Mense is gewoontediere: As jy iets ontdek wat vir jou reg voel, sal jy aanhou om dit te doen. Party motorvervaardigers volg nie hierdie gewoonte nie, maar as dit by Volvo kom, is dit gelukkig wel die geval. Vir so lank as wat ek kan onthou, is veiligheid sinoniem met Volvo. Volvo het al verskeie mylpale reg oor die wêreld behaal. Hulle sê teen 2020 sal niemand ernstig beseer word of tot sterwe sal kom in ʼn nuwe Volvo-produk nie. In Engeland is hulle reeds daar met die XC90, aangesien daar nog nooit iemand in die VK dood is in ʼn XC90 nie.
Volvo is ook een van die eerste tradisionele vervaardigers wat sê dat daar vanaf 2019 geen Volvo met ʼn uitsluitlik binnebrand-enjin vervaardig sal word nie. Alle modelle sal een of ander vorm van hibridisering hê.
Met die bekendstelling van die XC90 het ons Volvo ʼn ander rigting sien inslaan in terme van ontwerptaal. Volvo’s is tans regtig bitter mooi vir my. Na my mening het Volvo op die oomblik die eenvoudigste, tóg mooiste binneruime in die mark. Mens voel oombliklik tuis. Alles is waar dit hoort, en die gehalte is sigbaar deur die hele reeks.
Die nuwe Volvo XC60 lyk soos ʼn effe kleiner XC90, en dit is regtig nie ʼn slegte ding nie. Die XC60 is Volvo se mediumgrootte sportnutsvoertuig. Dit bied vyf heerlike sitplekke en uiterse weelde. Die kajuit van die XC60 voel baie meer luuks as wat sy prys aandui.
Die Volvo XC60 is een van die veiligste voertuie ooit soos getoets deur Euro NCAP in 2017, en het die hoogste telling gekry met ʼn amper-perfekte 98% vir die volwasse insittende-kategorie. Al Volvo se wêreldberoemde veiligheidstelsels soos City Safety en Pilot Assist verseker dat jy veilig by jou bestemming kom.
Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar: Momentum, R-Design en Inscription. Daar is vier enjins beskikbaar: D4 en D5 aan die dieselkant, en T5 en T6 aan die petrolkant. In alle variasies word krag na vier wiele gebring deur ʼn 8-spoed- outomatiese ratkas.
Vir die kort tydjie wat ons met die XC60 deurgebring het, is dit baie maklik vir my om die XC60 op te som. Indien jy in die luukse mediumgrootte sportnutsvoertuigmark is, kan jy nie die XC60 miskyk nie. Om jou eie XC60 te saam te stel, kliek hier.
Die reeks lyk só:
XC60 D4 AWD Momentum | 140 kW/ 400 Nm | 5.2 ℓ/100 km | R666 000 |
XC60 T5 AWD Momentum | 187 kW/ 350 Nm | 7.3 ℓ/100 km | R686 500 |
XC60 D4 AWD Inscription | 140 kW/ 400 Nm | 5.2 ℓ/100 km | R710 100 |
XC60 D4 AWD R-Design | 140 kW/ 400 Nm | 5.2 ℓ/100 km | R712 400 |
XC60 T5 AWD Inscription | 187 kW/ 350 Nm | 7.3 ℓ/100 km | R730 600 |
XC60 T5 AWD R-Design | 187 kW/ 350 Nm | 7.3 ℓ/100 km | R732 900 |
XC60 D5 AWD Momentum | 173 kW/ 480 Nm | 5.5 ℓ/100 km | R735 700 |
XC60 T6 AWD Momentum | 235 kW/ 400 Nm | 7.7 ℓ/100 km | R738 100 |
XC60 D5 AWD Inscription | 173 kW/ 480 Nm | 5.5 ℓ/100 km | R779 800 |
XC60 D5 AWD R-Design | 173 kW/ 480 Nm | 5.5 ℓ/100 km | R782 100 |
XC60 T6 AWD Inscription | 235 kW/ 400 Nm | 7.7 ℓ/100 km | R782 200 |
XC60 T6 AWD R-Design | 235 kW/ 400 Nm | 7.7 ℓ/100 km | R784 500 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.
Sodra ons meer tyd met die Volvo deurgebring het, sal ons hom met sy mededingers vergelyk.