Bekendstelling: Mitsubishi se nuwe kruismodel mededinger

Mitsubishi Eclipse Cross (Foto: Verskaf)

Mitsubishi het sopas hulle splinternuwe Eclipse Cross aan die Suid-Afrikaanse media bekendgestel.

ʼn Kruismodel is ʼn kruising tussen ʼn luikrug en ʼn sportnutsvoertuig wat meer soos ʼn luikrug lyk as sportnuts, net met beter grondvryhoogte. Ek is nie ʼn groot voorstander van kruismodelle nie – ek voel dat die gewone luikrug beter ry en gewoonlik goedkoper en ligter op brandstof is, en dat ʼn sportnuts weer meer spasie bied vir nie veel meer geld nie. Maar nou ja, kom ons kyk na die Eclipse…

Mitsubishi Eclipse Cross (Foto: Verskaf)

Die Mitsubishi het ʼn interessante ontwerp. Die hoë boude met die gesplete agterste venster is iets anders, mooi vir party – en iets om aan gewoond te raak vir ander. Die Eclipse Cross is ʼn gesinsmotor vir vyf. Die binneruim is luuks genoeg en lekker gemaklik. Die sitplekke kan op en af ook stel, so ʼn mens raak gou genoeg gemaklik. Die stuurkolom kan vir reik en kantel stel, so ʼn mens se nek en skouers raak nie seer op die langpad nie. Die spesifikasievlak is lekker sterk met verhitte sitplekke, ʼn aanraakskerm inligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay, klimaat‑ en spoedbeheer, kop op vertoon (HUD), sewe lugsakke, ISOFIX, ABS met EBD, wegtrekhulp en ʼn truratkamera.

Die Eclipse Cross word aangedryf deur ʼn atmosferiese 2.0 MIVEC dubbel bo‑nokas sestien klep viersilinderpetrolenjin. Die enjin bied 110 kW en 198 Nm. Mitsubishi se nuwe palwissel‑transmissie is geprogrammeer om ses ratte na te aap met trappe in die toerestrek. Die ratkas was op die toetsroete heel aangenaam, maar ek sal eers met hom in die daaglikse roetine wil leef om my finale opinie daaroor te gee. Die Eclipse haal maklik sy beweerde brandstofverbruiksyfer van 7.9 ℓ/ 100 km op die oop pad.

Daar is net een aspek wat pla, en dit is die ritgehalte. Die Eclipse Cross is uitermatig hard geveer vir ʼn kruismodel. Dit maak die kar onaangenaam op ʼn grondpad. Ja, die grondpad wat ons gery het, was wel redelik sleg, maar ek’t die kar bitter jammer gekry. Ek sal banddruk nagaan as ons hom weer op toets kry en sien of dit enigsins verbeter.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 CVT110 kW/ 198 Nm7.9 ℓ/ 100 kmR399 995
Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 CVT AWD110 kW/ 198 Nm8.1 ℓ/ 100 kmR449 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km waarborg en 5 jaar/90 000 km diensplan.

Ons sal met die toetsronde tyd met die AWD‑model deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk… daar is meer as wat mens dink.

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.