Bekendstelling – BMW C 400 X

Die BMW C 400 X. Foto: Verskaf

By die onlangse bekendstelling van die R 1200 GS het BMW van die geleentheid gebruik gemaak om vir ons die nuwe C 400 X ook te wys. BMW se sub-500cc‑modelreeks bestaan nou uit die G 310 R, die G 310 GS en die C 400 X. Afhangend van die sukses van hierdie model, kan ons later nog die C 400 GT ook plaaslik kry.

BMW het die mark vir maxi-bromponies in 2011 met die C 650 GT en C 650 Sport betree. Die klem was op prima kwaliteit en dinamiese verrigting. Ek self ry ’n 650 GT, en wat verrigting betref, hoef hy nie veel terug te staan vir motorfietse met soortgelyke kapasiteit nie. Die C 400 X is ’n kleiner weergawe van die C 650 Sport.

Die C 400 X se hooflig herinner aan die F 850 GS en die skakelaars is dieselfde BMW kwaliteit. Die nuwe TFT‑skermpie maak dit duidelik dat hierdie fiets met reg deel van die BMW–familie is. Die idee was om ’n motorfiets te skep wat die daaglikse pendel nie net draaglik maak nie, maar dat jy in werklikheid uitsien daarna.

Die BMW C 400 X. Foto: Verskaf

Meganies beskik die X oor ’n 350cc‑enkelsilinderenjin wat 25 kW lewer teen 7500 rpm en 35 Nm wringkrag teen 6000 rpm. Die C 400 X beskik oor dubbele remskywe voor en ’n enkelskyf agter. Soos met alle BMW‑produkte is sluitwering standaard.

Die groot voordeel van hierdie klas motorfietse is natuurlik pakplek en beskerming teen die elemente. Onder die saal is daar pakplek vir los goedjies. As jy stop, kan hierdie area vergroot word deur BMW se Flexcase‑stelsel. Dit word gedoen deur die bodem van die pakplek te laat sak tot op die agterwiel. Jy kan jou valhelm en klere in die fiets toesluit. Daar is ook twee kleiner stoorplekkies aan die voorkant van die fiets. Dié een bevat ’n 12‑sok om jou foon te laai terwyl jy ry.

Die BMW C 400 X. Foto: Verskaf

Waaroor BMW baie ophef maak, is die nuwe TFT‑skerm wat aan jou slimfoon kan koppel. Sou jy die skerm ook aan jou kommunikasiestelsel koppel, kan jy alles met BMW se multi‑beheerder op die linkerhandvatsel beheer. Jy kan oproepe neem en musiek luister terwyl jy ry. Die skerm is ontwerp om uiters leesbaar te wees in helder lig en kan ook vir navigasie gebruik word.

Die klein C 400 X lyk na ’n baie aantreklike fiets en ek hoop om binnekort een te kry om mee rond te ry. In Europa sal verskeie spesifikasievlakke beskikbaar wees, maar plaaslik sal ons net die vlagskipmodel sien.

Die feite:

Enjin350cc enkelsilinder
Gewig (Nat)204 kg
Kraglewering25 kW @ 7500 rpm
Wringkrag35 Nm @ 6500 rpm
Tenkkapasiteit12,8 ℓ
Saalhoogte775 mm
PrysR 124 700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Poegaai ·

Amper R125 000 vir ‘n poegie wat jou foon kan laai! Nee wat, hou verby dankie.

AM ·

Ek stem, jy kan ‘n splinternuwe Suzuki SV650 koop vir R99,500. Ek kan nie dink dat hierdie ‘n treffer gaan wees nie.

Brian Cheyne ·

AM is reg. Die fiets se aandrywing is deur ‘n belt. Die belt word gewoonlik elke 20 000 km nagegaan, so onderhoud is minimaal.

JMC ·

Gaan een van die dae ‘n nuwe Goldwing koop. As ek hierdie ponie se prys kyk is R400k vir die Wing skielik nie meer so erg nie.

KrokodilBotha ·

YOH YOH. Ja neeeeee. Ek kan baie xr125 s koop vir daai geld.

marco polo ·

Brian, as ek mag vra, hoekom.sal n mens so n ding wil koop in plaas van n motorfiets? Ek verstaan n klein 125 scootertjie vir kort pendelreise, maar vir enige iets verder is n motorfiets tog veel beter en beter waarde vir geld, of hoe?

Brian Cheyne ·

marco polo, ek besit self ‘n BMW C 650 GT. Die rede is dat ek altyd kameras en driepote moet saamdra. Die pakplek onder die saal is vir my van onskatbare waarde. Ek wil nie die kamerasak oop en bloot dra nie. Die gemak waarmee ek ry, die beskerming teen die elemente, noem maar op. En ek was al met hom Swaziland toe ook. Ek het ‘n fiets wat aan MY behoeftes voldoen.

Die C 400 X is egter uit en uit ‘n pendelfiets. En nee, jy wil nie met ‘n 125 pendel op die N1 nie. Dit is eenvoudig te stadig om veilig te wees. Met hierdie grote fiets sal jy ten minste kan bybly by die verkeer. Vir iemand wat minder ervare is, is hierdie fiets ideaal. Jy draai net jou gewrig en daar gaan jy. Niks koppelaars om aan gewoond te raak nie, net gemak.

Ek weet daar kleef so stigma aan bromponies, maar hulle is uiters prakties en gemaklik.

marco polo ·

Dankie Brian. So wat jy se is as jy nie kameras hoef rond te karwei nie en reeds kan motorfiets ry, en nie n motorfietsjoernalis is wat reeds n ander fiets het nie, is n motorfiets eintlik beter? Ek is bevrees die motorfietsvervaardigers is besig om die mark vir hulself te vernietig deur hierdie lawwe tipe duur rygoed, wat n baie klein mark het. Persoonlik dink ek die oplossing le in bekostigbare kleiner motorfietse, wat meer mense toegang kan gee tot motorfietsry. As jy eers motorfiets gery het, gaan jy weldra n groot motorfiets aanskaf, maar as daar nie behoorlike, bekostigbare intree modelle is nie, gaan dit n stille dood sterf. Kyk maar na die ouderdom van die gemiddelde motorfietsryer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.