Bekendstelling: Jimny klim die berg

Die nuwe Jimny. Foto: Verskaf

Kyk, ek is ongeveer 15 jaar in die motorbedryf en ek het nog nooit soveel ophef oor ʼn nuwe voertuig beleef soos met die splinternuwe Suzuki Jimny nie.

Al die motormanne wat ek ken, van dié wat motorfiets ry tot die spoedvrate tot die 4×4–ouens, was almal só opgewonde oor dié outjie dat hulle hul nie kon help nie.

Die Jimny se voorvader – die LJ –  is in 1970 bekendgestel en is tot 1981 vervaardig. Die SJ was tot 1998 in Suid-Afrika beskikbaar. Ons het in 2008 eers die Jimny gekry, toe is die ontwerp al 10 jaar oud en ons het dit vir 10 jaar gekry. Nou is dit tyd vir die allernuutste Jimny om uit te blink.

Die nuwe Jimny. Foto: Verskaf

In ʼn tyd waar die meeste vervaardigers se voertuie groter, swaarder en meer ingewikkeld raak, het Suzuki besluit om die voertuie effe te vereenvoudig en ʼn nostalgiese ontwerptaal te gebruik sodat die voertuig meer soos sy LJ‑ en SJ‑voorgangers lyk. Regtig oulik.

Die Jimny is gewild vir sy uitmuntende 4×4-vernuf en dus word die leer-raam-onderstel behou. Suzuki het ʼn gepatenteerde dwarsbalk wat hulle Suzuki X-balk noem wat die onderstel versterk tussen die twee aste. In my opinie was een van die vorige Jimny se enigste tekortkominge die feit dat die voertuig nie met ʼn ewenaarslot toegerus was nie. Dit is nou opgelos met ʼn elektroniese toordery waar die remme ingespan word om te verseker dat die wiele wat in die lug staan, gerem word, en dus word die krag na die wiele gestuur waar dit nodig is.

Die nuwe Jimny. Foto: Verskaf

Die vierkantige ontwerp van die Jimny is gepas en regtig oulik. Die buksie lyk sommer wintie van ʼn afstand af. Ek is mal daaroor. Die binneruim is waar die Jimny regtig beïndruk teenoor sy voorganger. Voorste passasiers het 30 mm meer beenruimte, agterste passasiers 40 mm meer en die voorste sitplekke kan 240 mm verder agtertoe skuif vir die langste boontjierankers tussen ons. Skouerruimte is baie verbeter en die binneruim van die Jimny voel baie meer ruim as voorheen.

Daar is ʼn nuwe kragbron in die Jimny – Suzuki se K15B 1.5 atmosferiese viersilinderpetrolenjin. Dié enjin bied 75 kW en 130 Nm. Al is die enjin groter as die vorige 1.3 is hy heelwat ligter op brandstof as sy voorganger. Die 5-spoed‑handrat sal 6.3ℓ/100km kan handhaaf op die gekombineerde siklus en die 4-spoed outo 6.8ℓ/100km.

Die vorige Jimny kon uitputtend raak op die lang pad, maar die kort tyd wat ons met die nuweling deurgebring het, wys dat dit glad nie die geval is met die nuwe een nie. Dit is ʼn atmosferiese Suzuki – trap hom, laat die toere klim en dit sal hol. Ons het op papperige bande maklik 140km/h gehaal op die toetsroete en in ʼn heuwelrige Mpumalanga kon die outo Jimny lag‑lag bulte teen 120km/h klim, mens moet net onthou dat dit atmosferies is – so moenie bang wees vir toere nie.

Ons sal vroeg volgende jaar ʼn week saam met die Jimny deurbring waar ons sal gaan baljaar en dit op video vir julle vaslê. Die bekendstelling het vir ons ʼn klein voorsmakie van sy 4×4-vernuf gegee, maar ek wil regtig die Jimny gaan uitdaag. Ons sal toue en maats saamvat, maar ek twyfel of dit nodig sal wees. Daar is ʼn wilde waglys – so as jy belangstel, staan maar in die tou. Ek wil.

Die reeks lyk só:

Suzuki Jimny 1.5i GA handrat2 jaar/ 30 000km diensplanR264 900
Suzuki Jimny 1.5i GLX handrat4 jaar/ 60 000km diensplanR299 900
Suzuki Jimny 1.5i GLX outo4 jaar/ 60 000km diensplanR319 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000km waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

anton ·

Het die nuwe Jimny vandag gery. Duur speelding maar baie oulik. Sal baie goed lyk ln my motorhuis langs ouboet Vitara

Gemaskerde Sopbeen ·

In 1985 het ek so donkergroen sj410 gehad….Berg geklim met TWEE jagters EN ‘n blesbok agterop!! En twee koppies koffie lank gewag vir die manne met die “regte 4×4’s” om die pad te soek na die Poskantoor toring bo-op die berg… Hulle kon nie hulle oë glo nie. Nogal spyt dat ek van hom ontslae geraak het, maar daai ellendige topspoed van 100km/u was uitmergelend as die jagveld 600km ver is…..

Johan ·

Knapgedaan Suzuki!!! Ek hoor die waglys is nou al ses maande wat langer word by die dag, en dit is goeie nuus vir die nuwe Jimny se toekomstige herverkoopswaarde. Ek hoop van harte dat ‘n afslaandak-weergawe (soos oupa SJ) ook die lig sal sien!

Pat ·

Daai 1500 gaan goee wees maar dit is n fantastiese voertuigie. Sterk en goed gebou en klim oral uit. Sal wag vir doe nuwe een maar die oue behou.

marco polo ·

Daardie elektroniese toordery wat jy van praat, word Traction Control of traksiebeheer genoem en dis al stokoud. Ek ry met die vorige geslag Jimny in China, 1.3 outomaties, maar alhoewel hy baie oulik is, is hy piepklein en glad nie gemaklik op die langpad nie. Maar ek dink die vorige model lyk beter as die nuwe een.

Willie ·

Hy lyk goed, en sal sekerlik goed wees – dit is mos ‘n Jimny.

Net jammer die rand is so bleddie vrot… daai pryse is maar hoog vir so klein tjorrie

Sputnik ·

Twee vrae:
1). Wat bedoel die skrywer in dié geval met “atmosferies”? – dalk dat dit nie turbo-aangejaag is nie?
2). Waar bêre mens jou selfoon – is daar plek daarvoor? ;-)
Help asb!

Vraagteken ·

@Sputnik, jy is 100% reg. Atmosferies beteken in hierdie geval dat hy nie afhanklik is op ‘n aanjaer (turbo) nie.

Andre C ·

n Mens mag nie begeer nie,maar as ek die lotto wen…………

Anoniem ·

Baie oulik, maar teen R320 000-00? Dan kan ek al na ‘n 2de handse Cruiser begin kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.