Bekendstelling: BMW se jongste sakeatleet

Die jongste BMW M5 (Foto: BMW)

441 kW en 750 Nm. 0 – 100 km/h in 3,4 sekondes. 0 – 200 km/h in 11,1 sekondes. 305 km/h indien ʼn mens die M Drivers Package kies. Welkom almal aan die nuutste BMW M5.

BMW se bemarkingsveldtog vir die nuwe 5-reeks was ‘Business Athlete’. Kyk, die 540i wat ons verlede jaar getoets het, was ʼn lieflike voertuig, met redelike lang bene, maar daai is niks teen die asemrowende nuwe M5 nie. Dié is Usain Bolt in ʼn Armani-pak.

Die nuwe F90 M5 kry M xDrive-vierwielaandrywing om te help om die 591 perde se krag op die pad neer te sit. ʼn Mens kan kies tussen agterwielaandrywing, vierwielaandrywing of vierwielaandrywing sport. Dié vierwielaandrywingstelsel help om die M5 van stilstand tot 200 km/h soos ʼn kettie te skiet in 11,1 sekondes. Laat daai gou insink. 200 km/h. My eie voertuie kan nie 100 km/h in daai tyd haal nie.

Die eksterieur van die M5 is regtig netjies, eenvoudige BMW ontwerpstyl. Die binneruim is van die beste gehalte materiale aanmekaargesit. Dit sitplekke is lieflike gemakstoele wat met ʼn paar knoppies mens styf genoeg vas kan hou sodat jy nie uitval as jy teen 170 km/h om draaie op ʼn renbaan jaag nie.

Die jongste BMW M5 (Foto: BMW)

Die kraglewering is asemrowend. Die tweelingturboaangejaagde 4,4 V8 bied ʼn barbaarse 441 kW en 750 Nm met een van die egaligste kragkurwes wat ek al teëgekom het. Die M5 trek soos ʼn trein van 1 800 r/min wanneer die 750 Nm uit volle bors brul tot 6 700 r/min waar die 441 kW ophou sing.

Dié M5 weeg so 1 930 kg met ʼn bestuurder. Die manier waarop dié M5 sy gewig baasraak is asemrowend. En die manier waarop die M xDrive die M5 uit draaie skiet is asemrowend. Daar is klomp verkoelingstelsels om seker te maak dat jou M5 nie op ʼn renbaan oorverhit nie. Die remme is koolstofvesel en protesteer glad nie, al jaag ʼn mens heeldag rondte na rondte om Kyalami.

Sedert 1984 met die E28 M5 is BMW se M5 sinoniem met die sakesedan. Die E28 en E34 het sessilinder masjiene gehad. Die E39 was die eerste V8. Een van my gunstelinge was die E60 met sy V10. In 2011 het die eerste V8-turbo M5 sy verskyning gemaak met die F10. Nou het ons die F90, weer eens met ʼn turbo-V8. BMW bestee baie tyd en geld om seker te maak die M5 is hul vinnigste sedanmotor.

Die M5 het ʼn ryk geskiedenis, met twee van die grootste handelsmerke in die motorbedryf agter hom, BMW en M… die kragtigste letter in die wêreld.

Die reeks lyk só:

BMW M5441kW/ 750Nm10.5ℓ/100kmR1 762 806

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die jongste BMW M5 (Foto: BMW)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HPV ·

BMW, die B in die naam staan vir Beste of Baas. Ja die beter een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.