Bekendstelling: Die baas van die baan

Die Renault Clio RS18 F1 (Foto: Renault)

Ek gesels in die volgende paar paragrawe veral met die mense wie se are vol brandstof is. Daar is geen ander luikrug vandag op die mark in Suid-Afrika wat om ʼn renbaan sy man kan staan soos die Renault Clio RS18 F1 nie.

As ek baie slegte wiskunde toepas, oor die twee dae en met die aantal joernaliste wat by die bekendstelling was – skat ek dat elkeen van die Clio’s nie minder as 100 voluit rondes gery het nie. Dit is sonder die opwarm- en afkoelronde. Dit is net aan die laaste paar rondes wat ek kon voel dat die remme gaar is. Dít vir ʼn padvoertuig is regtigwaar indrukwekkend.

Die Renault Clio RS18 F1 (Foto: Renault)

Wat presies is die Clio RS18 F1? Dit is ʼn Renault Clio Trophy soos hier getoets met ʼn unieke kleurskema en beperkte nommers. Die RS18 F1 is gegrond op daai einste Trophy. Dié weergawe is ʼn huldeblyk aan Renault se ryk 40 jaar lange geskiedenis in Formule 1.

Die Clio RS18 F1 bied 162 kW en 280 Nm uit sy 1.6-viersilinderturbopetrolenjin. Krag word na die voorwiele verplaas deur ʼn 6-spoed-dubbelkoppelaarratkas, Renault se EDC (Efficient Dual Clutch). Dié enjin is nie net ʼn spoedvraat nie, en indien mens rustig ry, kan 5.9 ℓ/100 km behaal word. Ons het nie naby daai syfer op die baan gekom nie: 0 – 100 km/h duik op in 6.6 sekondes en hy sal aanhou snol tot 235 km/h. Daardie tyd van 0 – 100 km/h is nie eintlik waaroor die Clio gaan nie – daar is baie gevaarliker masjinerie daar buite wat deesdae in onder drie sekondes 100 kan haal, maar min in dié klas wat om ʼn baan kan gaan soos die Clio.

Die Renault Clio RS18 F1 (Foto: Renault)

Die ontwerp is mooi, en die binneruim netjies. Ek hou van die materiale in die kajuit en die produk voel van ʼn goeie gehalte. Op die pad as mens rustig ry, is ek nie Renault se EDC se grootste liefhebber nie, maar om die baan maak dit sin. In “Race modus” moet mens met die spane agter die stuur ratte wissel, die ratkas sal dit nie self doen nie.

Vir die beperkte nommers, en die feit dat mens regtigwaar dié Clio by baandae kan geniet, is die prys ʼn winskoop. ʼn Motorgeesdriftige gaan nie vir goedkoper só vinnig om ʼn baan kan ry nie.

Die reeks lyk só:

Renault Clio RS 200 Lux147 kW/260 NmR392 900
Renault Clio RS 220 Trophy162 kW/260 NmR438 900
Renault Clio RS18 F1162 kW/280 NmR449 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/30 000 km-diensplan.

Die Clio RS18 F1 het tans nie ʼn direkte mededinger nie. Die Fiesta ST en Polo GTi is nog nie bekendgestel in Suid-Afrika nie. Sy naaste mededinger is seker die MINI John Cooper Works.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.