Bekendstelling: Nissan se eerste stap in ʼn strategiese rigting

Nissan Micra

Van ʼn passasiersvoertuig standpunt was dinge heeltemal te stil by Nissan in die afgelope jare. Goeie markaandeel in die LCV-segment het moontlik vir Nissan op hul louere laat rus. Xavier Gobille, besturende direkteur verkope, bemarking en naverkope van die Nissan Groep van Afrika, voel daar is ʼn groot leemte in Nissan se passasiersvoertuigaanbieding. ʼn Aggressiewe strategie van vyf modelle in ses maande sal Nissan se hele aanbieding vernuwe.

Die eerste is die Nissan Micra Active. Die Micra word verfris deur nuwe materiale aan die binneruim, nuwe instrumente en paneelbord. Dié Micra Active kry lugreëling, elektriese vensters voor, Bluetooth wat musiek van jou foon af kan speel, 12V kragprop en ʼn verstelbare stuurkolom.

Wat veiligheid aanbetref is daar ABS, remkragverspreiding, remhulp, bestuurder- en passasierlugsakke, ISOfix-kinderstoelankerpunte, agtersitplekkopstutte, agterste misligte, hoëvlak remlig, afstandbeheerde slotte, spoed sensitiewe outomatiese slotte en ʼn immobiliseerder.

Nissan Micra

Aan die buitekant is die sierrooster herontwerp om Nissan se “hamburger-wapen” binne die chroom “V” te huisves. Die enjinkap, voorste modderskerms asook voor en agterste buffers is vernuwe. Al die opkikkerings bied ʼn oulike, moderne ontwerp wat al die speelgoed in het teen ʼn billike prys.

Op die pad voel die Micra geensins soos ʼn goedkoop ryding nie. Hy is ook meer ruim as van sy mededingers. Die opsionele klankstelsel met navigasie sal gratis bygevoeg word vir die bekendstellingstydperk. Daar is ʼn Trendsetter-pakket beskikbaar met swart sierwiele, ʼn chroom uitlaatpyp, bakvin en modderflappe.

Die driesilinder 1.2 enjin is ywerig. Die 56kW en 104Nm wringkrag voel nie te pap vir die tjor nie. Dit is beslis nie ʼn vuurpyl nie, maar die brandstofverbruik sal beïndruk. Daar is slegs een model beskikbaar teen die regte prys. Nissan voel dit is die regte besluit om nie die reeks te kompliseer nie. Ek stem saam. Die Micra Active vul groot skoene op die pad, toetsbestuur een beslis – jy sal moontlik daarvan hou.

Ons sal meer in diepte berig sodra ons meer tyd met die Micra Active deurbring vir ʼn deeglike padtoets.

Nissan Micra Active 1.2 Visia56kW/ 104Nm5.2ℓ/100kmR159 900

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris Ws ·

Moes eerder ‘n elektriese motor gewees het.Dit help niks om aan te hou om agteruit te beweeg nie.

Tiger ·

Dis duidelik die’ berig of te wel die onderwerp waaroor die berig handel, trek bitter min belangstelling.Sou dit met ‘n elektriese enjin toegerus gewees het sou dit baie belangstelling gehad het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.