Bekendstelling: Luukse Lexus kry nóg ʼn talent

Die nuwe Lexus RX350 L (Foto: Lexus)

Om suksesvol te wees moet ʼn voertuig eers aan sekere vereistes voldoen – dis hoe ek daaroor voel. Die vereistes is nooit dieselfde nie, party motors moet vinnig en rats wees, ander groot en sterk, ander klein en maklik om te ry. Dit was tot nou toe nie die geval met die Lexus RX nie. Dit was wel luuks, maar tog net ʼn 5-sitplek-sportnutsvoertuig met ʼn V6-petrolenjin, outomatiese ratkas en vierwielaandrywing. So ook is ʼn BMW X5, óf ʼn Mercedes-Benz GLE, of ʼn Audi Q7 en so aan. Maar… Lexus het hulleself nou in ʼn klein nis geplaas waar hulle moontlik baie helderder kan skitter. Welkom aan die Lexus RX350 L, met sewe sitplekke.

Hoekom is dit so merkwaardig vir my? Ekself het 3 kinders én ʼn ouma wat by ons bly. Dus is 7-sitplekke net nie genoeg nie. As daar enigsins maatjies en so wil saamry, is dit weereens nie genoeg nie. Die 7-sitplek-mark is tans nie só vol soos ʼn mens dink nie. My eie voertuig, ʼn Renault Grand Scenic, is nie meer in Suid-Afrika beskikbaar nie. Dit laat die Mitsubishi Outlander, die drie groot leerraamsportnutsvoertuie – Fortuner, Everest en Pajero Sport, dan voertuie soos Prado en Discovery wat meer ernstige 4×4-voertuie is… dan is daar ʼn gaatjie vir ʼn gewone sportnutsvoertuig sonder laestrek en reusegrondvryhoogte… en sover ek kan sien is daar nou net die Lexus en Audi Q7. Dit laat die Lexus in ʼn mark speel waar die BMW X5, Mercedes-Benz GLE, Volvo XC60 en Volkswagen Touareg nie kan meeding nie.

Die nuwe Lexus RX350 L (Foto: Lexus)

Is die derde ry sitplekke geskik vir volwassenes? Beslis nie, maar die voorste sitplekke en tweede ry is uiters luuks en gemaklik. Wat indrukwekkend is, is die kattebak se grootte met die derde ry sitplekke oop. Die RX geniet 3-sone-klimaatbeheer, so elke ry sitplekke kan hul lugreëling stel nes hulle dit verkies. Die middelry geniet ook sitplekverwarmers, nes die voorste sitplekke wat óók verkoel is en elektries kan verstel. ʼn Merkwaardige verbetering wat ek opgelet het teenoor die ouer RX-modelle, is die reuse- nuwe 12”-skerm. Dié skerm bied ʼn mens al die klimaat-, navigasie- en vermaakinligting. Daar is ook nuwe veiligheidstelsels wat beskikbaar is op die RX-reeks. Daar is boonop vier verskillende kleurskemas binne beskikbaar, naamlik Black, Ivory, Noble en Topaz Brown.

Wat van die enjin? Lexus kan gekritiseer word vir die feit dat daar geen dieselenjins in hul aanbieding is nie. Dit sal egter nooit aangespreek word nie om ʼn paar redes. Die Japannese was nog nooit diesel se grootse liefhebbers nie. Die Japannese wou eerder maniere soek om petrolenjins so lig op brandstof soos dieselenjins te maak. Die antwoord is hibridiese dryfstelsels. Lexus het al reusesukses behaal met hul tegnologie. Dit is ʼn mikpunt vir Lexus Suid-Afrika om die leiers te wees met ʼn ten volle hibridiese aanbieding. Elke reeks sal ten minste ʼn hibridiese model hê. Ek het met verskeie hibridiese Lexus’e gery – en die resultate is verrassend. ʼn Lexus CT200h, mediumgrootte luikrug met ʼn 1.8-viersilinderpetrolenjin bied ʼn brandstofverbruiksyfer van 4.6 ℓ/100 km. Dit is asemrowend goed.

