Bekendstelling: Kia het ʼn reusagtige 20 jaar…

Die Kia Sorento. Foto: Verskaf

Maroela Media het onlangs ʼn naweek saam met Kia Suid-Afrika deurgebring. Ons het ʼn reistog van Kaapstad na Port Elizabeth onderneem in twee van hul nuutopgeknapte modelle, die Sorento en Grand Sedona.

Ek onthou die eerste keer wat ek ʼn Kia gesien het. Ek was nog op hoërskool toe die eerste Kia Pride sy buiging in Suid-Afrika gemaak het. Suid-Afrika het toe oor die nuwe Koreaan gevoel soos ons nou oor die Sjinese voel… skepties. Kia het wel bitter hard gewerk oor die volgende paar jaar, en betroubare rygoed na Suid-Afrika toe ingevoer. Met sewe personeellede by hul hoofkantoor en 19 handelaars, het Kia in hul eerste jaar maar net 310 eenhede verkoop. Kia verkoop nou 310 eenhede ʼn week in Suid-Afrika. Hoe het dit gebeur?

Die Kia Grand Sedona. Foto: Verskaf

Heel eenvoudig. Kia het in 2006 Peter Schreyer by Audi gewerf. En só is Kia in die elegante reus omskep wat dit vandag is. In 1999 was Kia heel onder aan J.D. Power se Initial Quality Study. In 2018 is hulle vir die derde agtereenvolgende jaar heel bo… nommer 1. Saam met Schreyer het Kia 37 toekennings in 10 jaar opgeraap. Dit is voorwaar indrukwekkend om in só ʼn kort tydperk so baie te vorder. So, wat nou?

Kia het besluit dit is tyd om met motorliefhebbers se harte te praat. Dus is die Kia Stinger gebore. ʼn Agterwielaangedrewe sportsedanmotor met ʼn tweeling‑turbo V6‑petrolenjin. Dié enjin bied ʼn indrukwekkende 272 kW en 510 Nm. Dit is sportmotorsyfers in enige taal.

Wat van hul ander motors? ʼn Toekomstige opknapping is dat die Kia Rio ʼn 6-spoed outomatiese ratkas kry. Ons sal binnekort ʼn beurt kry daarmee … maar tot dán is die fokus op die nuwe 8-spoed outomatiese ratkas wat in die opgeknapte Sorento en Grand Sedona is.

Die Kia Grand Sedona. Foto: Verskaf

Kom ons begin by die Grand Sedona. Soos van julle weet, het ek drie kinders. Vroulief verkies ook groter rygoed in plaas van piepklein buksies. Die Grand Sedona is ʼn metamorfose tussen ʼn bus en ʼn MPV. Dis nie so lomp soos ʼn bus nie, maar nie so klein soos ʼn MPV nie. Dis soos die beertjie se pap… net reg. Toevallig is daar plek vir agt beertjies en mens hoef nie die sewende en agtste beertjie se bene af te kap om hulle in te kry nie.

Die Grand Sedona het skuifdeure aan beide kante, so daar is ook geen kans dat een van die beertjies die buurman se motordeur hervorm met aanhoudende gekap in ʼn parkeerterrein nie. Wat die Grand Sedona ook onderskei van sy meer busagtige mededingers, is die luuksheid. As mens sulke gemak en weelde in busvorm wil hê, moet mens na Mercedes-Benz se V-Klas kyk, en spesifiek die V250d. Dán is die Kia ʼn winskoop teen R320 000 minder as die Mercedes.

Die Kia Sedona. Foto: Verskaf

Nog ʼn afdeling waar die Grand Sedona die busse in die stof laat byt, is in die bougehalte. Dalk is bougehalte nie die regte woord nie. Busse het enorme panele sonder iets in die middel. Ek het onlangs agter in ʼn VW Kombi gery en gedink, sjoe – die ding ratel heelwat. Dit is egter nie die geval met die Hyundai H1 waarmee ons in Julie getoer het nie. Ons kry volgende week ʼn intreevlak Vito‑bussie –ek sal dán ʼn beter idee hê van hoe die Mercedes-Benz vaar. Mens gaan wel sukkel om die Kia se spesifikasievlak elders te vind.

Die Grand Sedona en Sorento is met Kia se puik 2.2‑turbodiesel toegerus. Dié enjin bied 147 kW en 440 Nm. Dit is voorwaar indrukwekkende syfers. Dié enjin is wel nou in beide voertuie aan Kia se nuwe 8-spoed outo gekoppel en dryf die voorwiele.

Die Kia Sedona. Foto: Verskaf

Die ratkas is seepglad en mens sien net die toereteller beweeg. Die ratkas is intuïtief en in geen stadium op die 400 km het ons gesukkel met die ratkas vat of rondsoek vir ratte nie; óf mens verbysteek óf bergpas klim, hy gedra hom regtig puik.

