Bekendstelling: Die voorvader is terug

Foto: Verskaf

Sekere voertuie bestaan eenvoudig omdat ʼn vervaardiger iewers ʼn idee gehad het, ʼn voertuig gebou het en daardeur ʼn nis geskep het. Voertuie soos die Fortuner bestaan omdat Nissan eens op ʼn tyd die Sani gebou het. Toe kom die Isuzu Frontier, en so aan.

Die enigste sportnutsvoertuie was voertuie soos Land Rover se Discovery. Toe kom BMW en dink … maar ons kan dit ook doen. En net so, in ʼn oogwink is die X5 gebore. Party was skepties, ander het uit die staanspoor gesê BMW het die pad byster geraak – en ander het hulle gekoop. Baie ander. Wêreldwyd het BMW al 2,1 miljoen X-voertuie verkoop.

Die BMW X5 trek nou by die vierde generasie. En ek dink BMW het dit mooi reg gekry. Hoe sê die Ingelse? X marks the spot … net só. BMW is ook tans besig om hul modelreekse te rasionaliseer. Daar is nie meer klomp verskillende enjins beskikbaar nie. In die nuwe X5, vir nou – slegs twee enjins, die 30d en M50d. Daar is vier verskillende spesifikasievlakke beskikbaar: xLine, M Sport, xOff-Road M Performance.

Foto: Verskaf

BMW se 30d is my gunsteling-dieselenjin. Daar is meer aas genoeg krag, én hy is lig op diesel. Daar is ʼn berg wringkrag en dit bied vir my die beste balans tussen verrigting, prys en brandstofverbruik. Die M50d is berserk. Ek is gek daaroor. 294 kW en 760 Nm wringkrag met vier turboaanjaers. Vier! Daar is twee turbo’s per drie silinders. ʼn Kleintjie vir onder in die toerestrek, en ʼn grote wat hoër in die omwentelinge oorneem. Die resultate is skrikwekkend. ʼn Dieselenjin wat geen maar geen turbo-traagtheid het nie, en trek soos ʼn mal ding van stilstand tot en met 5 200 r/min. Lekker.

Foto: Verskaf

Die nuwe ontwerp van die X5 is vir my bitter mooi. Ek sien nie waaroor almal kla met die groter “kidney grille” nie, dit werk in die metaal. Die binneruim is uiters luuks en pragtig aanmekaar gesit. Ek is nie oortuig deur die nuwe digitale instrumente se ontwerp nie – ek sou dit wel wil verander dat dit meer konvensioneel lyk.

Vroeg in 2019 sal daar nóg opsies beskikbaar kom op die X5, soos ʼn derde ry sitplekke – iets wat ek nogal waardevol ag in dié segment. Die voertuig is uiters luuks en bied enige speelgoed wat dié soort kliënt sal wil hê. Indien jy in die mark is vir ʼn volgrootte sportnutsvoertuig wat nie ʼn leerraam onderstel het nie, kyk gerus na die X5.

Die reeks lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruik0 – 100 km/hTopspoedPrys
BMW X5 xDrive30d xLine195 kW/ 620 Nm7 ℓ/100 km6,5 sek230 km/hR1 186 200
BMW X5 xDrive30d M Sport195 kW/ 620 Nm7 ℓ/100 km6,5 sek230 km/hR1 245 100
BMW X5 xDrive30d xOff-Road195 kW/ 620 Nm7 ℓ/100 km6,5 sek230 km/hR1 245 450
X5 M50d294 kW/ 760 Nm7,2 ℓ/100 km5,2 sek250 km/hR1 493 600

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal vroeg in 2019 weer tyd met die X5 deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marco polo ·

Die eerste sportnutsvoertuig was die Range Rover, wat reeds in die vroee sewentigs die lig gesien het. Die eerste Discovery het eers in 1989 die lig gesien en was meganies identies aan die eerste Range Rovers, wat toe as die Classic bekend gestaan het om dit te onderskei van die tweede geslag RR (P38) wat dieselfde tyd as die eerste Discovery op die mark was. BMW het destyds vir Land Rover gekoop om hulle hande op die tegnologie en enjins van die Range Rover te kry, vir die X5

Vraagteken ·

Ek weet nie so mooi van jou stelling as jy sê dat “…BMW vir Land Rover gekoop het om hulle hande op die tegnologie en enjins van die Range Rover te kry” nie. Daardie Range Rovers het die Rover V8 enjine gehad, dieselfde enjine wat oorsprongklik uit die 1960’s dateer. Jy kon juis die Range Rover met ‘n BMW enjine kry, maar nie anders om nie. Daardie einste Rover enjine kom eintlik van Amerika af, en hulle was glad nie so goed nie (die windsor en cleveland enjine van Ford en GM se L-enjines was baie beter).

Dit is baie jammer dat jy ‘n voertuig nou vir Rm1.4 koop en oor 10 jaar is hy net R250 000.00 werd.

marco polo ·

Vraagteken, kyk na die TDV8 in die RR en die diesel enjin van die eerste X5. Die TD5 van die tweede geslag Discovery was n verdere ontwikkeling hiervan, met 5 silinders, maar dis halfhartig verder ontwikkel en die eerstes het baie probleme gegee. Eers toe LR deur Ford oorgekoop is, het hierdie enjins baie verbeter. Die Freelander het weer die BMW 2,0 diesel later gekry, wat veel beter as die Rover diesel was. Verskoon tog al die detail, ek is n selferkende Landy verslaafde

Vraagteken ·

Hi Marco Polo, my punt bly staan; BMW het hulle enjins binne Land Rover produkte gesit, maar baie min van Land Rover se tegnologie was gebruik in BMW’s (meerderheid was net die elektronika). In terme van Meganika was die BMW baie uniek, waarvan Land Rover die tegnologie in hulle voertuie dan gebruik het.

Terloops, ‘n enjine is ‘n ding wat net petrol gebruik (en niks anders nie). Dieselenjines is vir trokke en trekkers bedoel. :):):)

Vraagteken ·

Hi MM,

In 1997 het ‘n T-Rex ‘n ou uit ‘n M-klass geëet (met verwysing na ‘n baie bekende rolprent):):):). Is dit nie beter om te sê dat Mercedes-Benz die eerste SUV uit Duitsland vervaardig het nie? BMW, soos alle vervaardigers deesdae, het toe op die ‘bandwagon’ gespring en dit reggekry om ‘n baie beter produk te vervaardig. Wat dink julle?

Groetnis

Brendon ·

Dagsê Vraagteken

Baie dankie vir jou kommentaar. Jy is inderdaad reg, die Mercedes-Benz ML is twee jaar ouer as die X5. Jammer vir die oorsig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Quinton vannie Kaap ·

Ek weet nie wat dit is nie, maar net iets special omtrent u X5. As ek kyk na al ander die ML, Land Rover, Toureg en Audi, is die X5 vir my die mooiste vannie lot. Ek hoop net hulle bring u 40D uit volgende jaar, want my visier is op so een, maar sal moet wag vir u paar jaar na deprecation lolololololololol.

Johan ·

Wat noemenswaardig is van die nuwe X5 is dat mens nou opsioneel ‘n agterste ewenaarslot (diff-lock) kan kry (want “traction control” is ‘n nuttelose irritasie op ‘n 4X4) en General Grabber “all-terrain” bande – wat beteken mens kan nou grondpad met ‘n X5 ry! BMW moes dit al op die eerste generasie beskikbaar gemaak het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.