Bekendstelling: Mercedes-Benz X-klas nou in SA

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes)

Maroela Media was bevoorreg om die bekendstelling van die splinternuwe Mercedes-Benz X-klas by te woon. Dié voertuig is geen geheim, nou reeds vir ʼn geruime tyd. Die produksiemodel is verlede jaar aan die wêreld in ons eie Kaapstad gewys.

Die nuwe X-klas is eg Mercedes-Benz. Die ontwerp is getrou aan Mercedes-Benz se ontwerpstyl wat aan sy sportnutsvoertuie toegepas word. Die bakkie lyk taaier as wat ek aanvanklik verwag het. Die ontwerpers was veral slim om te verseker dat kleiner wiele nie uit verhouding lyk nie.

Die binneruim is ʼn lieflike verwelkoming aan die segment. Die sitplekke is uiters gemaklik en kan op verskeie maniere stel. Die kopstutte is vir my te ver vorentoe en pla my, maar ek is seker dit is weens veiligheidsmaatreëls so om jou nek te beskerm in ʼn botsing. Die materiale aan die paneelbord is vir my te hard in die model waarmee ons gery het, maar daar is ʼn fyn lyn vir Mercedes-Benz tussen luuks en bakkie. Die materiale in die Power-model is glo ook sagter en meer luuks.

ʼn Probleem vir my met die X-klas en die bakkie waarop hy gegrond is, is die hoogte van die stuurkolom. Die stuurwiel is heeltemal te laag en kan nog laer stel, maar glad nie hoog genoeg nie. Lang mense gaan nie die instrumente kan lees nie. Ek sou ook verwag dat daar ʼn reikafstand-verstelbare stuurkolom sou wees. Die inligtingstelsel en instrumentasie is gewone Mercedes-Benz-tipes, en dit werk gemaklik sodra mens gewoond is daaraan.

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes)

Ons het omtrent 70% van die tyd op die bekendstellingsroete op grond en 4×4 deurgebring. Dié bakkie mag maar in die veld rondkerjakker. ʼn Ding wat spesifiek vir my uitgestaan het, is dat die 4×4-stelsel oombliklik aan- en afskakel, of sonder enige moeite tussen hoë- en laestrek. Indien jy al hiermee gesukkel het, sal jy presies weet hoekom dit ʼn prestasie is dat dit keer op keer aan- en afskakel sonder probleme.

ʼn Paar dinge wat vir my opvallend was, is die verfyndheid van die ritgehalte en klankdigtheid van die kajuit asook die kalibrasie van die outomatiese ratkas. Die voertuig waarmee ons gery het by die bekendstelling het slegs 570 km vertoon. Daai bakkie gaan eers mooi ingeloop wees hier nader aan 10 000 km. Ek gaan dus wag om my finale sê te sê oor die kraglewering as ons weer ʼn tydjie met hom deurgebring het.

Ek gaan die X-klas só opsom: Dit is ʼn lieflike, gemaklike bakkie wat nie vir die bos en ʼn hindernisbaan terugstaan nie. Mercedes-Benz het die platform betree en met kalibrasie en insig van luukse voertuie bou oor dekades heen ʼn egte Mercedes-Benz gebou. Gaan toetsbestuur self een, maar wees bereid om te koop …

Indien jy jou eie X-Klas wil laat bou, klik hier.

Mercedes-Benz X220d 4×2 Progressive120 kW/403 Nm7.5 ℓ/100 kmR642 103
Mercedes-Benz X250d 4×2 Progressive140 kW/450 Nm7.8 ℓ/100 kmR694 025
Mercedes-Benz X250d 4×4 Progressive140 kW/450 Nm7.9 ℓ/100 kmR696 785
Mercedes-Benz X250d 4×4 Power140 kW/450 Nm7.9 ℓ/100 kmR791 315

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal met ons indiepte-resensie die X-klas met sy mededingers vergelyk.

