Bekendstelling: Ford se alternatief

Die nuwe Ford Fiesta (Foto: Ford)

Die kompakte luikrugsegment is die grootste in die Suid-Afrikaanse motormark. ʼn Goeie mededinger in dié segment is van kardinale belang vir enige handelsmerk. Volkswagen sit met ʼn reuseaandeel van dié segment in die Polo en Polo Vivo. Verdien Ford ʼn groter aandeel van daai segment?

Welkom aan die allernuutste Ford Fiesta. Die motor is ʼn direkte mededinger vir die VW Polo. Dit het sy eie benadering tot die kompakte luikrug. Die Ford is meer van ʼn bestuurder se motor. Wat ek hiermee bedoel is – dit is nie net ʼn vervoermiddel nie. Dit het ʼn effense sjarme wat baie motors nie het nie. Die Fiesta por jou aan om die reis te geniet, nie net doelloos van een plek na die volgende te ry nie.

Die skoner ontwerp is vir my regtig mooi. Ek hou veral van die voorkant en die skoon, nuwe gesig. Die sierwiele wat standaardtoerusting is op die Fiesta is albei mooi, 16 of 17”. Die Titanium-weergawe se Xenon-ligte is opvallend en rond die pakket mooi af.

Die binneruim is netjies. Ek hou baie van die sitplekke en meeste van die paneelbord is ergonomies uitgelê. Die Fiesta is ʼn baie smaller motor as die Polo, maar mens raak dit vinnig gewoond. Beenruimte vir agterste passasiers is heeltemal goed vir dié segment. Ek het wel twee kwale met die nuwe Fiesta. Die inligtingstelsel se skerm wat so regop staan uit die paneelbord lyk soos ʼn nagedagte. Ek sou dit verkies as dit beter integreer was. Die instrumente se ontwerp is vir my teleurstellend en verbeeldingloos, heeltemal die teenoorgestelde as die res van die voertuig. Die kajuit is baie verfynd en daar is min pad- en windgeraas.

Die nuwe Ford Fiesta (Foto: Ford)

Die ritgehalte in die Fiesta is regtigwaar puik. Die Titanium-weergawe op 17”-wiele ry lekker, maar die 1.5 TDCi Trend op 16”-wiele ry soos ʼn droom. ʼn Verskriklike slegte pad tussen Rustenburg en Lanseria in Gauteng het hom geensins gesteur nie. Boonop is die padhouvermoë indrukwekkend goed. Daar is bitter min bakrol, en mens kan die Fiesta regtig geniet in die draaie.

Pryse lyk met die eerste oogopslag effens hoog, maar as mens die hoë spefisikasievlakke van die Fiesta in ag neem – dan is hy so R18 000 goedkoper per model as die gelykstaande Polo. Om die spesifikasies te vergelyk, klik hier.

Die reeks lyk só:

Fiesta 1.0 EcoBoost Trend handrat74 kW/ 170 Nm4.3 ℓ/100 kmR261 900
Fiesta 1.0 EcoBoost Trend outo74 kW/ 170 Nm5.2 ℓ/100 kmR277 300
Fiesta 1.5TDCi Trend handrat63 kW/ 175 Nm3.3 ℓ/100 kmR292 500
Fiesta 1.0 EcoBoost Titanium handrat92 kW/ 170 Nm4.3 ℓ/100 kmR295 900
Fiesta 1.0 EcoBoost Titanium outo74 kW/ 170 Nm5.2 ℓ/100 kmR310 600

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan asook 3 jaar/onbeperkte km-padbystand.

Ons sal die Fiesta tydens die indiepte-resensie met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Richard ·

Hoe is die Ford se instrumentpaneelontwerp “verbeeldingloos”, maar die Polo s’n is nie? Die uitleg is byna dieselfde. Al die kontroles, buiten die knoppies langs die rathefboom, is basies op dieselfde plekke in beide karre.
Dit voel regtig soos die tipiese Suid-Afrikaanse en Britse motorjoernalissiekte waar enigiets wat Duits is, net die beste is en enigiets anders is maar so bietjie simpel.

Vraagteken ·

Beste van als, die duitse goed is nie die beste nie :):):),

Dink ·

Lees mooi stadig die volledige konteks, die res van die binneruim word hoog aangeprys asook dat dit ‘n ‘bestuurdersmotor’ is – groot kompliment! Net die instrumentepaneel word objektief gekritiseer. (Waarmee ek 100% saamstem – jy moet sien hoe lyk dit in werklikheid)
Ongelukkig sal Ford nog entjie moet gaan om te bewys hulle bou motors wat se kwaliteit van langdurige aard is.

VW Polo ·

Dit is bepaald erg verbeeldingloos – verwys bv. na die dooie stuk grys plastiek tussen die meters, met die klein elektroniese skerpie aan die bokant (Kyk die lettertipe!). Dit lyk soos iets uit die vroee 2000’s. Daar is geen sofistikasie sigbaar en dit steek gevolglik erg af teen die res van die voertuig se standaard.
Doen jouself ‘n guns en gaan kyk na die nuwe Polo se uitleg, die digitale vertoon (std) en moontlikhede (opsioneel). Dit is klas.

Kiewiet ·

Ig Ek sien jy het baie jare terug met in Fordjie gery. Ek dink jy sal nogal verbaas wees wat Ford jou alles kan aanbied.

Andre C ·

Ek wonder of Ford n motorsportontwikkelingsprogram iewers in die wereld het wat waar deelnemers volgens ras toegang kry ? Sover weet ek net van VW wat dit doen

Joe_v_Niekerk ·

Dit gaan maar alles oor persepsie, keuses, vooroordele, en persoonlike smaak. VW het in die laaste 15 jaar premium ‘wereldmotors’ begin bou wat uitstekend in die groot wereldmarkte doen, en vir die handelsmerk baie geld inbring. Na my mening, is die VW motorontwerpe (met opset) ietwat verbeeldingloos, sodat dit by ‘n wye, wereldse mark aanklank kan vind. Bv. die nuwe Polo, in wit, smelt heeltemal weg tussen die ander massas luikrugmotors op SA paaie. Koop hom in oranje sodat jou buurman tog net kan raaksien dat jy ‘n nuwe polo ry!

Gerhard ·

Jy is reg dat persepsie die rede is dat mense sekere karre koop. Ek is soms verstom dat ek iets lees soos dat die ding betroubaar is al weet jy die skrywer het nooit die ding lank genoeg gery om te weet dit is betroubaar nie. Dan sal jy weer sien iemand kla oor iets wat fout is met ‘n spesifiek voertuig waarvan hy/sy nie hou nie, maar as hulle van die voertuig hou sien hulle soortgelyke foute of selfs erger foute oor.

Insig ·

@Gerhard, betroubaarheid gaan tog tot ‘n mate saam met bewese reputasie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.