Bekendstelling: Honda soek ʼn stukkie van Volkswagen se koek

Die Honda Amaze. Foto: Verskaf

Produksie van die Polo Vivo‑sedan is ʼn geruime tyd gelede opgeskort. Die Polo Vivo het 88% van die intree-sedan‑segment besit. Honda wil met die nuwe Honda Amaze ʼn stukkie van daai koek opraap. Dit is nie ʼn groot segment nie – die gewone luikrugsegment is baie groter, en het baie meer rolspelers. Die kompakte sedan het dan eintlik nou vier rolspelers: Ford Figo, Suzuki DZire, Toyota Etios en nou die nuwe Honda Amaze.

Kan die Amaze met die ander meeding? Die Suzuki Dzire voel soos die Amaze se naaste mededinger. Albei word in Indië vervaardig en het 1.2 viersilinderpetrolenjins. Die Ford Figo voel vir my in ʼn klas van sy eie as mens kyk na kwaliteit en enjin. Die 1.5 driesilinderenjin in die Figo voel regtig indrukwekkend. Die Etios is weer in ʼn klas van sy eie weens spasie en kattebakkapasiteit.

Die Honda Amaze. Foto: Verskaf

Die Amaze is ʼn oulike karretjie. Daar is billike ruimte aan die binneruim en ʼn goeie kattebak. Die kattebak bied voorwaar baie meer spasie as wat die luikrug Brio bied, maar is nie naastenby so groot soos die Etios sʼn nie.

Daar is kragstuur, elektriese vensters, Bluetooth, lugsakke en ABS‑remme. Die karretjie is heel gemaklik en bestuur maklik. Die ligte binneruim gaan moontlik sukkel in die Suid-Afrikaanse mark. Honda bied kunsleeroortreksels teen geen bykomende koste aan die kliënt wat by die handelaar gepas kan word. Die 1.2 viersilinderenjin is regtig ʼn juweel. In tipiese Japannese styl hou die enjin van omwentelinge. Laat die toere bo 4 500 r/min klim, dán begin hy gesels. Hier na 5 000 r/min voel die karretjie regtig rats en sterk. Die enjin bied 66 kW en 110 Nm.

Die Honda Amaze. Foto: Verskaf

Op die toetsroete in die Kaap het die Amaze hom puik gedra. Ek het ʼn brandstofverbruiksyfer van 5.2 ℓ/100 km gesien – voorwaar indrukwekkend. Die palwissel-transmissie in die Honda is ʼn baie beter outokas as dit wat in die Suzuki beskikbaar is. Die Ford gebruik ʼn gewone wringkragomsitter-outo, my keuse; die Etios is nie in outomaties beskikbaar nie.

Ons sal weer ʼn tydjie saam met die Honda deurbring, en dan ʼn beter idee hê van hoe hy hom in die stad gedra. Ons sal hom dán in diepte met sy mededingers vergelyk. Honda het ʼn reputasie vir betroubare voertuie – kyk gerus.

Die reeks lyk só:

Honda Amaze 1.2 TrendR179 900
Honda Amaze 1.2 ComfortR193 900
Honda Amaze 1.2 Comfort CVTR208 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000 km‑waarborg en ʼn 2 jaar/ 30 000 km‑diensplan asook 3 jaar AA-padbystand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann cb ·

Die voertuig lyk op die oog af heel billik! Sy maatjie, die Suzuki Dzire se outomatiese ratkas, is net baie lui! Dit striem werkverrigting ongelukkig baie!

Johan van Schalkwyk ·

Mal oor Honda,maar ek kyk nie eers in sy rigting nie met daai vervloekte cvt ratkas nie.

Andre C ·

Die konvensionele outo ratkas is deesdae goed gekalibreer.soos in die figo en mazda 2.Ek weet nie hoekom Honda nie teruggaan na die goeie outo ratkas nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.