Audi stel sy vlagskip bekend

Audi se Q8. Foto: Verskaf

Die afgelope 20 jaar was Audi een van die handelsmerke wat regtig groot verandering en ontwikkeling ervaar het. Van ʼn klein begin onder VW se vlerk staan hulle nou die luuksste tekkies heeltemal vol.

Omdat Audi Suid-Afrika slegs ʼn invoerder is, nie soos BMW en Mercedes-Benz wat in Suid-Afrika van hul voertuie vervaardig en dus groot invoerkrediete kry nie – het Audi unieke uitdagings wat modelreekse betref en hoe presies hulle die handelaar in staat stel om ʼn wins te maak sonder om hul vloerplanne tot vervelens toe te laai nie.

Die luukse segment krimp in hierdie stadium. Daar is ʼn neiging om af te skaal onder nie net Suid-Afrikaners nie, maar wêreldwyd. Trevor Hill, hoof van Audi Suid-Afrika, het lank en hard gedink oor hoe om die onderneming te rasionaliseer en seker te maak dat hulle dinamies en lig op hul voete kan wees.

Audi se Q8. Foto: Verskaf

Een van dié besluite is om eerder die nuwe Audi Q8 as vlagskip in Suid-Afrika bekend te stel, in plaas van die A8 sedan. Die sedansegment krimp al vir jare met die globale neiging na sportnutsvoertuie. Ek het nog nie die jongste A8 getoets nie, maar ek sal vir jou sê – die Q8 is regtig indrukwekkend.

Die nuwe Audi Q8 is nou beskikbaar in Suid-Afrika met Audi se 55 TFSI 3.0 V6 turbopetrolenjin. Dié enjin bied 250 kW en 500 Nm. Die krag word na al vier wiele gesit deur ʼn 8-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas en Audi se wêreldberoemde Quattro stelsel. 0 – 100 km/h duik op in ʼn ratse 5,9 sekondes en die Q8 sal aanhou snol tot ʼn elektronies-beperkte 250 km/h.

Audi se Q8. Foto: Verskaf

Die Q8 is Audi se koepee weergawe van die Q7. Dink BMW se X6 teenoor X5 … einste. Ek moet bieg dat ek geensins ʼn liefhebber van die X6 óf Mercedes-Benz se GLE is nie. Dit lyk vir my altyd of ʼn olifant agter op die motor gaan sit het. Audi het hom wel puik van sy taak gekwyt. Die Q8 se hoekige lyne lyk fantasties en die Q8 is die enigste speler in dié segment wat raamlose vensters het.

Die binneruim is eg Audi. Presies wat ʼn mens deesdae van die handelsmerk verwag: pragtige materiale en puik bougehalte. Die nuwe inligtingskerms met haptic feedback werk nes jou slimfoon – wanneer ʼn mens ʼn “knoppie” druk vibreer die skerm en gee jou die gevoel dat daar fisieke knoppies is. Regtig intuïtief.

Daar is stembeheer wat verskeie instruksies kan volg, byvoorbeeld – as jy sê: “I’m cold”, sal die motor vra watter temperatuur jy verkies, en dit só stel. As jy sê: “I’m hungry”, sal dit restaurante naby jou soek en aanbevelings maak. Die sitplekke is elektries verstelbaar en voorwaar gemaklik. Daar is ʼn asemrowende Bang & Olufsen-klankstelsel, verhitte en verkoelde sitplekke, ʼn magdom lugsakke en veiligheidstelsels – die lot.

Audi se Q8. Foto: Verskaf

Met die oorhandiging van ons toetseenheid was ek bekommerd oor die ritgehalte. Ons Q8 was toegerus met reuse 22”-wiele. Gelukkig is daai wiele oorgetrek met 40-profielbande. Dit – gepaard met die lugvering – verseker ʼn sagte rit, sonder om slap te raak in die padhouvermoë afdeling. Ons toetseenheid was ook met vierwielstuur toegerus, en aanvanklik voel dit effe vreemd, maar ʼn mens raak dit vinnig gewoond. Die voordeel is dat die Q8 teen lae spoed in klein spasies ʼn kleiner draaisirkel het. Heel slim.

Op die pad voel die Q8 nes die vlagskip wat Audi wil hê dit moet wees. Dit is groot, luuks, mooi, sterk en vinnig. Die kombinasie van die binneruim, die ontwerp en die enjin is ʼn indrukwekkende produk waarmee baie mense maklik sal kan saamleef, indien hulle die beginprys van R1,388 miljoen kan bekostig. Daar is nou slegs die 55 TFSI beskikbaar, en die 45 TDI sal in Junie beskikbaar wees teen R1,439 miljoen.

Die reeks lyk só:

ModelKrag0 – 100 km/hPrys
Audi Q8 55 TFSI250 kW/ 500 Nm5,9 sekR1 388 000
Audi Q8 45 TDI183 kW/ 600 Nm7 sekR1 439 000

Die reeks word gedek deur Audi se omvattende 5 jaar/ 100 000 km instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die Audi Q8 deurbring; dán sal ons hom in diepte toets en met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JWC ·

Belaglik! Dit is al wat ‘n mens deesdae kan sê van motorpryse. Die Audi kos soveel as ‘n goeie ruim huis hier waar ek woon… Sodra jy jou hand op papier gesit en geteken het vir die koop van die voetuig, kan tot sowat 25% van sy waarde reeds daarmee heen wees!

Na omtrent 5 jaar kry jy aansienlik minder as 50% van die koopprys terug as jy die voertuig wil inruil en bewaar jou as jy nie weer dieselfde handelsnaam koop nie, want dan is jy aan die “mark” oorgelewer!

Geen wonder Chinese voertuie raak al meer gewild nie – lyk of dit die nuwe bekostigbare vervoermiddel gaan (is) wees!

Disselboom ·

Toets hom maar, maar vir 99,9% van ons gaan dit nou nie juis raak of die voertuig wonderlik is of nie. Sal meer sin maak om te bly by voertuie van die soort pryse wat sommige huishoudings darem kan bekostig; en meer intreevlak-voertuie aan te hou toets en oor raad te gee, want vir ons jongmense is dit ‘n taai ding om wiele te bekom, en kan advies om daardie geld ten beste te spandeer, ten minste praktiese waarde hê. Die Audi Q8 is fantasties, maar of dit nut het is ‘n ander vraag.

Qsuper ·

Ag ou JWC, wat vir jy baie geld is, is sommer kleingeld vir ander. Ek dink dit is fantastiese motor, en sal geniet om een te ry sonder om aan huis koop te dink.

JWC ·

Qsuper… net so van die os op die jas, ons wat in die skool was, sê nie “wat vir jy baie geld” nie – dit is eintlik “wat vir JOU…” Sê maar net!

Ruiklont ·

Uitstekende, briljante kunswerk omgesit in ‘n majestieuse Q8, voorwaar ‘n wenner. Dink aan die uitsonderlike stukkie ingenieurswerke en nie aan die prys

Attie. ·

Ek het myself beloof dat ek ook eendag ‘n `audi gaan ry. Ek voel net ek moet my huidige kar klaar ry, die kar is ongelukkig ‘n Toyota wat ek nuut gekoop het in 1997. Hy wil net nie gaan lê nie. Het iemand raad…hoe kry ek die ding om my net eenkeer te los langs die pad…sodat ek ook ‘n Audi kan ry?

Ag siestog ·

Attie. Dis baie maklik. Toyoyas breek maklik as jy meer as 50km/h ry. Soek nie n lekker afdraand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.