Bekendstelling: Kia kikker sy troefkaart op

Die KIA Sportage 1.6 GDI Ignite. Foto: Verskaf

Die Sportage is Kia se mees suksesvolle model in die groep se 25 jaar lange geskiedenis. Die Sportage is by die 1991-Tokyo-motorskou uitgestal en die eerste weergawe het net oor die halfmiljoen eenhede wêreldwyd laat verkoop.

In 2004 is die tweede generasie bekendgestel en ná sewe jaar het daai weergawe ʼn indrukwekkende 1,2 miljoen eenhede laat verkoop. Die derde generasie wat Kia as maatskappy op die wêreldkaart geplaas het, het in net vier jaar tot die verkope van meer as ʼn miljoen eenhede en twee miljoen in sy ses jaar lange produksietydperk gelei.

Die KIA Sportage 1.6 GDI Ignite. Foto: Verskaf

Nou is dit tyd om die vierde generasie op te knap. In ʼn segment waar elke vervaardiger vuis slaan om deel te neem, is dit regtig ʼn bloedbad om jou aanbieding net reg te kry. Die sedan-segment krimp elke maand, maar die C-segment-sportnutsvoertuig-segment bars uit sy nate. Daar is klomp mededingers, en elke vervaardiger doen wat hy voorspel die mark wil hê – en slaan nie altyd die spyker op die kop nie. Dus het Kia nou vir die tweede keer sy Sportage-reeks se aanbieding verfyn.

Kia het nou ontslae geraak van die 2.4-enjin in al sy spesifikasievlakke, asook die reeksleidende 1.6 T-GDI in sy GT-Line-spesifikasie. Daar is nou ʼn nuwe 1.6 GDI-enjin beskikbaar in die intreevlak Sportage Ignite. Dié 1.6 GDI bied 97 kW en 161 Nm wringkrag en is slegs beskikbaar in outo. Dit is heeltemal voldoende vir ʼn groot gedeelte van die mark.

Die KIA Sportage 1.6 GDI Ignite. Foto: Verskaf

Vir dié wat meer soek, is die 2.0 MPI beskikbaar met 115 kW en 196 Nm in handrat én outo. Die 2.0 CRDI-enjin wat 131 kW en 400 Nm bied, word nou nóg beter met ʼn 8-spoed-outokas wat ons onlangs in die Sorento en Grand Sedona ervaar het. Dié ratkas is voorwaar indrukwekkend en wissel seepglad tussen ratte.

Die buiteruim is effe opgeknap met meer aggressiewe voor- en agterbuffers sodat die motor aantrekliker is vir ʼn breër mark en om meer mans te probeer lok. Die binneruim van die Sportage is vir my nog altyd lieflik. Dit is regtig gemaklik en mooi uitgelê. Die bougehalte is van die boonste rak en die spesifikasievlak beïndruk, selfs op die intreevlak Ignite.

Ritgehalte is gemaklik en nie te hard geveer nie – iets wat ek deesdae hoog op prys stel met gesinsmotors. Die Sportage is in die kol daarmee. Die padhouvermoë vir gewone omstandighede is heel goed, maar ons het nie daarop uitgegaan om te kyk hoe vinnig ʼn mens met die Sportage om draaie kon ry nie.

Die KIA Sportage 1.6 GDI Ignite. Foto: Verskaf

Die wind het storms gewaai in die Kaap, so die 1.6 GDI het gebrul om teen die Suidooster te veg, maar ek dink nie dit is daai model se natuurlike habitat nie. In die stad waar rustiger bestuurstyle toegepas word, dink ek hy gaan uitblink.

Die Sportage-reeks is nou mooi versprei tussen R379 995 en R549 995. Die produk is regtig mooi en indrukwekkend netjies aanmekaargesit. Daar is verskeie kragbronne om van te kies en keur. Ek persoonlik dink die 2.0 CRDI Ignite Plus teen R453 995 bied die beste balans tussen spesifikasie en prys. Ons sal weer tyd met die 1.6 GDI deurbring en kyk hoe hy hom in die stad gedra.

Die reeks lyk só:

Kia Sportage 1.6 GDI Ignite 6-spoed outo97 kW/161Nm12.1 sek170 km/hR379 995
Kia Sportage 2.0 Ignite Plus 6-spoed handrat115 kW/196 Nm10.5 sek186 km/hR389 995
Kia Sportage 2.0 Ignite Plus 6-spoed outo115 kW/196 Nm11.1 sek181 km/hR403 995
Kia Sportage 2.0 CRDI Ignite Plus 8-spoed outo131 kW/400 Nm9.3 sek201 km/hR453 995
Kia Sportage 2.0 EX 6-spoed outo115 kW/196 Nm11.1 sek181 km/hR459 995
Kia Sportage 2.0 EX Plus 6-spoed outo115 kW/196 Nm11.1 sek181 km/hR499 995
Kia Sportage 2.0 CRDI EX 8-spoed outo131 kW/400 Nm9.3 sek201 km/hR509 995
Kia Sportage 2.0 CRDI EX AWD 8-spoed outo131 kW/400 Nm9.3 sek201 km/hR536 995
Kia Sportage 2.0 CRDI EX Plus 8-spoed outo131 kW/400 Nm9.3 sek201 km/hR549 995

Die reeks word gedek deur Kia se markleidende vyf jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan met vyf jaar padbystand.

Ons sal met die indiepteresensie van die 1.6 GDI die reeks teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.