Die mediabekendstelling van die splinternuwe Lamborghini-handelaar in Kaapstad is Woensdag gehou.
Die nuwe handelaar in Century City is die eerste van sy soort van Lamborghini se nuwe teenwoordigheid in Midde-Ooste- en Afrika-streek.
Dié handelaar is die tweede van drie handelaars wat in Suid-Afrika nuwe Lamborghini’s sal verkoop. Die takke is Johannesburg, Kaapstad en Umhlanga, wat nog geopen moet word.
LSM Distributors wat in 1996 gestig is, is sedertdien die verspreider van Porsche-motors in Suid-Afrika. Onder Toby Venter se leierskap het Porsche reusesukses behaal en is LSM Distributors drie jaar gelede ook aangewys as die verspreider vir Bentley-motors.
In 2014 het Venter Kyalami op ʼn veiling gekoop en van eiendomsontwikkelaars gered. Na reuse-opgraderingswerk aan die renbaan en die konvensiesentrum het Kyalami nou die glorie begin smaak wat die afgelope dekades verlore was.
LSM Distributors is intussen aangewys as die verspreider van Lamborghini’s in Suid-Afrika. “LSM Distributors is ʼn maklike keuse as ʼn mens kyk na hul werksetiek en sukses met nismarkte, en sportmotors”, sê Stefano Domenicali, uitvoerende hoof van Automobili Lamborghini.
Om dié opening te vier is die splinternuwe Lamborghini Urus vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse media gewys. Die eerste Urus sal in die laaste kwartaal van 2018 afgelewer word. Domenicali sê Lamborghini het sy fabriek uitgebrei om kapasiteit te verhoog.
Die Urus is ʼn belangrike model vir Lamborghini, en sy sukses sal die handelsnaam toelaat om in die toekoms hul supersportmotors soos die Aventador as fokuspunt te hou. Hy sê ook dat nuwe tegnologie soos hibridiese kragbronne wel sal kom, op die regte tyd – maar dat V10-krag in die Huracan en V12-krag in die Aventador hier is om te bly … dalk mét elektrifisering in die volgende modelle.
Die Lamborghini Urus:
Welkom aan die eerste supersportnutsvoertuig op aarde. Die Urus geniet egte 4×4-vermoë en asemrowende werkverrigting. Die Urus het ʼn 4,0 V8-enjin met twee turboaanjaers.
Dié enjin bied ʼn verbysterende 478 kW teen 6 000 r/min en 850 Nm teen 2 250 r/min. 0 – 100 km/h neem maar net 3,6 sekondes, 200 km/h word bereik binne 12,8 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn asemrowende 305 km/h. Dit is die vinnigste sportnutsvoertuig wat tans beskikbaar is.
Kopers van die Urus sal nie na die prys vra totdat hulle ʼn oorplasing moet doen nie, maar ek was nuuskierig … ʼn koel R3,5 miljoen. Eintlik baie goedkoper as wat ek gedink het.
Kan ek asb 2 kry… siende hulle goedkoper is as gedink?
Seker mooi en spesiaal in eie reg, maar vir R3.5m koop ek vir my eerder 3 Land Cruiser Stasiewaens.
Lamborghini, Maserati, Ferrari: Ek sal seker darem die 1:43 skaalmodeletjies kan bekostig, maar dis waar dit sal eindig. Dit sal net ‘n droom bly soos in my kinderjare toe my kamermure vol motorprente geplak was. EISH!
Nee wat, ek vat eerder n Bugatti Chiron vir R50 miljoen……terwyl ons dan nou so kwyl en droom.