Bekendstelling: Die voorvader se kleinboet …

Die Volkswagen Polo GTi. Foto: Verskaf

In 1976 het Volkswagen die “warm luikrug” geskep met die Golf GTi. Dit was ʼn eenvoudige resep. Vat ʼn klein luikrug, gee vir hom meer oemf en beter hantering – en siedaar, toe kon gesinne ook ʼn sportmotor besit.

Dié resep is deur verskeie fases oor dekades heen gevolg, en tot VW se eie GTi in die vorm van die Golf III was dalk louwarm, op sy beste – maar beslis nie warm nie. Die IV het dié probleem begin aanpak – en die Golf V was die eerste egte GTi ná die II. Toe kom VW en gee vir ons ʼn Polo GTi. Kenners het mal geword en wou VW kruisig vir toordery.

Ons het nou al meer gewoond geraak aan die idee van ʼn Gti-embleem op iets anders as ʼn Golf. VW sê dat daar nooit ʼn Gti-plaatjie op enigiets anders as ʼn luikrug sal wees nie. Net tyd sal bevestig. Wat dan van die allernuutste Polo GTi?

Die Volkswagen Polo GTi. Foto: Verskaf

Kyk, dié Polo is ʼn wenner. Ek’t nog nie met een motorjoernalis gesels wat nie so dink nie. As mens na die syfers kyk, het VW in Mei 2018 al 1 979 van die goed verkoop. Dit is meer as die twintig kleinste handelsmerke tesame. Hoe verbeter mens die huidige Polo? Maak van hom ʼn GTi.

Dié GTi is ʼn 2.0-viersilinderturbopetrol. Dit is nie presies dieselfde enjin as wat in die Golf diens verrig nie. Dié enjin bied 147 kW en 320 Nm wringkrag. Die enjin is gekoppel aan ʼn 6-spoed-DSG-dubbelkoppelaarratkas. Dus, 0 – 100 km/h neem 6.7 sekondes en hy sal aanhou snol tot 237 km/h. In 1976 toe die eerste Polo GT bekendgestel is, was daai syfers nie eens moontlik in ʼn Porsche 911 van daardie tyd nie.

Die Polo GTi volg op die kar waarop hy gegrond is. Bougehalte is indrukwekkend en iets waarop ons kan trots wees as Suid-Afrikaners, aangesien die Polo hier in Uitenhage gebou word. My enigste klagte met die Polo is: die deurkaarte se plastiek is te hard vir die hoër modelle in die reeks en ek wil ʼn meer angstige eienskap van dié enjin tussen 5 500 en 6 500 r/min hê.

Die Volkswagen Polo GTi. Foto: Verskaf

Aan die ander kant van die muntstuk is die Polo lekker ruim, goed gebou – uiters luuks vir ʼn kompakte luikrug, en regtig vinnig. Wat verbaas met die Gti-weergawe is die hantering. Ons het met die bekendstellingsroete Franschhoekpas gery – en glo my, die GTi klou soos bol aan wol. Die DSG-ratkas pas vir my perfek in die GTi, nog meer as in die gewone modelle. Dit is nie moontlik nie, maar sou dit op die opsielys wees, sou ek my GTi met ʼn handrat koop … Volkswagen het al voorheen die Polo so beskikbaar gestel, en amper geen verkoop nie.

Polo GTi gaan nie net oor die ontwerp en spoed nie. Daar is ʼn magdom veiligheidstelsels in die GTi. Blindekolwaarskuwing, agterstekruisverkeer-waarskuwing, parkeerhulp, banddruk-waarskuwingstelsel, saam met die gewone ABS en lugsakke wat mens uit ʼn botsing hou – en indien daar wel ʼn ongeluk gebeur, is mens darem beskerm deur die lugsakke.

Ek sien daarna uit om meer tyd saam met die Polo GTi deur te bring wanneer ons hom kry om te toets. Dit is beskikbaar teen ʼn baie goeie prys, en bied fantastiese verrigting en genot. Gaan toetsbestuur self een en sien.

