Bekendstelling: Hyundai i20 opgeknap

Hyundai se opgeknapte i20 (Foto: Hyundai)

Hyundai het Maandag sy opgeknapte i20-reeks bekendgestel. ʼn Interessante brokkie inligting tydens die bekendstelling is dat Hyundai in die eerste kwartaal van 2018 Ford verbygesteek het as derde grootste handelsmerk in die passasier­voertuig­segment. Sedert die i20 se bekendstelling in 2009 is daar al 87 839 eenhede in Suid-Afrika verkoop. Altesaam 21 348 eenhede is nog onder waarborg en gebruik gemiddeld R20 per maand uit die waarborg – dit is regtig min.

Die huidige 1.4 Sport word vervang met ʼn 1.4 Active-weergawe wat nader aan ʼn kruismodel is. Daar is steeds twee petrolenjins beskikbaar, 1.2- en 1.4-viersilinder. Die 1.2 spog met 61 kW en 115 Nm. Brandstofverbruik is 5.9 ℓ/100 km. Die 1.2 kom met ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan. Die 1.4 geniet 74 kW en 133 Nm. Die handrat bied 6.5 ℓ/100 km, die outo 7.5 ℓ en die Active 6.7 ℓ/100 km. Die 1.4 het ʼn 3 jaar/60 000 km-diensplan en die hele reeks word gedek deur Hyundai se indrukwekkende 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg. Die 1.2 geniet ʼn 5-spoed-handratkas en die 1.4 ʼn 6-spoed. Die outomatiese ratkas is Hyundai se 4-spoed-outo.

Hyundai se opgeknapte i20 (Foto: Hyundai)

Die ligte, buffer en sierrooster is effe verander met die “facelift”. Die 1.4 Active is steeds die “pre-facelift”-model wat nie voorheen in Suid-Afrika beskikbaar was nie. Aan die binneruim is nie veel gekrap nie, behalwe die Active-weergawe wat rooi of blou insetsels in die bekleedsel kry, na gelang van die buiteruim se kleur. Die spesifikasievlak is tóg goed: Hyundai se inligtingstelsel wat navigasie kan bied teen ʼn koste van R2 000. Die bestuurder se venster kry ʼn outo-op-en-af-funksie, iPod-gereedheid en USB asook ʼn multifunksiestuurwiel. Die middelste armleuning kan vorentoe en agtertoe skuif na gelang van jou voorkeur. Die bestuurdersitplek kan op- en afstel, iets wat vir my ʼn vereiste is, en dit maak die kar regtig baie gemakliker.

Die opgeknapte model is sowat R5 000 duurder as sy vorige model, afgesien van die redelike besparing tussen die ou Sport en nuwe Active van R13 000. Die i20 is vir my ʼn moeilike een om op te som. Dit is ʼn goeie kar, en ry heel lekker – maar met reuse soos die Fiesta en Polo in die mark, teen die pryse waarvoor hulle beskikbaar is, voorspel ek ʼn tawwe tyd vir die i20. Maar – as ek kyk na die “warranty burn rate” is die i20 buitengewoon betroubaar, en dit spreek boekdele.

Die reeks lyk só:

Hyundai i20 1.2 Motion-handratR229 900
Hyundai i20 1.2 Fluid-handratR241 900
Hyundai i20 1.4 Motion-outoR254 900
Hyundai i20 1.4 Fluid-handratR266 900
Hyundai i20 1.4 Fluid-outoR284 900
Hyundai i20 .14 Active-handratR279 900

Ons sal met ons indiepteresensie die i20 met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Turbo ·

Ek veronderstel die 1.2 is 61 Kw en 115 Nm.

Selfs die 1.4 se wringkrag is ook maar beroerd (agv geen turbo?) – gee my eerder die Polo GT @ R245K. (O toggie! Ons vergl alweer met Uber VW! :) )

anton ·

Dit is n baie goeie en betroubare motor maar dit het belaglik duur geword!!!
In 2013 het n Fluid 1.4 so R165 000 gekos.
Dus R100 000 duurder in net 5 jaar!!!
Die prys van voertuie in die land is uiters belaglik.
Wonder hoeveel steek die regering in hulle sake? behalwe die belasting natuurlik.

Chris Ws ·

op elke nuwe motorvoertuig wat in die land verkoop word is die belasting 45% van sy prys.So vir ‘n voertuig wat R250,000 kos kry die regering R112,500!Maw die ware prys is R137,500!Dis waarom ons motors se pryse so hoog is hier.Lekker ou Suid Afrika met die wet van Transvaal wat steeds geld.

Brendon ·

Dagsê Turbo,

Baie dankie vir die kommentaar. Die fout is reg gestel.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Joe-v-Heerden ·

Hallo Brendon,

Soos al verskeie kere genoem, hier en op ander sosiale media, het (nuwe) motorpryse in SA geweldig in die laaste dekade gestyg. Ek begryp die swak rand en wisselkoers se negatiewe uitwerking op pryse, maar ek weet ook dat daar meer agter die kap van die byl is.

Wat van ‘n bietjie ondersoekende joernalistiek, met ‘n deeglike uiteensetting – in keurige Afrikaans – wat die samestelling van verkoopprys by die handelaar van ‘n (nuwe) ingevoerde motor asook plaaslik vervaardigde motor (bv Polo Vivo), bepaal?

Nou daai sal ‘n interessante brokkie nuus wees! Kan ons op jou reken, Brendon?

Brendon ·

Baie dankie vir jou kommentaar, Joe.

Ek kyk wat ek kan doen – hou die spasie dop.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

chrisjan ·

op elke nuwe motorvoertuig wat in die land verkoop word is die belasting 45% van sy prys.So vir ‘n voertuig wat R250,000 kos kry die regering R112,500!Maw die ware prys is R137,500!Dis waarom ons motors se pryse so hoog is hier.Lekker ou Suid Afrika met die wet van Transvaal wat steeds geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.