Bekendstelling: Die nuwe BMW R 1250 GS en GS Adventure

Die BMW R 1250 GS Adventure (Foto: Verskaf)

Toe die BMW-uitnodiging na die bekendstelling van die nuwe R 1250 GS en GS Adventure in KwaZulu-Natal kom, was ek baie opgewonde.

Ek het so ʼn paar jaar gelede Sanipas toe gery, en iemand het aanbeveel dat ek na Himeville ry al met die stofpaaie langs. My vordering was pynlik stadig. Nie omdat die pad so sleg was nie, maar omdat ek elke 100 m wou stop vir ’n foto. Ek het geweet dat twee dae op ’n GS in daardie omgewing baie besonders sou wees.

Ek dink nie een persoon wat al motorfiets gery het, weet nié wat die BMW GS is nie. Dit word wyd beskou as van die beste avontuurfietse op die mark vandag. Die verkoopsyfers vertel ’n soortgelyke storie.

Vir 2019 is die bokserenjin verder verfyn met BMW se Shiftcam-tegnologie en ’n nuwe uitlaatstelsel. Die kapasiteit het met 74 cc gegroei en staan nou op 1 254 cc. Kraglewering het nou die 100 kW-merk bereik, en die wringkrag is ’n lywige 143 Nm.

Die BMW R 1250 GS (Foto: Verskaf)

Wat die wringkrag betref, maak die Shiftcam-tegnologie die enjin baie meer lewendig. Die stelsel verstel die klepopening na gelang van die lading op die enjin. ’n Paar van die manne wat weet hoe om ’n GS se stert uit te gooi, het gou besef hulle sal hierdie fiets anders moet benader. Waar die vorige model se krag skielik ingekom en dan greep op die pad verloor het, is die nuwe enjin só glad dat jy baie meer aggressief moet wees om mooi te lyk op die foto.

Ons het die eerste dag byeengekom in Umhlanga, waar Chris Modise, nasionale verkoopsbestuurder van BMW Motorraad, ons vertel het van al die nuwe eienskappe van die fiets. Daarna is ons in twee groepe gedeel. Een groep sou die standaard-GS vat, die ander groep die GS Adventure. Ek het die Adventure gekies vir die eerste dag se roete tot by die Drakensberg Sun.

Die Adventure is ’n groot fiets. Die brandstoftenk hou 10 ℓ meer as die standaard-GS, en jy sien dit sommer as jy gaan sit. Die Adventure bied onder meer ’n groter skerm, LED-dagryliggies en beskerming om die enjin bo die standaard-GS.

Die BMW R 1250 GS Adventure (Foto: Verskaf)

Die nuwe TFT-skerm is, na my mening, die grootste verbetering op die GS. Die ou instrumentasie was nog nooit vir my aantreklik nie. Die skerm vertoon ’n magdom inligting en word maklik beheer met kontroles op die linkerhandvatsel. Natuurlik kan jy die fiets koppel met jou slimfoon ook.

Een van die ryers het op dag twee ’n pap band gekry en is baie duidelik deur die nuwe skerm beveel om onmiddellik te stop. Dít is baie meer opvallend as ’n gewone gevaarliggie op ouer modelle. Die nuwe reeks het ook snelskakeling. Daar word beweer dat die stelsel verbeter is, maar eers van derde rat af op werk dit glad. Ek moes steeds die koppelaar inspan op die laer ratte.

Op die pad het die imposante Adventure my beïndruk. Al die fietse was toegerus met stofpadbande, en die eerste paar draaie op koue rubber was senutergend. Namate die dag gevorder het, het ek besef dat ek met baie meer vertroue ry as voorheen. Selfs toe ons afklim van die teer het ek heel op my gemak gevoel.

Die BMW R 1250 GS Adventure (Foto: Verskaf)

As jy grondpad ry, hanteer jy jou voorrem met die uiterste versigtigheid. Die man van BMW het ons egter met groot vertroue vertel dat jy maar ’n handvol voorrem kan gryp. In die Enduro Pro-ryprogram skakel sluitwering op jou agterwiel af, en 80% van jou reminset gaan na jou voorrem en die res na agter. Sluitwering bly aan op die voorrem. Hoe meer ek die voorrem gebruik het, hoe meer het my vertroue in dié stelsel toegeneem. My gemiddelde spoed op die grondpad het merkbaar verbeter.

