Bekendstelling: Die tafste Duster

Renault Duster (Foto: Verskaf)

Dit is regtig lekker as ʼn kar goed is. Dit is lekkerder as hy goed is in ʼn klomp verskillende aspekte. Een só ʼn lekker kar is die nuwe Renault Duster.

Hy is ruim en baie goeie waarde. Hy is lig op diesel en lieflik sag geveer. ʼn Uitblinker vir ʼn medium-grootte gesinsmotor. Die Duster is nou uiteindelik nóg beter gemaak met die bekendstelling van die 4WD-model.

So, neem ʼn gewone Duster met al sy goeie eienskappe, gee vir hom 4×4 en jy sit dán met ʼn 4×4 wat maklik baie verder sal gaan as wat die meeste mense verwag. Dit is ʼn bekwame 4WD-voertuig met sitplek vir vyf en ʼn dieselenjin wat 5,2 ℓ/ 100 km kan handhaaf – vir R327 900. Dis indrukwekkend.

Soos ek met die bekendstelling gesê het – die voertuig is amper perfek. Die bougehalte is baie verbeter van sy voorganger, dit is luuks en ruim, die vering is lekker sag, daar is ʼn groot kattebak, daar is ʼn goeie spesifikasievlak met navigasie, CarPlay én Android Auto.

Renault Duster (Foto: Verskaf)

Ja, ek sal graag die 4WD met Renault se EDC (Efficient Dual Clutch) wou gesien het – maar daai ratkas het nie 4WD-vermoë nie.

Die handrat in die nuwe Duster 4WD bly ʼn sesspoed. Die eerste rat is steeds so kort vir 4×4 doeleindes – maar ek is baie bly dat hulle die vyfde en sesde ratte se verhouding bietjie langer gemaak het. Die vorige 4WD het bo 3 000 r/min geluier teen 120 km/h. Die nuwe een by 2 500 r/min. Dit maak ʼn reuseverskil in die brandstofverbruik. My rymaat wat saam met my by die bekendstelling was, het ʼn indrukwekkende 5 ℓ/ 100km gehandhaaf op so 80 km. Ek het 5,5 ℓ/ 100 km gekry op die 80 km terug. ʼn Pel besit die vorige 4WD en hy sukkel om onder die sewes in te kom.

Die 4×4 stelsel is geleen uit ander Renault/ Nissan-produkte. Die Duster se stelsel kom uit die Nissan X-trail uit. ʼn Mens het 2WD, Auto en Lock. As ʼn mens hom ‘Lock’ dan versprei die voertuig die wringkrag eweredig tussen die vier wiele met die hulp van vastrapbeheer en ABS. In die werklikheid kan die Duster heelwat hindernisse aandurf. Al wat hom gaan terughou is op vreeslike steil opdraandes waar die gebrek aan laestrek moontlik ʼn koppelaar gaan seer maak.

Die Duster is toegerus met afdraand-beheer wat die voertuig teen 10 km/h teen ʼn helling laat afkruip. Ek verkies dit nóg stadiger, so gebruik maar steeds my voeg op die rempedaal. Die 210 mm grondvryhoogte is beter as heelwat sportnutsvoertuie op die mark.

Die Duster 4WD word aangedryf deur Renault se indrukwekkende 1,5 viersilinderturbodieselenjin wat 80 kW en 260 Nm lewer. 0 – 100 km/h is beskikbaar in 12,5 sekondes en hy sal aanhou draf tot 168 km/h. Naellope is nie die Duster se sport nie – maar gaan van die teerpad af, dán begin hy sing. Padhouvermoë is in die kol vir dié grotte sportnutsvoertuig, en die ritgehalte is fantasties.

Die reeks lyk só:

Renault Duster 1.6 Expression84 kW/ 156 Nm7 ℓ/ 100 kmR255 900
Renault Duster 1.5 dCi Dynamique66 kW/ 210 Nm5.1 ℓ/ 100 kmR288 900
Renault Duster 1.5 dCi Dynamique EDC80 kW/ 250 Nm4.8 ℓ/ 100 kmR322 900
Renault Duster 1.5 dCi Dynamique 4×480 kW/ 260 Nm5.2 ℓ/ 100 kmR327 900
Renault Duster 1.5 dCi Prestige EDC80 kW/ 250 Nm4.8 ℓ/ 100 kmR340 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 45 000km diensplan.

Wanneer ons in Junie weer tyd met die Duster 4WD deurbring sal ons by Groenkloof gaan 4×4 en dit vir julle op video vaslê en hom dán teen sy mededingers vergelyk. Gaan toetsbestuur een – jy sal moontlik verbaas wees.

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

B ·

Klink die deure nog soos dun koeldrankblikkies as mens dit toemaak?

Brendon ·

Dagsê B

Baie dankie vir jou kommentaar. Nee – die materiale en bougehalte is baie beter as op die vorige model.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Vraagteken ·

Hi Brendon,

Julle het nie so lank terug oor die nuwe Duster gerapporteer nie. Hoe is stukkie werk anders as die vorige een? Mis ek dalk iets?

Groetnis

Brendon ·

Dagsê Vraagteken,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons het onlangs berig oor die bekendstelling van die nuwe Duster. Toe het ons ‘n in diepte padtoets daarop gedoen. Dié is nou die bekendstelling van die 4×4 model wat nie voorheen in die reeks beskikbaar was nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

marco polo ·

Ek sal graag wil sien hoeveel van hierdie tafste 4×4 oorbly as hy n draai deur Kaokoland gery het.

Karlahari ·

Myne het 85 000 harde kilometers op.
Hy kan 170km/h haal en teen Lesotho opdraandes het sy 1.5 turbo diesel menige voertuig op hulle bonnets laat kyk.
Dit is nie n Land Cruiser nie maar kan moderne Land Rovers aanvat van die pad af. En ratkas gee nie probleme soos Rangeer bakkie wat ook nie hou in Kaoko veld nie. Maar RSG kom nie naby as jy berge en vlaktes aandurf nie.
Nie almal van ons het R700k plus om n 4×4 te koop vir die image nie.
En dit is wat die Duster so lieflike voertuig maak. Hy kan as jy weet hoe teen die helfte van die prys.
O ja. En sand is die groot gelyk maker…..

marco polo ·

Jy is seker nie ernstig oor jou Land Rover stellings nie, of het seker nog nooit 4×4 gery nie. LR is in n totaal ander klas as n Duster.

Karlahari ·

Presies. So hoekom die twee vergelyk. Moderne LR ook nie vir Kaoko veld nie. Daar ry jy Land Cruiser of Hilux as jy moet.
Het paar keer LR bestuur. Baie nice op teer. Nie lekker op grondpad as jy n suspension error kry nie. En ook 2 keer agter Pajero bestuur terwyl LR gesleep word….

Louise ·

Ek karring nou al 2 jaar aan my man vir een, miskien kan ek een kry vir my verjaarsdag.

Andre C ·

Ek wonder hoekom so n ekonomiese en bekostigbare 4 x 4 soveel jaloesie uitlok van mense wat self nie een besit nie ?

Ra Amon Khan ·

Ek sal nooit weer n Dacia Duster koop nie ….jy kan hom nêrens inruil op n ander voertuig van n ander fabrikaat nie…niemand stel belang nie….tensy jy hom weer inruil op n ander Dacia/Nissan by n Renault garage…..nee wat,ek koop eerder weer n tweedehandse Corolla van in die laat 90’s …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.