Bekendstelling: Die Golf R wat SA nog altyd verdien

Golf R. (Foto: Brendon Staniforth)

Suid-Afrika se klimaat is heelwat warmer as dié van Europa en sommige vervaardigers ervaar dít as ʼn groot uitdaging. Dit kan ellelange toetse verg om te sien hoe ʼn produk hom in só ʼn klimaat sal gedra.

Hoewel jare lange toetse nodig was, het Duitsland uiteindelik ingestem om die vol-vet Golf R van 228 kW aan die Suid-Afrikaanse mark te bied.

Ons was onlangs in die Wes-Kaap om te sien wat gaan vir wat. Die roete het by die lughawe begin, oor Du Toitskloofpas in Worcester se rigting. Van daar het ons weggedraai na Villiersdorp by Rawsonville en dán verder na Franschhoek en uiteindelik ná middagete weer terug lughawe toe via die N1.

Uit daardie ongeveer 250 km kan ek met oortuiging sê, die nuwe 228 kW-formaat Golf R is ʼn bergpas-vreter.

Gelukkig is dit nie net bultende spiere nie – ons toetsmotor was toegerus met Volkswagen se R Performance-remme. Ons het regtigwaar die remme beproef, en daar was hoegenaamd geen tekens van protes nie.

Die Golf se karakter is verder opgekikker deur ʼn opsionele Akrapovič-uitlaatpyp van titanium. Die stelsel bespaar 7 kg én verbeter die karakter van die klank. Ek is gek daarna. Akrapovič is bekend vir pasgemaakte uitlaatstelsels vir verskeie sportmotors en is uiters gewild in Europa.

Die binneruim en die ontwerp van die Golf R is onveranderd. Dit is tog nie ʼn slegte ding nie. Die produk is so te sê perfek in die sin dat dit alles kan wees vir die meeste mense. Dit is uiters gemaklik en die bougehalte is uit die boonste rakke. Dit is luuks en die ontwerp stemmig. Ja, daar is beslis warm luikrugmodelle wat vinniger is as die Golf – maar daai karre is dan weer óf uitspattig óf uiters vinnig om ʼn baan, maar baie moeilik om elke dag mee saam te leef. Nie die Golf nie.

Die joernalis wat saam met my was, het ʼn geldige punt gemaak: Porsche behoort aan die groter VW-groep. Mens kan die DNS in die voertuig voel. Dus is dit nie net ʼn Golfie nie – dis ʼn vuurvretende sportmotor wat toevallig vyf sitplekke het en boonop vierwielaandrywing.

Die Golf R. (Foto: Verskaf)

In ons Suid-Afrikaanse klimaat sal ek nie sê ons het vierwielaandrywing nodig nie, maar met 228 kW en 400 Nm is dit soms baie handig. Die lanseerbeheer werk briljant. Die 7-spoed-DSG-dubbelkoppelaarratkas werk uitstekend. As afgeronde pakket glo ek nie daar is beter nie.

Ja, as mens regtig jaag asof jou broek aan die brand is, kan mens hier en daar voel dat die R swaarder is as ʼn GTI – maar dit pla my nie. Waar die R vir my regtig uitblink bó die GTI is wanneer mens die pedaal in die mat begrawe. In die GTI sukkel die voorwiele om by te hou soos hulle sukkel om vas te trap. Die Golf R het nie daai probleem nie. Dis ʼn mik-en-druk-produk. Wys hom waar – begrawe jou voet in die hoek en voel hoe die glimlag oor jou gesig kruip. Dis asemrowend.

Ons sal weer tyd met die Golf R deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse gemaal in die stad gedra.

Dit is baie geld, maar as jy vergelyk wat jy kry vir die geld, is dit eintlik regtig ʼn winskoop,  veral ook aangesien die Golf R vinniger is van 0 tot 100 km/h as ʼn 1994-Ferrari F355. ʼn Tweesitplek-sportmotor met ʼn V8 … Vat só, katvis!

Volkswagen Golf R228 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 kmR676 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Ons sal ná ons ekstra Golf R-tyd hom met sy mededingers vergelyk. Tot dán, gaan toetsbestuur een – maar vat die kredietkaart saam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Judge Dredd ·

Kom ons praat eerder oor wie se bakkie die beste is: Ford Ranger of Toyota Hilux ? :-)

Chris Ws ·

Ai NOU roer jy ‘n “lekker” onderwerp aan!Maar ek ry ‘n 18 jaar oue Isuzu d/k diesel so wat nou gemaak??Ha-ha!Ek weet – kom ons vergelyk onderhouds koste – onderdele spesifiek en brandstof verbruik DAN raak dinge interessant glo my!