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pierre ·

Manne, kom ons verstaan een ding hier, die is n nissan navara, AMG duitsland het laat verstaan hulle gaan nie raak aan die bakkie nie. Daar was ook nou onlangs toetse teen die res van die bakkie mark gedoen deur MERCEDES, die waarheid van daai toetse was dat die X KLAS nie teen Toyota, Ford, Isuzu, VW kon opstaan nie. Manne daar is baie beter daar buite teen n beter prys, meer waarde vir geld.

Brendon ·

Dagsê Pierre,

Dankie vir jou kommentaar. Ek dink jy verwar moontlik AMG met Mercedes-Benz self. Glo sal daar egter nie ‘n AMG model wees nie, maar die voertuig verskil regtig meer as wat jy verwag van die Nissan.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Brendon ·

Brendon, ek verwar nie AMG met Mercedes nie “Mercedes-AMG GmbH, commonly known as AMG, is the high performance brand used by Mercedes-Benz” . Brendon ek daag Mercedes uit om die ware toetse wat saam die ander vervaardigers gedoen is op die tafel te sit, die manne van “CAR” sal dalk vir jou meer kan vertel. Of nooi die publiek uit om te kom deelneem of te kyk wat die X KLAS regtig kan doen, sleep, vrag, 4X4 ens. Ek sal selfs van my fiende nooi, Toyota, Ranger en VW manne, kom laat Mercedes manne weet, asb man.

bgj van der westhuizen ·

mag dalk goed bestuur maar is nie wat dit se nie en die prys is te duur vir wie in die mark gaan hulle voor nie die gewone man op die straat nie en al is dit wat bly dit in bakkie kan net so wel n Nissan koop wand hy is op n Nissan onder stel gebou deur Nissan

Brendon ·

Dagsê bgj,

Dankie vir jou kommentaar. Die X-klas deel ‘n onderstel met die Navara, maar word nie deur Nissan gebou nie. Dié X-klas kom uit Mercedes-Benz se eie fabriek in Barcelona, Spanje.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Ray ·

As Mercedes so goed is hoekom bou hulle nie hulle eie bakkie nie, Nissan onderstel, Ranger se bakwerk (as jy die 2 modelle langs mekaar sit lyk dit maar omtrent edenties dieselfde). Al wat seker Mercedes sin is is die motor. Dieselfde soos Audi wat ook nou ñ bakkie wil uitbring, gaan seker net baie duurder Amarok wees as die een wat nou hier is.

Gerhard ·

Die Mercedes is verseker nie eg Mercedes nie. Die Nissan onderstel en bakwerk (meeste van die bak is Navara panele) is seker redelik goed en die wyer spoor maak dit seker gerieflik om te ry, maar die modelle met Renault enjins sal soortgelyke probleme as Nissans met daardie enjins he.

Mak Muil ·

Manne, ek dink die Merc is kookwater! Wie – by sy volle positiewe – sal nou ‘n Hilux koop vir > 600K as jy ‘n Merc kan koop vir daai prys!!

Johan ·

Teen R600k is die Hilux 4X4 en spog met heelwat meer luukshede…

Haan ·

Het vandag een van naby bekyk… Dis n Navara met ekstra “bragging rights”
Regtig net die embleem wat hom anders maak. n Ryding vir die windgat kantoor-boer… So hulle gaan goed verkoop in SA

koos1 ·

Eish. Brendon jy “gun” maar wild vir die ding.
Nou my opinie. Ek sal dit nooit koop nie. Ten eerste die ding se prys is mal en Merc het hom duidelik geprys met hulle handelsmerk in gedagte. Tweedens, dis ‘n Nissan, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, of dan ‘n Renault as jy wil. As jy ‘n Audi Q7 vat, en ‘n Toureg bagde op plak, word dit dan nou ‘n VW?
Die X350 kom nog, en dit gaan meer Merc wees as die 2.3 X klas (Nissan?), maar sy prys word by R1mij. verwag. Vir daai prys koop en vir my ‘n Hilux en vir my vrou ‘n Corrola.
Nee wat Merc, as jy ‘n nuwe model wil bekend stel, dan doen jy dit met pryse wat sal maak dat mense dit wil koop.
Maar aan die ander kant hierdie is SA en ek kan verkeerd wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.