Bekendstelling: Kaatjie van die baan

Die splinternuwe Jaguar E-Pace (Foto: Jaguar)

Jaguar het gister sy splinternuwe Jaguar E-Pace in Suid-Afrika bekendgestel. Die E is die nuutste lid van die PACE-familie van Jaguar se sportnutsvoertuie. Die twee modelle nou in Suid-Afrika beskikbaar is die E- en F-Pace. Ons sal moontlik reeds in die eerste kwartaal van 2019 die vol-elektriese I-Pace ontmoet.

Die ontwerp is eg-Jaguar. Ek dink die E-Pace is asemrowend mooi, selfs ʼn verbetering op die reeds mooi F-Pace. Die E-Pace is Jaguar se mediumgrootte sportnuts met vyf sitplekke. Die voertuig is gebou op dieselfde platform as Land Rover se Discovery Sport en Range Rover se Evoque. Glad nie ʼn slegte plek om te begin nie.

Die buiteruim van die E-Pace het dieselfde vloeiende lyne waaraan ons gewoond is met Jaguar. Jaguar se kenmerkende sierrooster en ligte gee die kietsie ʼn aggressiewe voorkoms, en dit is nie net bek sonder binnegoed nie. Daar is drie diesel- en twee petrolenjins beskikbaar in die reeks. Almal is Jaguar se nuwe Ingenium-reeks enjins, oftewel 2.0-viersilinderturbo-enjins. Dié met minder krag is meer ekonomies, en dié wat vuur spoeg, is meer gerat vir 0 – 100 km/h as liter per 100 km. Die E-Pace het D150, D180, D250, P250 en P300. Die nommer staan vir die hoeveelheid perde, of katte wat onder die kap skuil. In ooreenstemming met luukse voertuie deesdae is daar ʼn magdom verskillende spesifikasievlakke beskikbaar. S, SE, HSE, R-Daynamic S, R-Dynamic SE, R-Dynamic HSE. Mens kan dan ook die binneruim verpersoonlik presies na jou eie smaak.

Al ry die E-Pace op reusagtige 20″-wiele met die opsie om 21″-wiele te kies, word die ritgehalte nie sleg beïnvloed nie. Mens kan duidelik voel dat die E-Pace baie meer sportiewe intensies het as sy Land Rover Discovery Sport-neef. Daar is so te sê geen bakrol nie en die stuur lekker akkuraat, al voel die stuurwiel self vir my altyd effens groot in ʼn Jaguar.

Die binneruim is net so mooi soos die buitekant. Die E-Pace het nou Jaguar se nuwe 10″-raakskerm en 4G WiFi hotspot. Elke kliënt koop sy of haar eie simkaart en dataplan wat aan sy of haar vereistes voldoen, installeer dit in die kar en geniet 4G in die voertuig. Daar is 5 USB-poorte vir slimfone asook vier 12V-laaiproppe. ʼn Tegno-boffin se nirvana. Beenruimte vir agterste passasiers is indrukwekkend goed vir die voertuig se afmetings en Jaguar Suid-Afrika het verseker dat daar ʼn spaarwiel is, en die opsie vir ʼn volgrootte spaarwiel.

Die splinternuwe Jaguar E-Pace (Foto: Jaguar)

Sou mens die P300-model kies, kan jy van 0 – 100 km/h in 6.4 sekondes snol en aanhou draf tot ʼn asemrowende 243 km/h. Indien spoed nie jou koppie tee is nie, kan mens die D150-model kies en rustiger ʼn brandstofverbruiksyfer van 5.6 ℓ/100 km behaal. Alle E-Pace is toegerus met Jaguar se negespoed- outomatiese ratkas en allewielaandrywing. Die HUD-vertoon verseker dat jou oë te alle tye op die pad is om veilig jou E-Pace te geniet.

Wat ons sover van die E-Pace gesien het, is voorwaar indrukwekkend. ʼn Mededingende prys vanaf R598 500 plaas hom binne die bereik van baie mense wat tans in die mediumgrootte sportnutsvoertuigwêreld leef. Ons het ʼn voorsmaak gehad van ʼn petrol- en dieselweergawe en albei ry lieflik, al voel die dieselweergawe soms effe traag om te reageer in wegtreksituasies. Dit kan moontlik wees dat die diesel tyd nodig het om mooi in te loop en vir die intelligente ratkas om gewoond te raak aan sy eienaar. Die petrolweergawe voel egter asof daar ʼn bomklapper onder die versneller skuil, en ek is mal daaroor.

Om jou eie pasgemaakte Jaguar saam te stel – klik hier: configurator

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Ons sal binnekort die E-Pace in diepte toets en dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Pelindaba

Die uitdrukking is inderdaad “kaatjie van die baan”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.