Bekendstelling: Dít is nou Duitse perfeksionisme

Die Porsche 718 Cayman GTS (Foto: Porsche)

Die meeste mans dink hulle is Michael Schumacher se eweknie … maar in werklikheid is dit nogal ver van die waarheid. Party motors masseer mens se ego en laat jou dink jy’s ʼn legende agter die stuur. Ander boelie mens in ʼn hoek en laat jou kerm vir jou mammie. Die Porsche 718 GTS vat jou aan die hand, en saam leer mens hoe.

Ek sit hier agter my lessenaar en dink aan gister se ervaring by Kyalami. My vel kriewel van die hoendervleis. Een van die hoofredes hoekom mens kan leer met die Porsche 718 GTS is die eenvoudige feit dat die kar so goed gekalibreer is. Hy sal elke keer dieselfde reageer volgens jou insette, ronde ná ronde.

Party voertuie raak warm, die remme begin kreun en steun of heeltemal wegval ná ʼn paar rondes om ʼn renbaan – maar nie ʼn Porsche nie. Dié Porsche is ontwerp as sportmotor, in ʼn land waar die Autobahn bestaan en in plekke waar daar nie ʼn spoedgrens is nie. Dus maak die ingenieurs seker dat die 718 veilig is, en die straf kan hanteer, al moet mens op die openbare pad van 290 km/h af rem vir ʼn lorrie.

Die Porsche 718 Cayman GTS (Foto: Porsche)

Die Porsche 718 GTS Cayman en Boxster is twee nuwe modelle in die 718-reeks. Die GTS bied 269 kW, 11 meer as in die S-model. Daar is twee ratkaste beskikbaar, ʼn 6-spoed-handrat of 7-spoed-PDK-dubbelkoppelaarratkas. Met die Sport Chrono Package kan jou 718 snol van 0–100 km/h in 4.1 sekondes en aanhou tot ʼn asemrowende 290 km/h.

Daardie 20″-wiele hou die 718 GTS op die pad, en is geverf in Black Satin-afwerking. Die indrukwekkende remme is 330 mm voor en 299 mm agter. Die onderstel met Porsche Active Suspension Management (PASM) verlaag die vering met 10 mm teenoor die S-model. Porsche Torque Vectoring (PTV) met meganiese agterste ewenaarslot verseker nóg meer behendigheid en stabiliteit.

Soos met ander GTS-modelle het dit verskeie aksente swart, van die voorste ligte tot die uitlaatpype. Die binneruim is baie gemakliker as wat mens verwag van so ʼn klein voertuig met sulke sportiewe intensies. Porsche Sports-sitplekke met alcantara-middelstukke is regtig gemaklik. Die kajuit is redelik ergonomies uitgelê, en sodra mens gewoond is aan Porsche se stelsels en waar die knoppies is, werk alles sonder probleme.

Die Porsche 718 Cayman GTS (Foto: Porsche)

Ek het al verskeie sportmotors in dié klas gery. Die enigste ander middel-enjin-sportmotor is die Alfa 4C. Die Porsche is goedkoper en beter gebou asook baie vinniger en ruimer as die Alfa. Die enigste kompakte afslaandakvoertuig in dié klas is die Mercedes-AMG SLC43. Die AMG is net-net goedkoper as die Porsche en het ʼn asemrowende enjin, maar sy hantering stel teleur. Ek dink die naaste mededinger kom in die vorm van die Audi TT RS. Hy is effens goedkoper as die Porsche en het ʼn indrukwekkende enjin met vierwielaandrywing wat hom van 0–100 km/h kan skiet in ʼn belaglike 3.7 sekondes. Ek het nog nie met die Audi gery nie. Ons kry hom binnekort, so ek kan nie kommentaar lewer op watter een beter is nie.

Dit is baie maklik om op te som. Die Porsche 718 GTS is Porsche-ingenieurs op hul beste. Bietjie meer, bietjie beter en dit vertaal as perfeksie. Die GTS is tuis op die baan, en uiters gemaklik op die pad. Die Cayman en Boxster se verrigting is identies, so die afslaandak belemmer geensins die Boxster nie. Die Boxster is ook die enigste afslaandakmotor waarmee ek al ooit gery het waar die onderstel nie skud en los voel omdat daar nie ʼn dak is nie. Indien jy bevoorreg genoeg is om in dié klas te val, gaan kyk gerus – jy sal ook hoendervleis kry, ek belowe.

Die reeks lyk só:

Porsche 718 Cayman220 kW/380 Nm4.7 sek275 km/hR870 000
Porsche 718 Boxster220 kW/380 Nm4.7 sek275 km/hR884 000
Porsche 718 Cayman S257 kW/420 Nm4.2 sek285 km/hR950 000
Porsche 718 Boxster S257 kW/420 Nm4.2 sek285 km/hR965 000
Porsche 718 Cayman GTS269 kW/430 Nm4.1 sek290 km/hR1 122 000
Porsche 718 Boxster GTS269 kW/430 Nm4.1 sek290 km/hR1 137 000

Let wel, 0–100 km/h-tye is gespesifiseer met Sport Chrono Package. Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.