Bekendstelling: Dié Keimotor is oukei

Suzuki Ignis 1.2 GLX (Foto: Suzuki)

Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het die Japannese regering riglyne ingestel wat voertuie onder ʼn sekere grootte en enjinkapasiteit aanmoedig. Van toe af het daar ontsaglike moeite met en ontwikkeling aan dié tipe motors gevolg. Japan se Keikar is baie dieselfde as die Italianers se Fiat 500, Engeland se Morris Mini en so aan.

Suzuki het onlangs gesê hy gaan fokus op dit waarmee dié motorvervaardiger goed is – dit is klein, eenvoudige en betroubare rygoed. Die Ignis is presies só ʼn motortjie. Gegrond op dieselfde modulêre platform as die Suzuki Baleno baat die Ignis ook by die ontwikkelings wat dié onderstel bied, veral die gewigbesparings.

Dié Ignis weeg slegs 850 kg en word deur ʼn juweel van ʼn 1.2 liter-viersilinder-petrolenjin aangedryf. Ons het by die bekendstelling slegs kans gehad om die vyfgang-handrat te toets, maar daar is ʼn vyfgang-AMT (Automated Manual Transmission) ook beskikbaar.

Suzuki Ignis 1.2 GLX (Foto: Suzuki)

Ek is gek na Suzuki se atmosferiese petrolenjins. Dié enjins kan lekker rustig in die dorp rondploeter teen indrukwekkende brandstofverbruiksyfers, maar indien jy krag nodig het, skakel jy net ʼn rat of twee terug, sit voet in die hoek en hoog op in die toerestrek is daar ʼn lekker bandjie krag wat vir jou wag. Op die bekendstellingsroete het ons ʼn indrukwekkende 5.4 ℓ/100 km gehandhaaf – en ek en my bestuursmaat het ook soms redelik hard gery.

Suzuki noem die Ignis ʼn “kompakte sportnutsvoertuig”. Ek gaan nie heeltemal saamstem nie. Die Ignis het wel ʼn lekker hoë bestuursposisie en klasleidende grondvryhoogte van 180 mm, maar die Ignis bly wel ʼn voorwielaangedrewe luikrugmotortjie. Hoewel die buiteproporsies regtig oulik en klein is, beïndruk die ruimte in die kajuit asook die kattebak se grootte. Die materiale in die binneruim is van goeie, duursame gehalte en die Ignis wil lyk of hy baie goed aanmekaargesit is.

Suzuki Ignis 1.2 GLX (Foto: Suzuki)

Die Ignis is goed toegerus met klimaatbeheer, Bluetooth vir jou foon en musiekkoppeling, asook die magdom standaardveiligheidstelsels soos ABS, lugsakke, remkragverspreiding en so meer. ʼn Nie-identies gespesifiseerde Europese model het ʼn indrukwekkende 4-ster-gradering gekry in die gewilde Euro-Ncap-toets. Indrukwekkend vir ʼn klein motor!

Die ruk wat ons met die Ignis deurgebring het, was regtig lekker. Dit is ʼn eenvoudige, goedkoop motor wat meer bied as net ʼn ryding. Dié Ignis gaan ʼn mode-item word, glo ek – kyk net na hom … Aitsa!

Ons sal binnekort meer tyd met die Ignis deurbring en ʼn meer indiepte-resensie doen oor ritgehalte en brandstofverbruiksyfers aan die platorand asook ʼn vergelyking met hoe hy vaar teen sy mededingers.

Die reeks lyk só:

Ignis 1.2 GL 5MTR169 900
Ignis 1.2 GLX 5MTR189 900
Ignis 1.2 GLX 5AMTR204 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann cb ·

Die binnerui, paneelbord, lyk nogal heelwat…aangelap! Andersins heel oulik, tog duur vir sy klas en grootte…

Org ·

Oulike motortjie Ek Krystal 17.3 km/liter in die stad verkeer

Andre ·

Selfde prysklas as die groter Renault Stepway,maar die enjin behoort meer betroubaar as die 0.9T te wees.
Suzuki het nou n klompie lekker karre

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.