Bekendstelling: Nissan se nuwe Micra beïndruk

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

Nissan het die afgelope jaar ʼn reusetaak aangepak. Nissan wou 10%-markaandeel in die passasiersegment behaal. Aangesien Nissan in die afgelope paar jaar nie juis veel sterk mededingers in daai segment gehad het nie, kon ek nie insien hoe hulle dit wou bereik nie. Juke en Qashqai is uitskieters, maar as ʼn mens kyk waar Nissan was met die eerste Almera en Xtrail het ek hom eintlik jammer gekry.

Xavier Gobille, besturende direkteur: verkope, bemarking en naverkope van Nissan Suid-Afrika, het ʼn jaar gelede gesê hy wil ses nuwe modelle aan Suid-Afrika bekendstel. Hulle het begin met ʼn laer B-segmentmededinger, die ou Micra wat as Micra Active bekendgestel is. Dink Polo en Vivo – selfde resep. Toe kom 370Z, Xtrail, Qashqai, Patrol en nou die allernuwe Micra.

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

Dié Micra is op Renault se Clio gegrond – te danke aan die Renault/Nissan/Mitsubishi-verbintenis. Geensins ʼn slegte beginpunt nie, maar op die een of ander manier het Nissan die kajuit van die Micra ʼn gevoel van beter gehalte gegee. Dieselfde 900 cc-driesilinderturbopetrolenjin doen diens in die Micra: 66 kW en 140 Nm; 0 tot 100 km/h neem 12.1 sekondes en die Micra sal aanhou draf tot ʼn topspoed van 170 km/h. Nie te versmaai nie. Die vyfspoedhandrat hou die toere reg vir Suid-Afrikaanse spoedgrense en teen 120 km/h loop die Micra mooi bultop en -af.

Tydens die bekendstelling het ons asemrowende reën teengekom in die Kaap. Stormwinde en stortreën het nie die Micra van spoor gegooi nie. Die wind het beslis probeer – maar ek moet bieg, die Micra het met sterk stewels die 340 km-roete aangedurf, boonop sonder enige kwale.

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

Soos vroeër gesê, die binneruim voel vir my lekker volwasse en van baie goeie gehalte. Die sagter materiale op die paneelbord beïndruk. Die klankstelsel is toegerus met Apple CarPlay, ʼn ware aanwins vir dié voertuig. Outomatiese ligte en reënveërs het gehelp sodat ek net op die pad kon konsentreer in die verskriklike reënbui. Beenruimte agter lyk heel in die kol, en die kattebak eintlik lekker groot vir dié klas voertuig.

Ritgehalte is lekker gemaklik en die Micra is meer gerat vir gemak as vir om ʼn baan jaag. Ek sal beter verslag lewer oor ritgehalte en padhouvermoë sodra ons meer tyd, asook in ander weerstoestande en paaie, met die Micra deurgebring het. Vir eers sal ek sê, die Micra is nou ʼn ware mededinger in dié segment en kan sy man staan tussen Fiesta, Yaris en Polo – na gelang van jou smaak en waarna jy op soek is.

Die reeks lyk só:

Nissan Micra 66kW Turbo VisiaR233 500
Nissan Micra 66kW Turbo AcentaR257 400
Nissan Micra 66kW Turbo Acenta PlusR272 400

Die reeks word gedek deur Nissan se 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

Die nuwe Nissan Micra (Foto: Nissan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul ·

Iets wat ek al lankal oor wonder: Wie vat gedurig aan hul motor se paneelbord?

Joernaliste raak liries oor hoe ‘n “sagte” paneelbord konsuis so goed is, maar wanneer vat enigiemand dan daaraan? Ek vat nooit aan my kar se paneelbord nie – hoekom sou ek? daar is geen rede om daarop te leun of dit te streel of enigiets nie.

Ek verstaan regtig nie hoekom dit dan soveel beter is dat ‘n paneelbord sag moet wees nie.

Pieter ·

Sagte paneelborde is vir die veiligheid van die drywer en passasier, harde plastiek kan meer skade aanrig in n ongeluk as sagte plastiek.

