Bekendstelling: BMW se 3-reeks, die ikoon

Die nuwe BMW 3-reeks. (Foto: Verskaf)

Lank, lank gelede, toe ek nog ʼn laaitie was… kan ek onthou hoe mense opgekyk het na die E30 BMW 3-reeks. Die 325i om meer spesifiek te wees.

In my oë is die 3-reeks die voorvader van die luukse kompakte sportsedan. Toe ek begin werk het, het twee van my kollegas E36 BMW’s gehad – ʼn 323i en ʼn 328i. Een van daai kollegas het sy 323i geruil vir ʼn E36 M3 4-deur. Daai kollega was my held; al was ek effe jaloers was ek darem bly dat een van ons dit kon geniet. Ek en daai einste kollega het ons baas in ʼn BMW ingeboelie. Sy’t darem die kar geniet.

So, om te sê dat ek ʼn lang liefdesgeskiedenis met die 3-reeks het, is ietwat flou gestel.

Die nuwe BMW 3-reeks. (Foto: Verskaf)

Toe ons onlangs twee dae in die nuwe G20 3-reeks deurgebring het, kon ek alles onthou van presies hoe ʼn BMW moet voel. Ons het die eerste dag so om en by 300 km gery in die 330i, nou aangedryf deur ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin wat 190 kW tussen 5 000 en 6 500 r/min en 400 Nm tussen 1 550 en 4 400 r/min bied.

Van 0 – 100 km/h is bereikbaar in ʼn ratse 5,8 sekondes en hy sal aanhou draf tot 250 km/h. BMW beweer dat die 330i slegs 6,4 ℓ/100 km op die gekombineerde siklus gebruik. Ons het op die 300 km‑bekendstellingsroete ʼn baie billike 8,2 ℓ/100 km gehandhaaf. Ons doel was beslis nie brandstofverbruik nie.

Die nuwe BMW 3-reeks. (Foto: Verskaf)

Die 320d, waarskynlik die topverkoper in die reeks, word deur BMW se briljante 2.0‑viersilinderturbodieselenjin aangedryf. Hy bied 140 kW teen 4 000 r/min en 400 Nm tussen 1 750 en 2 500 r/min. Van 0 – 100 km/h is bereikbaar in 6,8 sekondes en sy topspoed is ʼn indrukwekkende 240 km/h. BMW sê dat die 320d 4,8 ℓ/100 km op die gekombineerde siklus benodig. Ons het 5,2 ℓ/100 km bereik op die toetsroete. Asemrowende syfers vir nie baie versigtig ry nie. Beide modelle is nou slegs met BMW se 8-spoed outo beskikbaar.

Die ontwerp is vir my regtig mooi, binne en buite. Die binneruim is tipies BMW. Die kajuit is om die bestuurder ontwerp, en die feit dat die 3-reeks steeds as ʼn bestuurder se kar gesien wil word, is ooglopend. Die 3-reeks bly getrou aan die etos wat nog al die jare agter dié voertuig is… ʼn kompakte sportsedan met sitplek vir vyf en ʼn redelike kattebak.

Die nuwe BMW 3-reeks. (Foto: Verskaf)

Die ritgehalte is vir my op slegte paaie en oor spoedhobbels in die dorp effe hard. Dit is nie nodig dat die vering so hard is nie – maar beide ons eenhede was met 19”‑bande toegerus. As jy van ʼn sagter rit hou – spesifiseer jou 3-reeks met die kleiner bande.

Padhouvermoë is uit die boonste rakke. Die agterwielaandrywing bied die vastrap wat ʼn mens van ʼn BMW verwag. Die M‑stuurwiel se rand voel effe dik in ʼn mens se hande. Dit was vir my hier en daar effe vaag om die 3-reeks te plaas, maar ek sal weer daarop let as ons die 3-reeks op toets kry.

Slegs die 320d en 330i is nou met die bekendstelling beskikbaar. In September kom ʼn 330d en M340i. BMW Suid-Afrika stel nog ondersoek in om te sien of die 330e inprop‑hibried in Suid-Afrika lewensvatbaar is. BMW het nuwe sagteware op hulle inligtingstelsel wat die weg baan vir outonomiese BMW’s. Mens kan ook nou net sê: “Hey BMW”… met ʼn magdom instruksies soos “how much range do I still have?” en so meer.

Die nuwe BMW 3-reeks. (Foto: Verskaf)

As ʼn mens moeg raak, sê jy: “Hey BMW, I’m tired”… dan skakel die kar self die lugreëling koeler, maak die sondak oop en speel spesifieke musiek om jou wakker te maak.

In sy geheel is die nuwe 3‑reeks ʼn indrukwekkende produk. Die bougehalte is uit die boonste rakke, en BMW se stamboom onweerlegbaar. Vir nou kies ek die 330i aangesien hy dieselfde kos as die 320d maar heeltemal ʼn ander dimensie krag bied. Ek het lank gelede ʼn Audi A4 gery. Die Volvo S60 gaan nie binnekort in Suid-Afrika bekendgestel word nie. Die Mercedes-Benz C-klas het ʼn paar kwale wat gehalte betref en Lexus se IS en Jaguar se XE is albei heelwat duurder. Totdat ons meer tyd met die 3-reeks deurbring, kraai hy vir my koning.

Die reeks soos nou beskikbaar lyk só:

BMW 320dR649 000
BMW 330iR649 000
BMW 320d Sport LineR672 600
BMW 330i Sport LineR672 600
BMW 330i M SportR694 400
BMW 320d M SportR696 500

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

B ·

Gee BMW handelaars nou darem al opleiding aan kliente oor die gebruik van flikkerligte en (agterste) misligte? ?

marco polo ·

Ek het lank BMW gery en het nie geweet dat hulle flikkerligte het nie. Hulle het wel oranje kantligte wat jy aanskakel om ‘n stadige voertuig voor jou te laat weet hy moet oorbeweeg na die linkerbaan.

Siener ·

@B waar val jy nou uit? Die afguns druk van jou af. Sies man. Geniet jou Toyota.
Baie goeie artikel, Brendon. Dit laat my terugdink aan my BMW dae. Ek verlang sommer terug om agter ‘n BMW stuurwiel in te klim. Een ding is ‘n feit. Die Duitse voertuie (BMW, MB , Audi) ry lekker en is nie te skaam om spiere te wys nie.

Elmer Swanepoel ·

Lank gelede het BMW se nommers die enjin-kapasiteit aangedui. Ek het ‘n 528i (2.8 Liter), ‘n 535I ( 3.5 Liter) gehad en ry steeds ‘n 735i (3.5 liter). Hoekom nou die 330i ‘n 2 liter enjin gee? Noem hom dan ‘n 320i!

TvdM ·

Daai is ‘n eenvoudige vraag om te beantwoord – daar word ‘n 330i se prys aan die 320i gekoppel en niemand wil dit vir ‘n 2 liter betaal nie. Plak gou ‘n 330i op die kattebak en die koper voel darem effens beter.

Lou ·

Dis nou die nuwe mode. Sien ‘n Audi A4 Tdi 40. Dog dit is ‘n nuwe 4.0 liter Diesel enjin tot ek op die net lees dit is maar ‘n gewone 2.0 liter Tdi. Die 40 is die model kode ??

Johan ·

Puik artikel, en puik motor!!! (Net jammer BMW’s het STEEDS nie spaarwielle nie…)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.