Bekendstelling – BMW R 1250 GS en R 1250 RT

BMW se nuwe R 1250 GS en die R 1250 RT. Foto: Verskaf

Met die bekendstelling van die nuwe BMW 1200 GS verlede jaar het ek opgemerk dat BMW gaan sukkel om verdere verbeteringe aan die GS aan te bring.

Elke jaar word daar net inkrementele verbeteringe aangebring aan hulle modelreeks en niks aardskuddend gebeur nie. Hierdie jaar het die kapasiteit van die legendariese bokser-enjin gegroei tot 1254 cc, maar wat wel nuut is vir 2019, is BMW se nuwe ShiftCam-tegnologie vir die nokaste. Hierdie tegnologie word nou gebruik in die twee nuwe modelle wat BMW onlangs bekendgestel het: die R 1250 GS en die R 1250 RT.

Die nuwe BMW R 1250 GS. Foto: Verskaf

GS-ryers sal ook bly wees om te verneem dat die instrumentasie nou ʼn 6,5” volkleur TFT-skerm is, en volledige verbinding met verskeie Bluetooth-toestelle bied. Die RT-model het nog die twee analoogwysers aan weerskante van ʼn 5,7” TFT-skerm.

Albei modelle kan, as ʼn opsie, ʼn noodnommer skakel as jy in ʼn ongeluk betrokke is. Verder is daar nie gepeuter aan die voorkoms van die GS nie. Behalwe vir die ShiftCam-kenteken op die silinderkop van die nuwe model gaan die meeste mense sukkel om die nuwe model van die oue te onderskei.

Die nuwe BMW R 1250 GS. Foto: Verskaf

Met die vergrote enjin is die kraglewering nou eindelik by die 100 kW merk. Dit is so 136 perdekrag in die ou taal. Dit steek so ʼn bietjie af teen die kompetisie wat al by die 160 perdekrag-merk sit. Die ShiftCam-stelsel verander egter die hele karakter van die bokser-enjin. Elke nokas het twee nokke per silinder.

Op lae toere en lae spanning loop die enjin op een nok wat brandstofverbruik verbeter. Sodra die lading op die enjin meer raak, gebruik die enjin die ander nok wat die inlaatklep langer oophou om optimale kraglewering te bied. Die inlaatkleppe maak ook ongelyk oop om beter verbranding te bewerkstellig. Die ShiftCam-tegnologie verbeter nie net wringkrag nie, maar het ook ʼn 4% verbetering in brandstofverbruik getoon. Die hele aksie gebeur natuurlik sonder dat die ryer daarvan bewus is.

Die nuwe BMW R 1250 RT. Foto: Verskaf

Nog twee nuttige stukkies tegnologie wat nou standaard op die twee modelle gaan wees, is Automatic Stability Control( ASC) en Hill Start Control. Laasgenoemde hou die motorfiets stil as jy teen ʼn steilte stilhou en behoort ʼn groot aanwins vir avontuurryers te wees.

Die nuwe R 1250 GS is onlangs in Portugal aan die wêreldpers bekendgestel en behoort binnekort hier te wees. Sodra hulle hier aanland, sal ons hulle van nader kan beskou en hopelik eerstehands ervaar hoe die nuwe ShiftCam-tegnologie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.