Gys ·

Almal weet tog die Landcruiser (of net Cruiser as jy een besit) is die beste bakkie.
Veral die een met ou 4.2 “straight six” diesel.
Met die Nissan Patrol net ‘n kortkop agter hom in die tweede plek.

Asseblief ·

@Gys ek neem aan jy is ‘n boer. Nie almal het so baie tyd op hande om so stadig deur die lewe te gaan met ‘n stadige bakkie nie. Ons kan ook nie ‘n ekstra diesel tank agter op ry nie want ons kry nie diesel subsudie . ‘n Cruiser breek nie want hy kan nie meer as 80km/h ry nie.
@Chris WS—Ek stem saam met jou–kanniedood

Lou ·

Dit klink nou alles baie mooi en lekker om so witwarm vuurwa te ry as jy dit kan bekostig natuurlik, maar die vervaardigers behoort die tipe rygoed met ‘n verpligte gevorderde bestuurs kurses te verkoop. Daar is te veel jong mense met min of geen ervaring en dalk nog ‘n gekoopte bestuurders lisensie wat hierdie blits bukse koop en hulle self en ander mense se lewens verwoes in padongelukke. Lees maar net die nuus vir een week en kyk hoeveel pad sterftes is daar in SA. Die vervaardigers wat die geld maak uit die verkoop van die voertuie moet begin om mede verantwoordelikheid te neem vir die gebruik van hiedie tipe voertuie. “Social responsibility” om die korporatiewe term te gebruik.

Brendon ·

Dagsê Lou,

Baie dankie vir jou kommentaar. Sover my kennis strek, gee VW vir jou ‘n gevorderde kursus gratis met die aankoop van ‘n Golf R. Wat jy sê is wel die waarheid, ek glo dat opleiding ‘n groot invloed op ons padsterftes kan hê.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Adri ·

Interessant. Watse enjin het hy in? Hoeveel cc en silinders? Turbo?

Brendon ·

Dagsê Adrie

Baie dankie vir die kommentaar. Die Golf R word aangdryf deur VW se 2.0 viersilinderturbopetrolenjin. Dit bied 228 kW en 400 Nm.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Siener ·

Dankie vir ‘n lekker lees motor toets. Die meeste duitse voertuie in die 2.0l klas is nie lui om hakstene te wys nie. Ek sou graag die Golf R en die Audi S3 se padtoets teen mekaar wil sien.

Chris Ws ·

Net nog ‘n “moordwapen” wat op ons paaie vrygelaat gaan word.Hulle kan net sowel vuurwapens begin verkoop sonder ‘n lisensie.Ek het terloops my handwapen al 39 jaar en hy het nog niemand se lewe gekos nie.
Ek wil die eienaar van so Golf SIEN wat binne die land se spoed grense gaan hou.Ja ek doen dit want MY Bybel se jy moet die landswette gehoorsaam EN ek wil graag ongeskonde anderkant aankom.

Dieter ·

Chris, beteken dit dus jy betaal e-tol ook?
Dis mos ook verpligtend sover my kennis strek?

Hennie ·

Dagsê is hierdie nou n voertuig kanaal of n nuus kanaal a nee a Maroela kom ons hou dit maar by die nuus gebeure en los die voertuig besprekings vir die Car ens ens

marco polo ·

A nee a, Hennie, dis lekker om oor nuwe rygoed te lees. Dis die enigste plek waar ek kommentaar kan lewer sonder dat dit gesensor word.

koos ·

Amper R700k vir ‘n Golf? Volksmotor? Nee dankie. Sit eerder R300k by ek koop ‘n motor wat weet wat hy wil wees. Mustang kom eerste by my op. Subaru ook nie slegte opsie nie.

Kaptein ·

Jy verstaan duidelik nie waartoe hierdie kar in staat is nie. Gegewe ons kar mark – is die prys nogal goed.

B ·

Wonderlike voertuig! (Maar teenoor die Audi S3 wat omtrent dieselfde kos en ‘n 5j motorplan het?)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.