Die Polo GTi lyk só:

ModelKrag0 – 100 km/hTopspoedBrandstof-verbruikPrys
Volkswagen Polo GTi147 kW/ 320 Nm6.7 sek237 km/h5.9 ℓ/100 kmR375 900

Die Polo-reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Ons sal met ons indiepteresensie die Polo GTi met sy direkte mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Pompies ·

VW bloed loop in my are en ek was gelukkig om ‘n Golf 1 Gti te kon besit, sy versnelling van 0 to 80km/h was 6.1 sekondes. Kyk hierdie buksie kan jy nie sonder handskoene aanvat. Die manne met die Ford XR6 voertuie was woedend omdat hierdie Gti hulle kon klop. Lekker tye, uitstekende Golf gewees. Die nuwe Polo Gti is ongelukkig nie vir my beskore, ouderdom het aangekom en ‘n meer praktiese gesinsmotor is vir ons bedoel. Ek hoop van harte dat die jong mense die juweel in die Polo Gti raaksien en hom koop.

Paul ·

Die Golf 1 GTi was nie die eerste “hot hatch” nie. Dit word dikwels so in motorjoernaliste se artikels gesê, maar net omdat ‘n fout ‘n duisend keer herhaal word, ook deur VW in hul bemarkingsmateriaal, word dit nie sommer die waarheid nie.

Die heel eerste ‘hot hatch” was die Simca 1100 Ti wat in 1974 op die mark geplaas is. Die suksesvolle Simca 1100 was deel van die rede waarom VW sy klein motors se enjins vorentoe geskuif het om die voorwiele aan te dryf.
Daar was ook die Autobianchi A112 Abarth wat in 1975 met ‘n 70 perdekrag enjin verkoop is, met slegs 700kg om te beweeg.

Bogenoemde karre was nie so vinnig soos die Golf 1 GTi nie, maar hulle was beduidend vinniger as meeste ander goedkoop gesinsmotors van hul tyd, so hulle kwalifiseer definitief as “hot hatches”.

Die Renault 5 Alpine/Gordini het ook die Golf 1 GTi met twee maande geklop en dit is ‘n motor wat deur baie meer mense as ‘n “hot hatch” onthou word as die Simca of die Autobianchi.

Ek sou argumenteer dat die Golf 1 GTi tog die mees invloedryke vroeë “hot hatch” was, maar dit was definitief nie die eerste een nie.

Kobus ·

Paul, ek dink nie daardie Simca of Renault was in SA beskikbaar nie, of hoe? Ek sou die skrywer vergewe, want ek vermoed die meeste mense het nog nie van die “eerstes” gehoor nie.

Paul ·

Kobus, as dit nie was dat dit ‘n motorjoernalis is wat die fout oor die GTi herhaal nie, sou ek dit kon laat verbygaan om die redes wat jy noem. Iemand wat homself egter uitgee vir ‘n motorjoernalis, moet egter nie verbaas wees as sy lesers feite wil hoor en nie net herhaling van vervaardigers se bemarkingsmateriaal nie.
Sover ek weet was die Simca nie hier beskikbaar nie, maar dit was gewild in Europa. Die Renault 5 is hier verkoop, maar ek weet nie of die warm “Alpine”-model hier verkoop is nie.

Dis een van die redes hoekom ek Consumer Reports van die VSA respekteer. Hulle aanvaar nooit enige gunste van die vervaardigers van die produkte wat hulle toets nie, anders as ander joernaliste wat lekker getrakteer word deur die vervaardigers en dan “objektief” verslag doen.

Turbo ·

Ek het die nuwe 1.0 CL aangeskaf.

Regtig ‘n plesier en ‘n fantastiese voertuig, een groot irritasie egter is dat die spoedbeheer nie keer dat die motor’ weghardloop’ teen afdraandes! Gister oor Van Reenen (en verder aan op N3) het ek 80km/h ingestel, en met elke afdraande moes ek rem om op 80 te bly. Het dit een keer gelos om te kyk of dit wel gaan inskop, maar moes toe maar weer rem toe dit 120 km/h se kant toe gaan.
Wees dus maar net bewus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.