Die Grand Sedona se ritgehalte is vir my in die kol. Daar is nie vreeslike bakrol nie – maar hy is ook nie kliphard geveer wat die rit vir passasiers bederf nie. Padhouvermoë deur Wes-Kaapse bergpasse was regtig goed vir dié klas voertuig. Die Grand Sedona bied ʼn unieke ervaring as mens meer as sewe sitplekke soek.

Die Grand Sedona reeks lyk só:

Kia Grand Sedona 2.2 CRDI EX 7-sitplekR599 995
Kia Grand Sedona 2.2 CRDI EX 11-sitplek *R615 995
Kia Grand Sedona 2.2 CRDI EX+ 8-sitplekR629 995
Kia Grand Sedona 2.2 CRDI SXL 7-sitplekR782 995

*Die 11-sitplek Grand Sedona is slegs op bestelling beskikbaar en het ongeveer  ʼn 4-maande‑wagperiode. Dié reeks word gedek deur Kia se markleidende 5 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km diensplan en padbystand.

Die Kia Sorento. Foto: Verskaf

As ons aanbeweeg na die Kia Sorento dink ek dit is ʼn vreeslik onderskatte juweel. Dit is ʼn volgrootte sportnutsvoertuig met sewe sitplekke en uiterse gemak. Daar is steeds Kia se kenmerkende bougehalte wat dit eerste plek in die J.D. Power Initial Quality Study laat kry het.

Die kajuit is voorwaar gemaklik met ʼn goeie standaard spesifikasievlak. Die Sorento geniet dieselfde enjin en ratkas wat in die Grand Sedona diens doen. Ons het ʼn voorwielaangedrewe Sorento gery, en in daai spesifikasie met die 8-spoed outo kon ons teen 120km/h maklik 7.3ℓ/100km handhaaf op die oop pad. Indrukwekkend vir dié grootte voertuig met vier volwassenes en bagasie.

Die Kia Sorento. Foto: Verskaf

Leerbekleedsel en sewe sitplekke is nou standaard deur die bank. ʼn Reusagtige spesifikasievlak beïndruk met ʼn 8”‑raakskerm met navigasie. Ritgehalte in die Sorento is net so gemaklik soos in die Sedona en padhouvermoë glad nie te versmaai nie.

Vir diegene wat goed wil sleep, sal ek sê die AWD Sorento sal ʼn asemrowende sleepvoertuig maak. Ons sal binnekort ʼn beurt met beide modelle kry en sal hulle dán met hul mededingers vergelyk.

Die Sorento‑reeks lyk só:

Kia Sorento 2.2 CRDI LXR569 995
Kia Sorento 2.2 CRDI LX AWDR609 995
Kia Sorento 2.2 CRDI EXR599 995
Kia Sorento 2.2 CRDI EX AWDR639 995

Die reeks word gedek deur Kia se markleidende 5 jaar/onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km diensplan en padbystand.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vraagteken ·

Dis darm moeilik om ‘n Sorento bo ‘n Fortuner te koop. Ek sal maar eerder daardie klein bietjie by sit en hom koop (dis nou die Fortuner).

Susan ·

Vraagteken, dit is duidelik jy het nog nie Sorento besit nie! Doen jou self die guns en Gaan toetsbestuur die Sorento voor jy n Fortuner koop, jy sal nooit jammer wees nie. Het so pas die nuutste( en ons 2de) Sorento aangekoop en dit is n droomvoertuig.

Johan ·

Ek stem. Die Fortuner beskik oor die volgende positiewes bo die Sorento:
1. Fortuner het puik herverkoopswaarde
2. Fortuner is gemaak vir rowwe 4X4-ry, die AWD Sorento beskik nie oor “low-range” nie, en die Sorento het ‘n irriterende “traction control” systeem waar die Fortuner’s (selfs 4X2) oor ‘n “diff-lock” agter beskik. (Dus is die voorwielgedrewe en AWD Sorento’s slegs vir mooi grondpaaie geskik)
3. Die Toyota se instandhoudingskostes (as uit diensplan is) is baie goedkoper as KIA s’n!

JWC ·

Wat?? So, twee van die Koreaanse stukke blik kos die prys van ‘n huis?? Nee dankie! Ek het self al 12 jaar ‘n Kia en dit is goeie voertuie, maar dit is duidelik dat die waarde vir geld beginsel nou vervaag. Die nuwe Chinese produkte begin skielik baie meer aantreklik lyk…..

Johan ·

JWC stem saam. Ek het self Kia gehad en dink ook dit is goeie motors. Maar hulle het begin mal raak met hul pryse? Hulle is nou “op par” met die ander handelaars waar hulle enkele jare gelede by verre die beste waarde vir geld was.

Andre C ·

Puik produkte.kwaliteit teen n goeie prys en baie betroubaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.