Turbo ·

Sug, waar sal ons begin met die kwaliteit les?
Hard, gewoonlik goedkoper, blinker, minder ‘buigbaar’
Die uitsoekerige koper (soos ek) vir wie kwaliteit van belang is, verkies ‘n meer sagte afwerking en ‘ ambiance’. Mens hoef ook nie daaraan te voel om dit te besef nie

Paul ·

Pieter, dit het niks met veiligheid te doen nie. Die sagte lagie is net millimeters dik – in ‘n ongeluk maak dit geen verskil nie.
Turbo, dit gaan inderdaad oor mense se idee van gehalte, maar dis waar ek dit nie verstaan nie. Die karre in die 1980s en vroeë 1990s het ook dikwels sagte plastiek op hul paneelborde gehad, maar kyk vandag terug daarna en niemand sal sê dit lyk vir hulle soos gehalte nie. Van die motors wat ek al besit het, het harde plastiek op die paneelbord gehad wat baie beter gelyk het as die sagte “fake” leer wat “fake” stikwerk daarin het, wat deesdae algemeen is in goedkoop karre wat probeer deftig lyk.

Dis net vir my erg hoe motorjoernaliste bly fokus op hoe alles van “sagte” materiale gemaak moet word, selfs al is dit op plekke waar g’n mens ooit daaraan gaan raak nie. ‘n Kar kan die beste op aarde wees in alle ander opsigte, maar as ‘n motorjoernalis rondvroetel en een stukkie harde plastiek iewers vind, dan is daai kar se dae getel…

Gerhard ·

Dit gaan eerder oor die voorkoms van gehalte as ware duursaamheid. Goedkoop plastiek sal langer hou as kunsleer. Mense wil vandag iets he wat nie net die werk doen nie maar ook mooi lyk. Dit is nie vir almal nie, maar meeste mense hou daarvan so. Ek persoonlik verkies bv. dat ‘n bakkie harde plastiek en “vinyl” vloer het, omdat dit net meer prakties is. ‘n Kar is egter ‘n ander saak.

Johann cb ·

Die voorkoms is nie wonderlik nie, prys ook hoog. VW Polo Vivo ‘n better opsie om na te kyk.

JoeV ·

Het die Vivo 6 spoed steptronic gery vir 11 maande, stuur verby, die 66kw wat voel soos 29kw dryf jou die mure uit!

Paul ·

Ja nee, JoeV. Daai Polo Vivo met die outomatiese ratkas is stadiger as ‘n slak. Moenie eers DINK daaraan om te probeer verbysteek op ‘n enkelbaanpad nie, jy tart net die dood uit. Om van die spoed verloor teen bulte op nie eers te praat nie – die arme karretjie skakel ratte terug en terug en terug, maar dit gaan net al stadiger.

Chris Ws ·

Te hoog geprys vir so klein karretjie en te veel fieterjasies wat kan moeilikheid gee.Die Suzuki gaan hom slae gee.

JoeV ·

Teen daardie prys kan mens ‘n hele rits Sjinese voertuie koop wat jou die twee jaar diens sal gee as mens elke twee jaar inruil. Prys en motor kom nie ooreen nie! 66kw, 140Nm, ons het in die sewintiger jare sulke karre gehad?
Waar is die 2 liter turbo diesels heen?

Gerhard ·

Dit is net 900 cc. Bygesê 66 kW van ‘n turbo enjin kan nie vergelyk word met 66 kW van ‘n gewone enjin nie. Al is die krag die selfde sal ‘n turbo altyd lewendiger voel.

Gerhard ·

En nog ‘n ding. Daardie Sjinese karre is doodskiste op wiele, hou verby.

Paul ·

Die moeilikheid met die piepklein turboenjintjies, behalwe vir die prys wat jy moet betaal wanneer die turbo die gees gee ná ‘n paar jaar, is dat hul brandstofverbruiksyfers meestal nie eers NABY aan die syfers kom wat die vervaardigers aanvoer nie. Die goedjies suip petrol, want om enigsins krag te ontwikkel, moet jy daai versneller maar diep trap, baie dieper as wat jy met ‘n 1.6 gewone enjin wat naastenby dieselfde kraglewering het hoef te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.