Bekendstelling: Modieus én mooi…

Die nuwe BMW X2 (Foto: BMW)

Waar pas die nuwe BMW X2 in die modelreeks? Wel, tussen X1 en X3. Maar hoekom? BMW lok die meer volwasse mark met X1, X3 en tóg X5. Maar wat van jonger mense met genoeg geld wat iets regtig besonders soek? Welkom almal, aan die nuwe X2.

Mooi was nog nooit lelik nie. As iemand nou vir my sê die X2 is nie vir hulle mooi nie, gaan ek vir hulle ʼn bril aanbied. So ver as wat ʼn mens ry, ruk voetgangers hul nekke af soos hulle omdraai om te loer. Dis ʼn jammerte dat hulle net die bakwerk kan sien, want die binneruim is net so indrukwekkend.

Ons eerste koets op die bekendstellingsroete was ʼn BMW X2 xDrive 20d. Grys met asemrowende rooi bekleedsel. BMW se sitplekke kan ook op enige denkbare manier stel, so maak nie saak van jou grootte nie, jy kan gemaklik raak. Die stuurwiel kan heelwat op en af en in en uit stel, wat ʼn mens nóg gemakliker maak. Al sit ek volkome gemaklik, is daar goeie beenruimte vir agterste passasiers.

Die nuwe BMW X2 (Foto: BMW)

Die paneelbord is gewone BMW, maar dit is juis waarvan ek hou. Alles is reg en op sy plek met die middelkonsole effe na die bestuurder gedraai. BMW’s was nog altyd om die bestuurder gesentreer, en daardeur bied hulle Sheer Driving Pleasure. Ek is nou al goed gewoond aan BMW se i-Drive-stelsel, nes enige koper sal raak, en die stelsel werk vir my uiters goed.

Die 20d-dieselenjin waarmee ons eerste gery het, bied 140 kW en 400 Nm. Dit is genoeg in enige taal, petrol of diesel. Dié enjin kom saam met BMW se 8-spoed- outomatiese ratkas wat die omwentelinge en brandstofverbruiksyfer indrukwekkend laag hou. Ons het oor 200 km op die bekendstellingsroete 6.5 ℓ/100 km gehandhaaf – en ons het beslis nie rustig gery nie. Die sDrive 20i wat ons ná die diesel gery het, is ook ʼn lieflike enjin met 141 kW en 280 Nm. Dié enjin kom met BMW se 7-spoed-, DCT-ratkas. Ratwisselings is indrukwekkend blitsig en ʼn mens kan op beide modelle die sport-outo-ratkas kies wat spane agter die stuur sit.

Die nuwe BMW X2 (Foto: BMW)

Daar sal ná Mei 2018 ʼn sDrive 18i-model beskikbaar wees met BMW se 1.5 driesilinderturbopetrolenjin. Dié enjin bied 103 kW en 220 Nm. Uit ervaring met ander produkte sou ek beslis by die 20i bly, want in werklike omstandighede bied die 20i vir my beter krag en brandstofverbruik as die kleiner 18i.

Is daar enige probleme? Net een. Suid-Afrika hou van ons M Sport-pakkette. Met M Sport is 19”-wiele standaard en 20” opsioneel. Ons toetskoetse het albei die 19”-wiele gehad, en die ritgehalte is uitermatig hard. Dit bied wel puik padhouvermoë en uitstekende hantering – maar as die teer sleg is, kan dit knaend raak. Waar die teer mooi is, pla dit wel nie.

Ons sien uit om meer tyd met die X2 deur te bring – dit is regtigwaar ʼn pragtige motor wat heerlik ry.

Die reeks lyk só:

X2 sDrive18i103 kW/ 220 Nm6.3 ℓ/100 kmR591 300
X2 sDrive20i141 kW/ 280 Nm6 ℓ/100 kmR642 200
X2 xDrive20d140 kW/ 400 Nm5 ℓ/100 kmR692 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HPV ·

BMW die beter een. Ten minste vrot sy bedrading nie. Google ” biodegradable engine wiring harness”

vissie ·

Pragtige voertuig ek hou van hom. Kan hom ongelukkig nie bekostig nie..ek ry mos maar vandag se tegnologie maar eers oor 10 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.