Bekendstelling: KTM se 2020 EXC Enduro- reeks

Tydens die bekendstelling van KTM se 2020 EXC Enduro- reeks. (Foto: Sage Lee/Verskaf)

Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer gedoen? Ek ry nou al jare lank motorfiets, maar ek het veldfietse nog nooit aanloklik gevind nie.

Toe KTM my nooi na die bekendstelling van hulle 2020 Enduro- reeks, was ek egter lus om te gaan kyk hoekom soveel mense naweek ná naweek oor klippe gaan hop en vuil word.

Enduro-fietse verskil van gewone Motocross-fietse in dié opsig dat hulle ’n hooflig en ’n klein agterliggie het. Hulle beskik ook oor groter brandstoftenks omdat Enduro-wedrenne oor langer afstande gehou word. Dit kan selfs tot in die nag aanhou as jy langs die pad teëspoed sou optel.

Bradley Cox, een van KTM se Enduro-ryers, het vertel hoe hulle tot ses uur aaneen op ʼn fiets deurbring met die krane wyd oop oor berge en deur dale. Hierdie fietse moet dus harde terrein kan baasraak en terselfdertyd tog vir die ryer ’n mate van gemak gee.

Die bekendstelling was by ADA se uitstekende fasiliteite naby Hartbeespoortdam. Riaan Neveling, KTM se bemakingsbestuurder, het twee roetes beplan vir die dag – ’n “maklike” en ’n “moeilike” roete. As jy al ooit in Durban kerrie bestel het wat beskryf word as “matig”, kan jy maar by voorbaat ’n roomysie ook bestel want jy weet die kerrie gaan brand. Dieselfde geld as Riaan iets as “maklik” beskryf. Sý maklik en mý maklik is nie dieselfde nie.

Die aand is die fietse aan ons onthul onder die sterre. Die reeks is omvattend en behoort aan enige Enduro-ryer se behoeftes voldoen, ongeag jou vaardighede, lengte of gewig. KTM het in 2017 die eerste tweeslag, brandstofinspuiting- enjin in ’n Enduro-fiets gesit en is ’n voorloper op dié gebied. Die 2020-reeks het drie tweeslag modelle: ’n 150 cc, 250 cc en ’n 300 cc. Dan is daar vier vierslag modelle: ’n 250 cc, 350 cc, 450 cc en ’n 500 cc.

Tydens die bekendstelling van KTM se 2020 EXC Enduro- reeks. (Foto: Carli Smith/Verskaf)

Neveling het verduidelik dat KTM op vier aspekte gefokus het vir die 2020-modelle: hantering, verrigting, betroubaarheid en stilering. Met elke aspek moes daar ’n verbetering op die vorige model wees.

Met die bewese 300 cc EXC TPI in KTM se arsenaal was hierdie geen maklike taak nie. Die enjin is verbeter en sit nou verder vooroor in die raam om die swaartepunt laer te kry. Al die fietse kry herontwerpte verkoelers en die fietse is smaller. Die stilering is eg KTM. Die uitlaatpype is verstewig en is heelwat stiller.

Die volgende oggend is ons geneem na die fietse en die gedagte was dat ons die hele reeks op die proef stel. Ek kon ook ’n ervare ryer saambring om vir my meer sinvolle terugvoer te gee. Soos die fietse weggetrek het, het ek myself op die 250cc tweeslag bevind. Sommer baie gou was daar ’n groot stofwolk agter my en heelwat hindernisse voor my.

Tydens die bekendstelling van KTM se 2020 EXC Enduro- reeks. (Foto: Verskaf)

Ons het deur rowwe terrein gery met los klippe, moddergate en los leiklip hindernisse. Ek moes maar my kop laat sak en deurdruk. Omdraai en ’n Red Bull gaan soek was nie ’n opsie nie. Êrens langs die pad het ek fietse geruil vir die 250 cc vierslag. Die hele karakter van die fiets is anders. Maar ek was te besig om die kliprandjies uit te klouter om werklik ’n verskil te voel.

Aan die einde van die dag was meeste ryers dit eens dat die ideale fiets tussen die 250 en die 350 is. Hierdie fietse het oorgenoeg krag, maar is steeds lig genoeg om nie ’n handvol te raak as die terrein sleg raak nie.

Ná my poging het ek nuwe respek vir Enduro-ryers wat ure op hierdie fietse deurbring. Ek was fisiek uitgeput en tog uiters tevrede met hierdie fietse se vermoë om my veilig by die eindpunt te besorg.

Tydens die bekendstelling van KTM se 2020 EXC Enduro- reeks. (Foto: Carli Smith/Verskaf)

As veldry jou ding is, het KTM beslis ’n fiets wat jou sak, lengte en ryvoorkeur sal pas! Ek dink ek verstaan nou hoekom mense naweke in die bos gaan baljaar met hul veldfietse. As jy later oorweeg om aan ’n Enduro-wedren deel te neem, hoef jy nie eers ’n ander fiets te kry nie. Jy kan sommer jou KTM EXC Enduro gebruik. Daarvoor het KTM ’n omvattende katalogus met hul Power-onderdele om jou KTM nog verder te individualiseer.

Gaan loer gerus: https://www.ktm.com/za/enduro/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.