Bekendstelling: Dusty word groot

Renault se nuwe Duster. Foto: Verskaf

Maroela Media was vroeër vandeesweek by die bekendstelling van die splinternuwe Renault Duster. Ons is al ʼn geruime tyd goeie vriende met dié buksie. Die reeks bied twee modelle wat ek glo amper in ʼn nis van hul eie sit: die 4×4 en die EDC-outomaties. Mens sit met ʼn mediumgrootte sportnutsvoertuig, met ʼn dieselenjin en dan óf 4×4 óf ʼn outomatiese ratkas.

Die eerste model se bougehalte in die kajuit was twyfelagtig. Die opknapping van daai model het reeds groot treë in die regte rigting gegee – maar die nuwe model se binneruim is in ʼn nuwe klas. Daar is spasie en stoorplek oral in die kajuit vir allerhande ditjies en datjies.

Renault se nuwe Duster. Foto: Verskaf

Die 1.6-viersilinderpetrolenjin is opgeknap om 84 kW en 156 Nm te bied. Heelwat beter as die vorige model se 77 kW en 148 Nm. Daar is ʼn nuwe 1.5 dCi 4×2 Dynamique om ʼn dieselweergawe teen ʼn aantrekliker prys aan te bied. Hy bied 66 kW en 210 Nm. Daar is twee ander Dynamique-modelle, die 4×4 en die EDC. Hulle kry 80 kW en 250 Nm op die EDC en 260 Nm op die 4×4-handrat. Die reeksleier 4×2 EDC Prestige kry dieselfde 80 kW en 250 Nm maar het ʼn hoër spesifikasievlak.

Die Duster is baie volwasse met funksies soos spoedbeheer, navigasie, klimaatbeheer, Multiview-kamera, blindekolwaarskuwing, sleutellose toegang en ʼn drywer-armleuning op die Prestige-model.

Renault se nuwe Duster. Foto: Verskaf

Ek is nie oortuig deur die spons in die leersitplekke nie, dit kan vir my harder wees – maar dit is reeds ʼn verbetering op die leersitplekke wat in ander modelle voorheen beskikbaar was. Ek sal graag die lapsitplekke wil voel om te sien of dit verskil.

Die Duster is voorwaar aggressief geprys om kompeterend te bly in die mark, en ek glo hulle gaan reuseverkope geniet. Die Duster bied ʼn goeie 478 ℓ-kattebak en sitplek vir vyf. Die binneruim is nou baie mooi afgerond en daar is vier lugsakke beskikbaar op die Dynamique- en Prestige-modelle. Renault se 1.5 dCi-enjin is hul gewildste enjin op aarde en word in talle verskeie platforms gebruik. Dit help vir betroubaarheid en meer bekostigbare onderdele.

Renault se nuwe Duster. Foto: Verskaf

Wat vir my opvallend was, is die feit dat die Duster lieflik sag geveer is. Dit bied ʼn wonderlike rit, en indien mens soos ʼn nar wil jaag, kan die Duster tóg byhou. Ons het nie een keer op Long Tom-pas en die ander paaie in Mpumalanga onveilig gevoel nie. Die vering is lieflik en die padhouvermoë goed vir baie meer as wat enige Duster-eienaar van die voertuig gaan verwag. Wanneer die 4×4-weergawe vroeg in 2019 beskikbaar is, sal dit met afdraandhulp toegerus wees wat die spoed op baie steil afdraande self met die remme beheer om jou veiligheid te verseker as mens in die veld ry.

Renault se rang is vyfde in die Suid-Afrikaanse motormark. Dit is baie sterk. Hulle het al 2 miljoen Dusters wêreldwyd verkoop, en 15 000 hier in Suid-Afrika. Die voertuig bied puik waarde en word gedek deur Renault se 3 jaar/45 000 km-diensplan en 5 jaar/150 000 km-waarborg. As jy in die mark is vir ʼn nuwe voertuig – loer gerus … jy sal heel moontlik beïndruk wees.

Die reeks lyk só:

Duster 1.6 Expression R249 900
Duster 1.5 dCi Dynamique 66 kW R282 900
Duster 1.5 dCi Dynamique EDC 80 kW R316 900
Duster 1.5 dCi Dynamique 4×4 80 kW R321 900
Duster 1.5 dCi Prestige EDC 80 kW R334 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JWC ·

Oulike voertuig…. maar weet almal dat Renualt (soos meeste ander vervaardigers) aan die einde van hul dieselenjins gekom het?? So, as ek nou ‘n dieselenjin koop, lyk dit my in Renualt se geval, dat vanaf 2020 die diesels vinnig uitgefaseer gaan word… en dan? Ek vermoed ‘n reuse ineenstorting van gebruikte dieselvoetuig pryse! Die beste vir die Duster sou wees as Renualt hom ook in hul 1.2L turbopetrol sou kon verskaf… die 1.6 is reeds ‘n “ou” enjin met nie sulke goeie verrigting- en brandtofverbruik syfers nie!!

piper ·

van die dieselengine se verval of uitfasering wil ek graag meer weet

Vraagteken ·

Piper, dit kom nou al ‘n geruime tyd. In Europa is daar tot die besef gekom dat dieselenjins nie eintlik so skoon is soos wat daar gesê was nie.

Stikstofdioksied is ‘n baie gevaarlike gas en dit is een van die gasse wat ‘n groot verteenwoordigheid het in die uitlaat gasse van so ‘n enjin (VW is juis op hierdie gasse gevang). Lang storie kort – diesel enjins word nie toegelaat in al die groot stede nie en dus is die aanvraag op daardie voertuie baie laag in Europa. Dit als beteken dat vervaardigers die diesel enjin in motorvoertuie gaan uitfasseer weens ‘n lae aanvraag.

Almal moet ook baie skepties oor elektriesevoertuie wees. Dis net ‘n groot dryf deur vervaardigers om sogenaamde ‘skoon energie’ te gebruik waar dit eintlik net ‘n nuwe skema is. Hierdie elektriese voertuie is eintlik ook maar baie vuil tegnologie.

JWC ·

Spyker op die kop Vraagteken…. elektriese voertuie in huidige formaat en bestaande batterytegnologie is nuwe geldmaak foefie en kopers word doelbewus in die duister gehou oor die dieselenjin se “verdwyning” in die nabye toekoms….

Diesel ·

Hou julle perde, die laaste woord is nog glad nie gespreek oor diesel enjins in voertuie insluitend vragmotors, treine, marine toepassings, grondverskuiwing toerusting ens.

Ons praat weer oor 18 maande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.