Bekendstelling: Harley se elektriese fiets

Harley-Davidson se LiveWire. Foto: Verskaf

Dit is nou amptelik: Harley-Davidson maak ʼn stil fiets. ʼn Fiets wat geen brandstof gebruik nie, en wat jy oornag by die muur inprop sodat jy môre werk toe kan ry. Hierdie fiets staan bekend as die Harley-Davidson LiveWire, en het al as ʼn konsep in 2014 verskyn.

Sedertdien het Harley die fiets oor die hele Amerika aan hulle kliënte gewys. Hulle wou by hulle kliënte hoor hoe ʼn elektriese Harley van die toekoms moet lyk. By seker die grootste elektronika skou, CES in Las Vegas, is die produksiemodel van die LiveWire aan die wêreld gewys.

Die LiveWire beoog om ʼn perfekte kombinasie van krag, verrigting en tegnologie te wees. Met ʼn versnellingsyfer van 0–100km/h in 3,5 sekondes is dit al ʼn goeie begin. Al die wringkrag is onmiddellik beskikbaar die oomblik as jy die versneller draai. Daar is geen koppelaar of ratte nie; so in die stad behoort die LiveWire baie goed te doen.

Harley-Davidson se LiveWire. Foto: Verskaf

Nodeloos om te sê is die LiveWire toegegooi met elektronika. Die fiets het Harley se Connect Service. Hy het selfs sy eie sellulêre koppeling wat inligting na jou foon stuur. Met die toepassing op jou foon kan jy ten alle tye die toestand van jou fiets monitor. Dit gebruik ook jou posisie om die naaste en beste herlaaistasie op te spoor. Dit sal jou ook waarsku as iemand met jou LiveWire peuter. Jy behoort ook nie weer ʼn diens mis te loop nie. Jou foon sal jou in kennis stel as jy jou LiveWire moet vat vir ʼn diens of enige opgraderings wat nodig is.

Die groot vraag is altyd hoe ver kan jy ry op ʼn vol battery. Harley-Davidson beweer dat in ideale toestande behoort jy 110 myl te kan ry. Vir die van julle wat nie Amerikaans kan praat nie, dit is so 175 km. Die hele aandrywingstelsel sit laag in die raam en met Harley wat deesdae fietse bou wat om draaie kan gaan, beloof die LiveWire om baie pret te lewer.

Daar is ook elektroniese vering en heelwat veiligheidskenmerke soos sluitwering en tolbeheer. Met die krag wat onmiddellik beskikbaar is en eenvoudig met die versneller gemoduleer kan word, kan ek sien dat die reikafstand daaronder gaan ly.

Ons moet vrede maak met die feit dat elektriese motorfietse ons voorland is. Of Harley-Davidson nou die maatskappy gaan wees wat die baanbrekerswerk gaan doen, sal ons nog moet sien. Ek hoop dat ek eendag ʼn kans sal kry om op ʼn LiveWire te ry, want of hy hier gaan posvat, weet ek nie so mooi nie. Dit is egter opwindend om te sien dinge gebeur!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gysbert ·

Elektriese motorfietse (en motors) is seker prakties vir die stad.
Maar jy koop darem hopelik nie ‘n motorfiets slegs vir daaglikse pendel nie.
Jy koop mos darem die ding om die oop pad mee te vat (teer vir die Harley en grond vir avontuurfietse), en vir die geraas.
In daai geval gaan elektries nie werk nie.

JWC ·

Voorspoed Harley! Het julle al van Eskom gehoor?? Julle sal darem seker die Load Shedding model ( die een met die petrolenjin) steeds na Suid Afrika stuur??

anton ·

Hoera……uiteindelik n Harley wat nie jou ore van jou kop gaan raas nie.
Wonder of vibreer die model ook nog jou stopsels los???
En hoe lank voor dit ook olie gaan begin lek? :-)
Ek hoop werklik dat elektriese motorfietse darm heelwat goedkoper gaan wees as brandstof modelle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.