Bekendstelling: Dié Datsun beïndruk

Die Datsun Go. Foto: Verskaf

ʼn Voertuig wat ek nou al ʼn geruime tyd suksesvol vermy het, is die oorspronklike Datsun Go. Die banksitplek voor en die bakkie-tipe handrem was vir my een stappie te ver. Ek glo tog daar is beslis ʼn mark vir dié tipe voertuig. ʼn Reusemark. Ek dink Datsun gaan nou groot geraas in dié segment kan maak.

Datsun het ʼn lang geskiedenis in Suid-Afrika. Baie mense het iewers iets Datsun raakgeloop. Amper elke gesin het ʼn Nissan 1400 gehad … wat tog sy lewe as ʼn Datsun 1200 begin het. Die SSS’e uit die sewentigs en tagtigerjare was uiters gewild. My kop wandel dadelik terug na die Stanza SSS en die 140 GX Coupé.

Die Datsun Go. Foto: Verskaf

Nissan het in 2013 vir Datsun weer in die lewe gebring as hul intreehandelsmerk. Dit is om bekostigbare voertuie te bied aan verskeie derde wêreld‑gebiede waar prys sensitiewe markte bestaan. Sedert 2014 is reeds 25 000 Datsun Go’s in Suid-Afrika verkoop. Dit is indrukwekkend en beklemtoon die nood aan dié tipe voertuig. Vir party mense is jou voertuig ʼn uitbeelding van jou persoonlikheid – of gereedskap wat jou leefstyl moontlik maak … maar vir ander is dit vryheid en toegang tot ʼn wêreld wat voorheen nie vir hulle bestaan het nie.

Ons het tydens die bekendstelling ʼn draai by Maponya Mall in Soweto gaan maak. Ons roete van daar af was Brooklyn toe in Pretoria. Een van Datsun se werknemers moes daar in ʼn minibus taxi klim en ook by middagete uitkom. Hy het vier taxi’s gevang, op een gedeelte op die vloer gesit en ʼn uur na ons by die restaurant aangekom. Die taxigeld was R130. Die Datsun gebruik slegs 5.2ℓ/100 km, so die trippie het ons ongeveer R70 in brandstof gekos. Ons het in verkeer gesit weens padwerke. Dit is ʼn realiteit vir talle Suid-Afrikaners, en die Datsun Go bied ʼn oplossing.

Die Datsun Go. Foto: Verskaf

Die nuwe Go is aan die buitekant opgeknap met nuwe sierwiele en voorste en agterste buffers. Die groot opknapping kom aan die binneruim met individuele sitplekke voor, ʼn gewone handrem tussen die sitplekke, elektriese vensters en spieëls, ABS met twee lugsakke en die nuwe inligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto het. Die Go+ het tot sewe sitplekke. Die enigste sewe sitplek voertuig in dié segment.

Die Go is aangedryf deur Datsun se 1.2 driesilinderenjin wat 50 kW en 104 Nm bied. Die enjin is gepaard met ʼn 5-spoed handrat. Die enjin en ratkas werk goed saam, mens moet net die omwentelinge hoog hou – dan loop die Go’tjie heel goed. Die wissel aksie van die rathefboom is nie briljant nie – so daar kan beslis aandag aan gegee word.

Verder is die Datsun Go ʼn spotgoedkoop klein stadskarretjie. Dit is ʼn goeie oplossing vir óf eerste kopers óf mense wat begin afskaal. Die veiligheid waaroor almal gehuil het, is nou opgeknap met ABS en lugsakke. Ek was skepties maar is heel beïndruk.

Die reeks lyk só:

Datsun Go MidR144 500
Datsun Go LuxR165 600
Datsun Go+ MidR154 200
Datsun Go+ LuxR175 900
Datsun Go+ paneelwaR155 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en ʼn diensplan is opsioneel. Datsun Go kopers sal een jaar gratis versekering geniet.

Ons sal weer ʼn tydjie met die Go deurbring en sal hom dán met sy mededingers vergelyk.

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann cb ·

Groot verbetering in voorkoms! Lyk taamlik na die uitgaande Micra!

IK ·

Ek haal aan uit die berig: ‘Vir party mense is jou voertuig ‘n uitbeelding van jou persoonlikheid.’ Dit herinner my aan ‘n rektor van Tukkies jare gelede met ‘n VW-kewer. Die prof. het gereeld met sy kewer opgedaag by vergaderings ens. wat hyself bestuur het en dan voor die gebou stilgehou op die parkeereservering ‘REKTOR’. Sy chauffeur was dan vry vir die tydperk en was dus nie saam. Al wat ‘n dekaan ens. is het met hulle chauffeurs en grênd motors opgedaag en verder langs die Volla hul gemerkte plekke ingeneem. Op ‘n vraag aan die prof. dat dit darem buitengewoon is en so half verkeerdom hy met sy Volla en hul met styl was sy antwoord: ‘Onthou dat met julle gee die kar julle status maar met my gee ek die kar status’!! Hierdie is ‘n ware gebeurtenis.

marco polo ·

Ek vermy ook die Datsun Go. Koop eerder n ordentlike tweedehandse voertuig.

Danie ·

Dit kom soms voor dat die oomblik as ‘n voertuig Apple Car Play of Andriod Auto het dan is oningeligte mense dadelik baie beïndruk. Dat maak nie saak van watter gehalte die res van die voertuig is nie. “mens moet net die omwentelinge hoof hou” sê al klaar dat jy hierdie karretjie al kruipende in die heel regterkantse baan gaan kry: “…want die advertensie wys dit is vinnig…”

Stephanus du Plessis ·

Indien Datsun n half ton bakkie uitbring sal ek hom sterk oorweeg. Die Nissan NP200 het geen meer kompetisie nie en ook te duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.