Die nuwe Lexus RX350 L (Foto: Lexus)

Die Lexus RX450h is al jare in Suid-Afrika beskikbaar, en verkoop ʼn groot persentasie van die reeks. Sonder die hibridiese dryfstelsel is die 3.5 V6-petrolenjin ʼn lieflike masjien. Dit bied 216 kW en 358 Nm, skrams minder as die gewone RX350 weens ʼn enkeluitlaatpypstelsel wat die krag effe minder maak. Dit klink moontlik min teen vandag se turboaangejaagde enjins, maar op die pad met vier volwassenes en bagasie ry dit lieflik. Ons toetsroete was ongeveer 400 km oor twee dae, en ek’t die volle 400 km bestuur. Ek’t op beide dae 11 ℓ/100 km gehandhaaf, nie sleg nie vir ʼn permanente allewielaangedrewe, atmosferiese V6-petrolenjin.

Ek moes ʼn bietjie dink hoe om die Lexus RX350 L reg op te som. Dit is nou ʼn luukse 7-sitplek-sportnutsvoertuig met ʼn romerige, seepgladde V6-enjin. Al die luukse truuks wat ʼn mens soek is daar en die kajuit is vir my mooi. Nee, dit is nie ʼn Duitse binneruim nie, maar die Japannese benadering is vir my mooi op sy eie manier. ʼn Ander aspek van die Lexus is die onweerlegbare Japannese betroubaarheid en eenvoudige onderhoud, wat nie die geval is met sy mededingers nie.

Die reeks lyk só:

RX350221 kW/ 370 Nm9.6 ℓ/100 kmR916 600
RX350L216 kW/ 358 Nm11 ℓ/100 km *R949 300
RX450H230 kW/ 335+e Nm5.7 ℓ/100 kmR1 222 600

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/100 000 km-waarborg en 4 jaar/100 000 km-diensplan op die RX350- en RX350L-modelle. Die RX450H het ʼn 8 jaar/195 000 km-waarborg op die hibridiese battery en ʼn 4 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan. * Die brandstofverbruiksyfer gelys vir die RX350L is die werklike syfer op die toetsroete bereik, en nie in ʼn laboratorium nie.

Die kompetisie lyk só:

Audi Q7 3.0TDI Quattro183 kW/ 600 Nm6.3 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 052 000
Volvo XC90 T6 AWD Inscription235 kW/ 400 Nm8 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 057 024
Land Rover Discovery HSE Si6250 kW/ 450 Nm11.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 273 502
Mercedes-Benz GLS 350d190 kW/ 620 Nm7.1 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km waarborg

6 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 402 026

Die naaste mededinger aan die Lexus RX350L is die Audi Q7. Die Volvo, Land Rover en Mercedes-Benz is almal redelik groter voertuie met ʼn ander uitleg. Almal is tóg duurder, en die Audi slegs met ʼn dieselenjin beskikbaar. Die Q7 se binneruim is asemrowend elegant. Ek het nog nie ʼn Q7 gery nie en kan onmoontlik tussen dié mededingers kies. Ons sal ná ons indiepte-toets van die RX350L weer kyk na die mededingers en ʼn keuse probeer maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Regtig ·

Die Nm is regtig teleurstellind vir so ‘n mooi voertuig. Dis beslis nie jou idiale sleepvoertuig wat krag betref nie. Dis hier waar die Audi Q7 en BMW X5 ligjare voor is.

Vraagteken ·

Dit is hoekom hy die 8-spoed ratkas het. Dit laat jou toe om meer wringkrag op die wiel te sit vir langer tydperke – en die feit dat die engin teen ‘n hoër spoed kan roteer. Ja, daardie duitse voertuie is ligjare voor in terme van wringkrag op die dryfas maar onthou, dit is net vir ‘n kort ruk dan skakel die ratkas na die volgende rat. Die petrol gee minder wringkrag op die wiel maar dit hou baie langer (aangesien die petrol vinniger kan roteer – rpm).

Ek twyfel dat daardie diesels ook so lank gaan hou soos die petrol teenstander van Toyota; dit is seker hoekom Toyota nie die wringkrag verhoog nie – hulle handhaaf ‘n vergelykbare hoër ‘safety factor’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.