Bekendstelling: Dié Lexus bied betroubare luuksheid

Die nuwe Lexus NX 300 F Sport (Foto: Lexus)

Suid-Afrikaners is in 1994 blootgestel aan die eerste Lexus-produk in die land: Die LS 400. Dit was ʼn superluukse groot sedanmotor met ʼn tjoepstil V8-enjin. Dit was ʼn rigting waarheen ons nog nie veel Japanse handelsmerke gesien beweeg het nie. Party was skepties en party was gek daarna. Deur die jare het Lexus sy reekse uitgebrei en getrou gebly aan hibridiesedryfstelsels. Elkeen van die modelreekse het ʼn hibridiese model.

Een van die jonger voertuie is die Lexus NX. Die NX is in 2015 in Suid-Afrika bekendgestel en daar is in 2017 ʼn totaal van 252 Lexus NX-modelle verkoop. Vir ʼn klein volume handelsmerk soos Lexus glo ek dit is heeltemal in die kol, maar sal nou baie verbeter met die byvoeging van ʼn voorwielaangedrewe intreemodel, die Lexus NX 300 E. Dié model betree die mark teen ʼn mededingende R599 900. Hoewel dit die goedkoopste in die reeks is, het die E-spesifikasievlak geensins ʼn goedkoop spesifikasielys nie.

Die nuwe Lexus NX 300 F Sport (Foto: Lexus)

Die NX 300 E het op die bekendstellingsroete lieflik gery. Die NX bly uiters gemaklik en die bougehalte is uit die boonste rakke.

Die E het spoedbeheer, dagligte, outomatiese deurslotte, slimtoegang, dubbelsone-klimaatbeheer, banddrukmonitorstelsel, Aux; USB en Bluetooth op die radio vir jou slimfoon, draadlose slimfoonlaaier, 8-luidspreker klankstelsel, outomatiese ruitveërs, sintetiese leerbekleedsel, elektries verstelbare sitplekke, 17”-wiele, truratkamera en elektroniese kantspieëls. Die enjin bly dieselfde regoor die reeks, behalwe in die hibridiese model. Dit is ʼn 2,0 viersilinder-turbopetrolenjin wat 175 kW en 350 Nm bied. Die hibridiese model gebruik steeds die 2,5 vierslinder-petrolenjin. Die stelsel bied 150 kW. Die petrolenjin alleen bied 210 Nm, maar Lexus bied nie ʼn syfer van hoeveel wringkrag bygevoeg word nie. Ek sou skat dit is in die omgewing van 100 Nm.

Ons het onlangs die hibridiese model getoets, maar ek moet bieg dat die nuwer 2,0 turbopetrolenjin ʼn baie lekkerder enjin/ratkas-kombinasie is. Die turbomodelle het ʼn gewone sesspoed outomatiese ratkas wat vir my ʼn lekkerder bestuurservaring bied as die hibridiese model se palwisseltransmissie. Die volgende twee modelle, die NX 300 EX en NX 300h EX het ʼn selfverduisterendetruspieëltjie, sitplekverwarmers, parkering-afstandbeheer, navigasie, 18”-wiele en dakrakke.

Die nuwe Lexus NX 300 E (Foto: Lexus)

Die NX 300 F Sport troon bo aan die reeks. Dié model kry bo en behalwe al die ander modelle se spesifikasies nog ʼn tien luidspreker klankstelsel, bestuurdersitplekgeheue, verhit en verkoelde sitplekke, F-Sport leerbekleedsel, 18” F Sport-wiele, panoramiese glasdak, selfverduisterende kantspieëls, elektroniese kattebakdeur, adaptiewe veranderlike vering, lumbale-steuning, baanbeheer met blindekolmonitorstelsel en LED-hoofligte.

Ons het die F-Sport model ook by die bekendstelling beproef en die sportiewe binneruim laat ʼn mens vertroetel voel. Indien die hoë spesifikasievlak van die F Sport nie vir jou belangrik is nie, ry die NX 300 E vir my sagter en is die winskoop van die reeks. Indien vierwielaandrywing ʼn vereiste is, glo ek sal die NX 300 EX die mas mooi opkom.

Lexus bou deesdae pragtige motors en werk uiters hard daaraan om van die vervelige-beeld ontslae te raak. Ek glo die NX kry dit mooi reg. Mens kry hier Toyota-vlakke van betroubaarheid, met Lexus-vlakke van luuksheid – ʼn wen-wen in my boekie.

Die reeks lyk só:

NX 300 ER599 900
NX 300 EXR677 300
NX 300h EXR746 700
NX 300 F SportR789 700

Die reeks word gedek deur ʼn vier jaar/ 100 000 km-waarborg. Die E-model het ʼn Lexus Distance Plan diensplan, EX-modelle ʼn Distance Plan Plus wat remkomponente insluit en F Sport-modelle ʼn Distance Plan Complete volle instandhoudingsplan. Alle planne is vier jaar/ 100 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vraagteken ·

Dit gaan my verstand te bowe dat ons nie meer Lexuse op die pad sien nie. Hulle bougehalte is van hoë standaard en hulle is uiters betroubaar.

Hierdie sogenaamde “German Engineering” voertuie is glad nie hoë kwaliteit nie. Daar is ‘n rede hoekom hulle nie tweedehandse waarde het nie.

Vote for Freedom!
Vote for Quality!
Vote for Lexus!
:):):)

zack ·

Vraagteken—Niks persoonlik teen Lexus nie
Om jou vraag te antwoord. Dis te veel geld vir ‘n gemiddelde voertuig. Dis waarom jy meer duitse voertuie sien op ons paaie. Die publiek soek waarde vir hul geld.

En ja —Geen voertuig het goeie inruilwaarde nie. Slegs as jy jy by dieselfde maak voertuig inruil sal jy ‘n goeie inruil waarde kry.

Vraagteken ·

Zack, ek weet nie of ek saamstem nie. Vat die IS250 byvoorbeeld; hy gaan defnitief langer as 10 jaar of 300 000km hou- die duitse voertuie gaan sukkel om dit te maak sonder dat iets groot foutief gaan (om nie eers te praat van herstel kostes nie).

Die lexus is gemiddeld 2-5db stiller as die duitse voertuie van die dieselfde prys teen 120km/h. Boonop dit, alles is ‘n ekstra op duitse voertuie, waar lexus meeste as ‘n standaard toevoeg (kyk maar na die GS en vergelyk hom met die 5 reeks). Meeste duitse voertuie op die pad het nie al die ‘bells and whistles’ standaard nie – dis hoekom hul prys beter is. Duitse voertuie word in Suid-Afrika gekoop vir status, en niks anders nie.

Daar is ‘n rede hoekom Toyota so goed in Suid-Afrika doen en dit is omdat hulle motors hou. Doen jouself ‘n guns en gaan toetsbestuur een. Ek is seker jou opinie kan dalk net verander.

Ek sal dit wel erken – hulle is so bietjie “BORING”.

Mornay ·

Kyk of luister n bietjie mooi al die ander soort voertuie wat se motors onklaar raak veral “Bakies” vervang hul die motors met n Lexus v8 die een wat Brendon van praat

Hul moet hom nog net in n PRAM bou

ek wag nog net vir n Lexus D kajuit “Bakie” dan koop ek een

Zack ·

Stem saam. Die lexus V8 is ‘n goeie motor wat jy kan optel vir R20 000 +.
Dit maak finansieel sin want nuwe motors is mal pryse (R100 000 plus)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.