Bekendstelling: Die sportnutskoning?

Foto: Verskaf

Ek moet bieg dat ek nooit die Porsche Cayenne verstaan het nie. Ek kon nie dink hoekom Porsche in die sportnutsarena wou meeding nie. Ek was gister in die Wes-Kaap saam met Porsche by die bekendstelling van die splinternuwe Cayenne, en nou verstaan ek – mooi duidelik.

Mens moet só daarna kyk. ʼn Porsche is deur en deur ʼn sportmotor. Mens kan dan van vyf verskillende soorte bakwerk kies. Die 718 is ʼn klein, tweesitplek-sportmotortjie met die enjin in die middel, met óf ʼn afslaandak in die Boxster, of ʼn koepee in die Cayman. Die 911 is die groot baas met 2 + 2 sitplekke en sy enjin agter. Die Panamera is ʼn ware viersitplek- luukse sedan.

Foto: Verskaf

Die Panamera Sport Turismo is ʼn vyfsitplek-stasiewa. Die Macan is ʼn mediumgrootte sportnuts en dan is daar die groot meneer, die Cayenne. ʼn Ware vyfsitplek-sportnutsvoertuig, met egte veldryvernuf. Ek sê veldryvernuf spesifiek, en nie 4×4 nie. Ek sou nie klipberge met my Cayenne klim nie, maar duine, grondpaaie en strande sal hom nie skrikmaak nie.

So, daar is dus vyf basismodelle waarop die Porsche-reeks homself grond, maar hulle het almal een ding gemeen. Hulle is ware sportmotors, van hulle lyk net anders. Daar is vier verskillende Cayennes tans beskikbaar. Die intree-Cayenne, dan ʼn S met meer krag en beter spesifikasievlak, dan ʼn E-Hybrid met hibridiese dryfstelsel en laastens die vuurvretende reeksleier – die Turbo.

Foto: Verskaf

My gunsteling in die reeks is beslis die Cayenne S. Dit is die beste harmonie tussen verrigting, spesifikasie, gevoel en prys. Die Cayenne se onderstel deel DNS met VW se Touareg, Audi se Q7, Lamborghini se Urus en Bentley se Bentayga. Goeie geselskap wat my betref, en mens kan voel dat daar behoorlike navorsing en ontwikkeling in die produk gegaan het.

Op die bekendstellingsroete het die Cayenne S my uit die veld geslaan met sy padhouvermoë op ʼn nat Franschhoekpas. Brandstofverbruik is aanvaarbaar as mens die bestuurstyl in ag neem. Die verrigting is asemrowend. Ons het daarna die gewone Cayenne gery. ʼn Puik intreevlak wat vir die meeste mense meer verrigting en spesifikasie bied as wat hulle ooit in ʼn kar sou benodig. Ná middagete was dit ons beurt met die angswekkende Cayenne Turbo.

Foto: Verskaf

As motorjoernalis word mens se asem nie gereeld weggeslaan nie. Ons raak krag gewoond, en partykeer kry ʼn voertuig dit reg om jou asem weg te slaan omdat jy bang is – nie met die Cayenne nie. Die krag en verrigting in die Cayenne is uiters barbaars – maar die Porsche-ingenieurs het dit reggekry om die perde te tem. Al 550 van hulle. Daai 550 perde het 770 Nm-wringkrag, en die krag word na al vier wiele gestoot deur ʼn agtspoed- Tiptronic S-ratkas.

Die padhouvermoë van die Cayenne is vir my ʼn raaisel. Mens moet ʼn hele kopskuif maak om te besef waartoe die Cayenne in staat is. ʼn Gedeelte daarvan is te danke aan vierwielstuur, en ʼn ander gedeelte is danksy nuwe lugvering.

Foto: Verskaf

Is daar enige probleme? Nie regtig nie. Ek sou graag meer geraas wou hê, dalk stel Porsche nog sy active exhaust beskikbaar op ʼn toekomstige GTS-model? Die Turbo het vir my baie windgeraas gehad om die passasiersdeur, maar die wind het storms gewaai langs die see, so mens sou dit weer op ʼn windstil dag moes toets om te sien of daar wel ʼn probleem is, en dit was slegs op daai een model. Indien jy nog altyd gewonder het oor ʼn Porsche – gaan loer in by die handelaar en toetsbestuur een, jy sal verbaas wees.

Die reeks lyk so:

ModelKragEnjinTopspoed0–100 km/hBrandstof-verbruikPrys
Cayenne250kW/ 450Nm3.0 V6 turbo245 km/h5.9 sek9ℓ/100kmR1 142 000
Cayenne S324kW/ 550Nm2.9 V6 turbo265 km/h4.9 sek9.2ℓ/100kmR1 296 000
Cayenne E-Hybrid340kW/ 700Nm3.0 V6 turbo253 km/h5 sek3.2ℓ/100 kmR1 690 000
Cayenne Turbo404kW/ 770Nm4.0 V8 turbo286 km/h3.9 sek11.7ℓ/100kmR2 158 000

Die reeks word gedek deur Porsche se omvattende 3 jaar/100 000 km-Driveplan-instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

eugene ·

hy lyk maar vaal van voor af
BMW se X6M bly koning in sy klas dink ek
Urus gaan die wereld se ‘minds blow’

Johann cb ·

En só kan slegs sommige van ons hierdie peperduur nutsvoertuig bekostig! Ek is beslis nie een nie!

Hannes ·

Baie mooi voertuig en goeie kwaliteit, maar met daai geld koop ek eerder nog ‘n vliegtuig.

Danie ·

Dit is wat ‘n sportnutsvoertuig moet wees. Dit moet gebou wees om mee te ry. Dit moet goeie padhouvermoë hê. Dit moet ‘n sterk enjin hê. Al die blink goetertjies en ornamente waarmee die ander deugniet voertuie spog is op die oog af hier afwesig. Die voertuig is gebou vir bestuur nie vir fliek kyk nie.

Dit is seker waarom die deugniet voertuie al die blink goetertjies het: om jou aandag af te trek wanneer ‘n Porsche teen ‘n bergpas op by jou verby vlieg. Omdat die Porsche kan en omdat jy nie oor die afgrond gaan stort wanneer jy daarmee vinnig ry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.