Bekendstelling: Dié luikrug laat loop

Die Renault Megane RS280 . Foto: Verskaf

Renault het gister sy splinternuwe Megane RS280 aan die Suid-Afrikaanse media bekendgestel by Aldo Scribante-renbaan in Port Elizabeth. My eerste ervaring met ʼn Megane RS, én my eerste ervaring van Scribante … om te sê ek was opgewonde, is om dit lig te stel.

Die nuwe Megane is regtig ʼn mooi luikrug. Die lyne is netjies en die ontwerp is vir my regtig mooi. Die wyer “boude” gee die Megane ʼn sportiewe voorkoms. Die binneruim is netjies uitgelê en die bougehalte is indrukwekkend. Die Alcantara-sitplekke is voorwaar gemaklik en bied al die nodige steun in die regte plekke. Die stuurkolom kan vir reik en kantel stel, ʼn mens is dus gou gemaklik.

Die Renault Megane RS280 . Foto: Verskaf

As ʼn mens praat van die RS-model, dan is die belangrikste inligting seker die kragsyfers. Renault se splinternuwe 1.8-viersilinder-turbopetrolenjin bied 205 kW en 390 Nm. Daar is twee ratkaste beskikbaar, handrat en EDC outo … Die handrat is slegs beskikbaar by die Cup-model. Let wel, 0–100 km/h duik op in ʼn ratse 5.8 sekondes. Die Lux sal aanhou draf tot 250 km/h en die Cup effe meer op 255 km/h.

Die verrassing van die hele pakket is die onderstel, en 4CONTROL. Dié Megane RS is met vierwielstuur toegerus. Onder 60 km/h sal die agterwiele tot en met 2.7 grade in die teenoorgestelde rigting draai as die voorste wiele om die kar makliker te laat draai.

Die Renault Megane RS280 . Foto: Verskaf

Bo 60 km/h, of 100 km/h in RACE-modus, sal die agterwiele in dieselfde rigting as die voorwiele draai om beter stabiliteit te bied. Dit klink dalk soos toordery, maar ek’t dit nou by die Megane en voorheen by ʼn Porsche ervaar, en die resultate is asemrowend. Die behendigheid wat dit bied, is fantasties, veral in noodsituasies waar ʼn mens moontlik vir iets moet uitswaai.

Die vering is soepel sonder enige bakrol, en die Megane wat bekend staan as ʼn bobaas-renbaanspeelding ry tog seepglad al raak die pad effe sleg.

Die Renault Megane RS280 . Foto: Verskaf

Ons sal binnekort weer tyd met die Megane RS deurbring. Die nuwe enjin is regtig sterk, die kar is mooi en die gehalte goed. Die EDC-ratkas is nóg beter as wat ek al voorheen ervaar het en die Megane RS280 het vier deure. Daar is dus vir my in hierdie stadium nie een slegte punt van die voertuig nie. Ek sal maar verder soek as ons hom deegliker toets. Wat ek wel weet, sy prys is regtig goed as ʼn mens hom met sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

Megane Expression84 kW/156 Nm6.4 ℓ/100 kmR274 900
Megane Dynamique handrat97 kW/205 Nm5.3 ℓ/100 kmR314 900
Megane Dynamique outo97 kW/205 Nm5.4 ℓ/100 kmR344 900
Megane RS280 Lux EDC205 kW/390 Nm7.0 ℓ/100 kmR549 900
Megane RS280 Cup handrat205 kW/390 Nm7.2 ℓ/100 kmR549 900

Die reeks word gedek deur Renault se 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle op die Megane is 15 000 km en op die Megane RS is dit 10 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.