemaklik.

Die enjin in die 45 TDI is ʼn 3.0 V6-turbodieselenjin. Hy bied 183 kW en 600 Nm. Van 0 – 100 km/h neem 7 sekondes en dié 2.2 ton-buks sal aanhou draf tot 220 km/h. Heel indrukwekkend. Audi maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,8 ℓ/ 100 km – heel moontlik op die oop pad, dink ek.

Foto: Verskaf

Waar die 45 TDI vir my uitblink is die gevoel wat ʼn V6-diesel bied. Dit bied ʼn redelike aangename enjingeluid, en ʼn golf wringkrag wat moeiteloos die Q8 na die horison laat skuif. Die petrolweergawe moet ʼn mens heelwat harder ry om dieselfde gevoel te kry, en dan is hy baie swaarder op brandstof.

Op die pad is die Q8 uiters gemaklik. Die lugvering stryk die meeste van die ongelykhede in die pad plat. Die opsionele 22”-wiele kan dan en wan effe groot en lomp voel – soos naellope te probeer doen in reënstewels.

Dit is heel maklik om die Q8 op te som. Dit sit in ʼn verskriklike mededingende segment van die mark, met ʼn klomp opsies. Die Q8 is mooier as die meeste van die ander vir my, en sy binneruim pragtig aanmekaar gesit. Hier gaan dit doodeenvoudig oor smaak en voorkeur gaan.

Die reeks lyk só:

Audi Q8 55 TFSI Quattro250 kW/500 Nm9,1ℓ/100 kmR1 517 500
Audi Q8 45 TDI Quattro183 kW/600 Nm7,8ℓ/100 kmR1 573 500

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Lexus RX 350 F-Sport221 kW/370 Nm9,6 ℓ/ 00 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 177 900
Jaguar F-Pace 30d AWD S221 kW/700 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 359 832
Volkswagen Touareg V6 TDI Executive R-Line190 kW/600 Nm7,1 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 370 800
BMW X6 xDrive 40i250 kW/450 Nm9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 466 318
Porsche Cayenne Coupé250 kW/450 Nm9,4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 529 000
Mercedes-Benz GLE400d Coupé 4Matic AMG Line243 kW/ 700 Nm7,5 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 827 800

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.