Bekendstelling: Lexus V6 is ʼn simfonie

Die opgeknapte Lexus RC 350 F Sport. Foto: Verskaf

Een van die dinge wat vir my deesdae vreesaanjaend is, is die feit dat bitter min vervaardigers nog atmosferiese enjins ontwikkel. Baie van hulle gebruik al kleiner en kleiner viersilinder-turbopetrolenjins in hul voertuie. Darem het Lexus nog hul eie idees van wat belangrik is, en ek stem met hulle saam.

Welkom aan die opgeknapte Lexus RC 350 F Sport. Dit is ʼn agterwielaangdrewe, tweedeur sporttoermotor. ʼn Romerige 3.5 V6 voor, ʼn lieflike 8-spoed outomatiese ratkas in die middel en dryfas agter. Dié V6 bied ʼn behoorlike 232 kW teen ʼn orkestrale 6 600 r/min en 380 Nm teen 4 800 r/min. 0 – 100 km/h neem 6,3 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 230 km/h. Daar is vinniger vuurvreters daar buite – maar min is so lekker om te ry soos die Lexus. Die kombinasie van die vier bonokaste, 24 kleppe, direkte brandstofinspuiting en veranderlike kleptydsberekening bied blitsige reaksies op die versneller – nes dit hoort.

Die opgeknapte Lexus RC 350 F Sport. Foto: Verskaf

Die opknapping aan die ontwerp is regtig mooi. Die nuwe ligte en sierrooster rond die pakket mooi af. Die nuwe sierwiele pas perfek by die ontwerp, en uit meeste hoeke is die proporsies perfek. Die binneruim is waar die RC F Sport vir my nóg sing. Dit voorste sitplekke is uiters gemaklik en hou ʼn mens lekker styf vas, sonder om jou dood te druk. Die sitplek kan lekker laag stel en die stuurkolom kan vir reik en kantel gestel word. Die kajuit is lekker ergonomies uitgelê en van uiterse gehalte.

Die kersie op die koek is die F Sport se ritgehalte. Talle motors is deesdae kliphard geveer. Nie die RC nie. Die vering is lieflik soepel, sonder enige bakrol. Die stuur is direk en vinnig en die RC gaan presies waar jy hom stuur. Die toetsroete was in en om die Magaliesberge, en die RC het hom puik gedra. Nóg ʼn troefkaart in die RC se mou is die feit dat ek op die toetsroete ʼn indrukwekkende 9,4 ℓ/100 km behaal het, puik vir ʼn V6.

Ons sal weer tyd met dié juweel deurbring en sien hoe hy hom daagliks gedra, in die verkeer en so meer. Ons sal die RC dán teen sy mededingers vergelyk. Dit is ʼn lieflike ryding en ek kan nie wag nie.

Daar is nou slegs een model in die reeks:

Lexus RC 350 F Sport232 kW/ 380 Nm9,4 ℓ/100 km6,3 sek230 km/hR939 100

Die RC word gedek deur ʼn 7 jaar/ 105 000 km omvattende instandhoudingsplan en waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann cb ·

Kom teen ‘n kwaai prys! Ek wonder ook oor die binneruim se kwaliteit afwerking! Die Australiese motormedia kla heelwat daaroor!

Brendon ·

Dagsê Johann cb

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek kan jou beslis gerus stel. Die kwaliteit aan die binneruim is regtig goed. Die vakmanskap uit die boonste rakke.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Zack ·

Ek stem saam daar is baie beter kopies teen ‘n R1m. Ek ander feit is dat die Lexus nie waarde hou nie. ‘n Plus punt is sy “Looks”

Anton Kld ·

Zack die waarheid is dat geen voertuig in hierdie prysklas waarde hou nie. Toets maar die mark. Lexus prys is n alles insluitende prys en nie soos die Duiters waar elke ekstra , ekstra by die prys kom. Ek het self 3 Lexus’e gehad sedert 2007 en was meer as tevrede met inruil pryse .

Mornay ·

Ek dink dit moet 24 kleppe wees soos die BMW (M) reeks
maw. 4 kleppe per silinder
of wat se ek Brendon

Brendon Staniforth ·

Dagsê Elmer, Mornay & Da-eYe

Baie dankie vir julle kommentaar. Jammer vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.