Die volgende oggend was ek op die standaard-GS en dié weergawe het vir my amper anoreksies gevoel teenoor die Adventure. Ek was bly, want ons was skaars weg, toe tref ons ’n tweespoorpaadjie al langs ’n treinspoor. Los klippe, modder en takke het my geteister. As jy voor ’n bultjie staan en jy sien net los klippe, dan kyk jy maar net op, gee petrol en hou vas. Selfs hier het die standaard-GS saam met die Adventure gery. Ná die tegniese stukkie kon ek net weer die oop stofpaaie van KwaZulu-Natal waardeer.

Die BMW R 1250 GS Adventure (Foto: Verskaf)

Die nuwe R 1250 GS is ’n merkbare verbetering op die oue. Die verskil tussen die twee nuwe modelle is egter so gering dat ek amper nie die nut van die Adventure kan sien nie. Ek moet sê dat die Adventure se groter skerm en groter brandstoftenk ’n lang toer gemakliker sal maak. As jou randjies dus nie rek tot by die Adventure se prys nie, sal jy glad nie ’n minderwaardige fiets koop as jy die standaard-GS koop nie.

Tyd op ’n fiets in mooi natuurskoon bly een van my groot vreugdes en my twee dae op ’n GS sal my lank bybly.

Pryse:

R 1250 GS

Full Spec                   R263 000
Style Exclusive           R265 700
Style HP                    R275 000

R 1250 GS Adventure

Full Spec                   R288 900
Style Exclusive           R297 400
Style HP                    R299 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietsepan ·

Uitstekende motorfiets. Nuwe remme is uiteindelik met dié van die Yamaha vergelykbaar. Die pryse is darem buitensporig.

Gys ·

Nee man, maak net jou ogies toe en teken op die stippellyn.
Vroulief en die kinders moet maar net eenvoudig opofferings maak.
Dis immers vir ‘n goeie doel.
Minder klere en grimering.

Gys ·

Ja, dis duur vir ‘n fiets.
Maar indien jy die fiets gebruik waarvoor hy bedoel is (lang toere), gaan jy met baie mooi herinneringe en foto’s beloon word.
Om met ‘n fiets deur die Baviaans, Karoo, Sederberge, Wildekus en Namibië te ry, is net soveel beter as om dit in ‘n voertuig te doen.
Dit maak die prys deur en deur die moeite werd.
As jy egter die fiets net gebruik vir pendel en so elke nou en dan ‘n kort “breakfast run”, is dit waarskynlik te duur.
So bederf jouself met ‘n avontuurfiets. Enige maak. Jy verdien dit.

marco polo ·

Is dit nou 1250 of 1200? Die foto’s wys almal 1200, maar die berig praat van 1250.

Brian Cheyne ·

Marco polo, dit is almal die 1250. Daar het ‘n vingerfoutjie ingesluip met die foto’s se benaming…

Mariné Lourens ·

Dagsê Marco

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit moet inderdaad 1250 wees. Die onderskrifte is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

KrokidilBotha ·

Gits, n glorified padfiets. Grond , sand , hahaha. Jy sal jou alie sien. Nee man BMW benon@r al lanal die publiek met bemarking, kamstig n enduro geadveteer op n staduim. Shame

Stripes ·

Kan nou nie saam met KrokidilBotha stem nie. Ek self ry die 800 GSA en my seun die 1250. Met my 800 ry ek vanaf Mosselbaai na Secunda onder 14 uur en is nog net so vars as wat ek was toe ek begin het. Ek ry altyd alleen want ek stop waar ek wil, wanneer ek wil vir wat ek wil. Sand, klippe, teerpad of grondpad maak nie saak nie. Baviaanskloof en die Gamkaskloof gedoen en ry verder die area vrot. Ek kan dit doen want ek is nie bekommerd oor ‘n fiets wat gaan breek of dat ek in ‘n situasie gaan kom wat die fiets nie kan hanteer nie. Ek het die 1250 al baie gery asook die enduro wat natuurlik my 800 laat voel soos ‘n ou beetle teen ‘n Mercedes. As ek een kon bekostig sou ek defnitief die Enduro gery het. Jy sal ook ver moet gaan soek om by BMW se waarborge en hul “goodwill” te oortref.

Hannes ·

Krokodil (met 2 o’s en 1 i) moet darem net vir ons sê met watse fiets ry hy, en watse roetes hy al gery het.
Dis nou as hy een het.

Ian ·

Ek het self die 2017 GSA en gebruik hom vir lang toere ens. WOW is al wat ek kan se rakende wat ek sien en die foto’s wat ek neem. Baviaans, moordenaars Karoo en Sederberge is my gunsteling plekke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.