Bakkie-oorlog: Navara vs Triton vs Hilux

Die Nissan Navara.

Maroela Media het ʼn hele ruk gelede tyd met die Navara, Triton en Hilux deurgebring.

Dit was die reeksleidende diesel 4×4 outomatiese weergawes van elkeen. Só vergelyk hulle:

Ontwerp

Die Navara is ʼn bitter mooi bakkie. Die konkawe-enjinkap is uniek en gee vir die Navara ʼn sterk voorkoms. Die Triton is ʼn groot verbetering op sy voorganger en lyk nou werklik vir die eerste keer luuks. Die Hilux is ʼn ou getroue keuse, maar tussen dié drie is dit beslis een van die meer konserwatiewe ontwerpe.

Binneruim

Die materiale in die binneruim van al drie hierdie bakkies is min of meer dieselfde. Dit is duursaam, dog gemaklik en die bougehalte is goed. Vir my verloor die Navara punte weens die stuurkolom wat baie laag sit en nie hoog genoeg kan opstel nie. Die Hilux pas soos ʼn handskoen, soos altyd, maar die Triton skitter volgens my hier. Dit voel bitter luuks daarbinne – en die spesifikasievlak is lekker sterk.

Van bo na onder: Die Mitsubishi Triton, die Nissan Navara en die Toyota Hilux.

Enjin en ratkas

 Nissan NavaraMitsubishi TritonToyota Hilux
Enjin2.3 viersilinder-dubbelturbodiesel2.4 viersilinderturbodiesel2.8 viersilinderturbodiesel
Krag140 kW teen 3 750 r/min133 kW teen 3 500 r/min130 kW teen 3 400 r/min
Wringkrag450 Nm tussen 1 500 en 2 500 r/min430 Nm teen 2 500 r/min450 Nm tussen 1 600 en 2 400 r/min
Ratkas7-spoed-outo6-spoed-outo6-spoed-outo
Brandstofverbruik7 ℓ/100 km8,3 ℓ/100 km8,5 ℓ/100 km

In die enjin-afdeling loop die Navara voor. Die dubbelturboenjin trek soos ʼn trein en sodra jy dink sy fut is uit, skop die tweede turbo in, dán trek hy eers. Die Triton se wringkragkurwe is effe plat teenoor die ander twee. Al wys die tabel dat die Navara baie ligter op brandstof is as die res, is hulle almal in werklikheid min of meer dieselfde.

Veiligheid

Hier loop al drie bakkies perfek gelykop. Al die bakkies het ABS met EBD en remhulp. Daar is stabiliteit en vastrapbeheer met sewe lugsakke. Al drie bakkies kry vyf sterre in die ANCAP-veiligheidstoets.

Ritgehalte en padhouvermoë

Hier raak dinge effe vaag. Die bakkie met die beste ritgehalte is die Navara. Sy kronkelvere waar die Hilux en Triton bladvere het, laat hom puik toer op ʼn snelweg. Die Triton en Hilux ry baie harder, maar dit stel hulle in staat om baie beter vrag te dra sonder dat die boude hang en neus optel. Indien jy ʼn gemaklike padbakkie soek wat amper nooit vrag dra of sleep nie, is die Navara die wenner – andersins is die ander twee ʼn beter opsie.

Van bo na onder: Die Mitsubishi Triton, die Nissan Navara en die Toyota Hilux.

Sleepkapasiteit en 4×4-vermoë

 Nissan NavaraMitsubishi TritonToyota Hilux
Sleepkapasiteit3.5 ton3.1 ton3.5 ton
Loonvrag (GWM – Tarra)750 kg730 kg640 kg
Grondvryhoogte229 mm220 mm286 mm
4×44×4 met laestrekMitsubishi Super Select II 4×4 met laestrek4×4 met laestrek
EwenaarEwenaarslotEwenaarslotEwenaarsot

Diensplan, waarborg en Kinsey-verslag

 Nissan NavaraMitsubishi TritonToyota Hilux
Waarborg6 jaar/150 000 km-waarborg3 jaar/100 000 km-waarborg3 jaar/100 000 km-waarborg
Diensplan3 jaar/90 000 km-diensplan5 jaar/90 000 km-diensplanNege dienste-diensplan
Kinsey-verslag se onderdelemandjiekosteR84 122,35R202 111,22R78 534,03

Alhoewel die Nissan se waarborg baie sterk is, wen die Hilux in terme van sy diensplan vir nege dienste wat nie ʼn tydperkbeperking het nie. Jy moet elke 10 000 km óf elke jaar diens –die diensplan kan dus nege jaar hou. Soos deur die Kinsey-verslag aangedui, is die Hilux se onderdele die goedkoopste en die Triton by verre die duurste.

Opsomming

Indien jy ʼn lekker sterk, gemaklike bakkie soek wat nie vrag hoef te dra nie, is die Navara ʼn sterk keuse. Alhoewel die Triton lekker luuks lyk, voel en ry, is daai Kinsey-onderdelemandjie ʼn groot bekommernis, maar ʼn mens moet in ag neem dat die Mitsubishi R90 000 goedkoper is as die ander… dit maak dinge weer gelyk vir almal. Die Hilux bly ʼn sterk gunsteling van my – ek hou van hoe hy voel en ry, my enigste bekommernis is sy diefstal- en kapingsrisiko.

Die bakkies prys só

Nissan NavaraMitsubishi TritonToyota Hilux
R690 100R599 995R695 900

Enige dubbelkajuit is lekker. Jou keuse sal afhang van wat jy met hom wil doen. Vir my leefstyl kies ek die Triton of die Hilux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Volgens die fotos is die Navara se stuurkolom die beste van die drie.

Michael 1 ·

En volgende jaar kom die nuwe izusu en mazda bt 50 in sa aan dan gaan daar kompetisie wees soos nooit tevore.

Harry ·

Brendon, die Navarra het n 7 spoed auto ratkas, volgens Nissan kos hy net Meer as R690000 vir die Stealth wat jy hier van praat, en R677000 vir die een wat eitlik met die Ander twee meeting. Die Navarra is maar net better as die Ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.