Bekendstelling: Koepees groei soos bossies

BMW se splinternuwe X4. Foto: Verskaf

My kop wil nie lekker verstaan wat is ʼn koepee met vier deure nie. Nog minder ʼn sportnutsvoertuig met ʼn agterent wat lyk asof ʼn mediumgrootte olifant daarop gesit het – dink in die rigting van ouer fastback-karre uit die sestiger- en sewentigerjare. Nou noem mens dit ʼn koepee. Reg. My kop sê ʼn koepee het twee deure en is ʼn sportmotor.

Wel, BMW het ander idees, en het verlede week ʼn ver pad gestap om my te oortuig dat ʼn sportnutsvoertuig met ʼn koepee-silhoeët nie noodwendig ʼn slegte ding is nie. Vanuit die bestuurdersitplek voel die X3 en die X4 so te sê dieselfde … en die X3 is ʼn puik beginpunt.

BMW se splinternuwe X4. Foto: Verskaf

Die splinternuwe X4 voel myle beter as sy voorganger. Die binneruim se bougehalte is van die boonste rak en die spesifikasievlakke is nes mens verwag van ʼn luukse handelsmerk soos BMW.

BMW is besig om verskeie weergawes onder elke model te konsolideer. Mens kon ʼn magdom verskeie enjins, ratkaste, bakwerkpakkette en so aan kies. Hul nuwe strategie is in lyn met die vraag na hul modelle. Van die petrolweergawes soos die 30i het nie meer goed verkoop nie. So sal die meeste van die reeks in BMW se aanbieding ʼn 20i en 20d as intreemodelle hê, en dan die meer sportiewe modelle soos ʼn 30d en 40i. Die splinternuwe BMW X4 is tans beskikbaar in Suid-Afrika as ʼn 20i, 20d en M40i. Daar sal van vroeg volgende jaar ʼn M40d beskikbaar wees.

BMW se splinternuwe X4. Foto: Verskaf

Die X4 is tipies BMW. Dit ry heerlik met ʼn stil kajuit. Die enjins is romerig en die kraglewering egalig. Brandstofverbruik in die 20i is heel billik en die 20d is regtig lig op brandstof. Ek’t nie met die M40i by die bekendstelling gery nie, maar sal hom te toets kry vroeg volgende jaar. Die vering, al is dit sportief, het regtig goed gevaar op Natal se landelike paaie waar mens om ʼn draai kom en sommer verras word deur ʼn stel spoedhobbels.

BMW het wêreldwyd 200 000 X4’s verkoop sedert die bekendstelling in 2014. ʼn Derde van BMW se voertuie wat nou verkoop word, is ʼn X-model. Sedert die eerste X5 in 1999 het BMW al 5,6 miljoen X-voertuie verkoop. Daar is ʼn wêreldwye skuif na sportnutsvoertuie, en die groot Duitse vervaardigers bied almal nou koepeeweergawes van hul sportnutse. Dit ry lekker, en van hulle is bitter mooi. Gaan toetsbestuur self een.

Bou jou eie X4 hier: https://www.bmw.co.za/en/ssl/configurator.html#/UJ52/S02TB/G02/esl/new/

Die X4-aanbieding lyk só:

X4 xDrive20i135 kW/290 Nm7.8 ℓ/100 kmR843 000
X4 xDrive20d140 kW/400 Nm5.6 ℓ/100 kmR843 000
X4 M40i265 kW/500 Nm9.2 ℓ/100 kmR1 132 800

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.