Bekendstelling: Dié Hyundai die kaatjie van die baan

Die nuwe Hyundai Grand i10 (Foto: Hyundai)

Hyundai het so pas sy opgekikkerde Hyundai Grand i10-reeks bekendgestel. Die gewone i10-reeks val nou weg en word vervang deur ʼn aangepaste Grand i10-reeks. As ʼn waardeproposisie het Hyundai getoor met die nuwe modelle. In Januarie 2018 het Hyundai ook vir Ford verbygesteek as Suid-Afrika se derde beste verkoper, net agter Toyota in eerste en VW in tweede posisie.

Daar is drie spesifikasievlakke, twee enjins en twee ratkaste beskikbaar. Daar is Motion, Fluid en Glide. Dan kry jy ʼn 1.0-driesilinder-petrolenjin met 48 kW en 94 Nm. Die 1.25-viersilinder-petrolenjin bied 64 kW en 120 Nm. Op die pad voel die 1.25 indrukwekkend sterk en regtig lig op brandstof. Ons toetsroete het so 190 km gedek, ʼn gekombineerde brandstofverbruiksyfer van 5.7 ℓ/100 km is gehandhaaf en ons het nie regtig rustig gery nie.

Van buite lyk die Grand i10 modern en modieus. Die nuwe sierwiele rond die pakket mooi af en daar is ʼn magdom helder kleure om jou persoonlikheid uit te beeld. Dit is aan die binneruim waar die Hyundai my regtig beïndruk. Die bestuurdersitplek kan op en af stel, asook die stuurwiel. So, mens is verseker dat jy gemaklik kan sit, ongeag jou vorm of grootte. Die rathefboom se wisselaksie is moeiteloos, glad en akkuraat.

Die nuwe Hyundai Grand i10 (Foto: Hyundai)

Die Grand i10 voel baie groter as wat sy proporsies wys. Die i10 kan tog as luuks beskou word. Daar is kragstuur, elektriese vensters, lugreëling, Bluetooth, lugsakke, ABS, die hele toetie … tot flikkers wat drie keer wys as jy dit net tik. Daar is kontroles vir die klankstelsel en Bluetooth op die stuurwiel en die inligtingstelsel kan navigasie bied, teen ʼn koste van R2 500. ʼn Winskoop na my smaak. Daar is tot ʼn volle aanboordrekenaar wat brandstofverbruik en reikafstand wys.

Vir baie mense is die gevoel van ʼn kar nie belangrik nie. Dit is net ʼn stuk gereedskap waarmee hulle werk toe en huis toe ry. Dit is wel vir dié wat dit wel geniet om lekker te ry, in ʼn gemaklike pakket, met ʼn opgewonde enjin en ʼn goeie ratkas wat die Grand i10 gaan waardeer vir die karretjie wat dit is. Op die pad voel die Grand i10 soos ʼn groter, duurder en luukser ryding as wat sy prys en klas voorstel. Die Hyundai Grand i10 maak my bly as ek met hom ry, en dít is waaroor karre gaan.

Die reeks lyk só:

Grand i10 1.0 Motion handrat48 kW/94 Nm5.4 ℓ/100 kmR149 900
Grand i10 1.0 Motion outo48 kW/94 Nm5.9 ℓ/100 kmR169 900
Grand i10 1.0 Fluid handrat48 kW/94 Nm5.4 ℓ/100 kmR169 900
Grand i10 1.25 Fluid handrat64 kW/125 Nm5.9 ℓ/100 kmR189 900
Grand i10 1.25 Fluid outo64 kW/125 Nm6.4 ℓ/100 kmR206 900
Grand i10 1.25 Glide handrat64 kW/125 Nm5.9 ℓ/100 kmR202 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se indrukwekkende 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg. Die twee hoër spesifikasievlakke, Fluid & Glide, kry albei ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan gratis by.

Ons sien uit na ons week met die Grand i10. In daai berig sal ons die Grand i10 deeglik met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

raaitjie ·

Ek stem heeltemal saam, dit is n Oulike Motor maar net n bietjie duur.
Ek wou n Hyundai koop maar het toe besluit op SUZUKI 1.2, Want die prys was bekostigbaar en my terug betaling is ook nie so Hoog soos op n Hyundai, bygese dan ook was die Handelaar van Suzuki baie Eerlik en nie soos met Hyundai wat my my die Duurste van Al die Modelle wou laat koop en Sommer dadelik wou laat teken. Met Suzuki was ek Tyd gegee en kon ek n Sorglose Besluit neem sonder Pressure.

Viva Suzuki Indeed.

Chris Ws ·

Raaitjie dis jammer dat jy deur ‘n oorgretige verkoopsman afgesit is van die Hyundai.Hyundai bou beslis beter voertuie as Suzuki’s so ek hoop nie jy gaan na ‘n tyd spyt kry nie.As ek na die Hundaitjie se waarborg kyk glo ek nie eers die duurste Duitse motors kan naby kom op daai gebied nie.Mag jy baie genotvolle kms in jou Suzuki beleef.

anton ·

Ek het die voorreg gehad om in 2012 vir my n i10 te kon koop en moes na 2 jaar dit weer verkoop a.g.v omstandighede.
Maar dit was seker die beste waarde vir geld motor wat ek ooit besit het.
Ek het hom vreeslik geniet in alle opsigte waarvan sy werksverigting vir so n klein masjientjie my baie verbaas het.
Ek moet se, ek mis hom steeds en sal graag weer een ry as die geleentheid daar sou wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.