Bekendstelling: ‘Onveilig’ of billik?

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

As motorjoernalis het ek romantiese gevoelens vir van die wêreld se grootste, duurste en vinnigste rygoed. Maar, daar is ʼn ander kant van die motorwêreld. Mobiliteit. Daar is ʼn paar dae in my lewe wat uitstaan as die dae waarin my menswees gegrond is. Die dag toe ek my eerste kar gekoop het, die dag toe ek en my vrou getroud is en die drie dae toe elkeen van my kinders gebore is. ʼn Mens heg ʼn fantastiese sin van vryheid aan ʼn voertuig – iets wat baie mense ter wêreld nog nooit ervaar het nie.

Renault het ʼn ietwat van ʼn oplossing vir dié probleem: die Renault Kwid.

Suid-Afrika se motorjoernaliste was aan die gons by die bekendstelling van die “onveilige” voertuig. Waar is die tweede lugsak en ABS-remme, het almal gevra. In dié prysklas is dit regtig eenvoudig. Die tweede lugsak en ABS-remme is in die leë beursies van die eindverbruiker.

Ons het op Maroela Media ʼn peiling gedoen en gevra, wat is die belangrikste vereistes by die aankoop van ʼn nuwe motor … en 31% van julle het gesê: “Prys”. Bo veiligheid, status, funksies, krag, spoed – de lot… dit moet waarde vir geld bied. Vir 60% van Kwid se kopers, jong swart vroue, is die veiligheid wat jou eie voertuig bied, belangriker as die moontlike veiligheid van ʼn lugsak. Veral teenoor openbare vervoer.

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Renault rek die waardeproposisie nog ʼn stappie verder. Hulle bied ʼn finansieringsaanbod van R1 999 per maand met geen deposito en die eerste jaar se versekering gratis. Sjoe. Ek het in my vorige padtoets van die Kwid gesê ek glo dat die Kwid in Suid-Afrika ʼn stapelvoertuig soos die Fiat Uno of Hyundai Atoz kan word.

Kom ek verduidelik weer hoekom. Die Kwid is ʼn eenvoudige dog ruim ryding. Daar is sitplek vir vyf, en ʼn klasleidende kattebak. Daar is ʼn klein 1,0 driesilinderpetrolenjin wat genoeg krag bied vir dié soort voertuig, én puik brandstofverbruik. Dit is die basiese pilare waarop Hyundai se Atoz en Fiat se Uno gebou is.

Is dit die beste ryding in die wêreld? Vir my, nee. Vir ʼn koper wat vir die eerste keer ʼn motor koop, wat op ʼn verskriklike skraal begroting werk, moontlik. Die Kwid het ʼn indrukwekkende spesifikasievlak vir sy klas. Elektriese vensters, kragstuur, lugreëling, Bluetooth en dan op die Dynamique modelle – navigasie. Daar is motors in die klas bó Kwid waar dit nie eens ʼn opsionele ekstra is nie.

Is die veiligheid ʼn probleem? In my eerlike opinie, nee. My eerste drie motors het nie ABS en lugsakke gehad nie. Sê ek dat kopers wat vir die eerste keer ʼn motor koop se veiligheid nie belangrik is nie?

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Beslis nie, maar teen dié prys kan ʼn mens nie alles kry nie. ABS en lugsakke is regtig baie duur tegnologiesgevorderde items. Die Kwid het ʼn bestuurderlugsak. Renault werk hul vingers stomp om die tweede lugsak en ABS teen vroeg volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar te stel.

Wat van die AMT-kwessie? Dit is ʼn outomatiese ratkas. Binne werk dit soos ʼn handrat met ʼn koppelaar en die koppelaar en ratwisseling word meganies deur ʼn blikbrein beheer. Dit is beslis nie die beste outomatiese ratkas wat ek al teëgekom het nie, maar dié voertuig is uiters pryssensitief, so die goedkoopste opsie vir installasie asook onderhoud is gekies. Vir baie kopers wat nog nie met moderne outomatiese ratkaste gery het nie sal die Kwid AMT heeltemal voldoende wees. Ek persoonlik sou die R10 000 spaar en ʼn gewone handrat koop.

Die Kwid het sy vuurdoop heel goed deurstaan. Motorjoernaliste is nie sag op die voertuie nie, en die Kaap se Suidooster het goed gewaai, so die Kwid het gebrul om betyds by die lughawe te kom van Langebaan af, teen die wind – met my voet in die mat begrawe. Mooi so, Kwid.

Die reeks lyk só:

Renault Kwid 1.0 Expression50kW/ 91Nm4.7ℓ/100kmR126 900
Renault Kwid 1.0 Dynamique50kW/ 91Nm4.7ℓ/100kmR136 900
Renault Kwid 1.0 Dynamique AMT50kW/ 91Nm4.4ℓ/100kmR146 900

Die reeks word gedek deur Renault se 5 jaar/ 150 000 km waarborg. Diensintervalle is elke 15 000 km. Die eerste jaar versekering is gratis met die aankoop van ʼn nuwe Kwid.

Ons sal na ons in-diepte toets die Kwid weer met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stanza ·

Wiele is wiele en beteken vryheid.
My eerste kar was ‘n Datsun Stanza en ek het selfs ‘n ongeluk met die kar oorleef sonder beserings.
Koop dus maar die Kwid! (Persoonlik sal ek egter ‘n jaar of drie oue motor soek in dieselfde prysklas wat wel van beter kwaliteit is)

Koos1 ·

Kyk gerus ook na die Suzuki Swift. Pas een gekoop. R177000.00 vir die 1.2 GL outo. Lag lag beste waarde vir geld. Diens plan en 5 jaar waarborg ingesluit. Ek sê nie die Kwid is sleg nie, maar daar is beter opsies in die mark.

Stanza ·

Swift is baie goeie keuse!
(Nuwe model ook later hier vanjaar, def goeie opsie)

Piet Pompies ·

Veilige voertuig is ‘n relatiewe term, geen passasier se lewe word gewaarborg in die mees veiligste motor. Gedurende lae impak ongelukke is die passasier gewaarborg dat die voertuig se lugsakke hom sal beskerm. Indien dieselfde voertuig in ‘n hoë impak ogeluk is kan die lugsakke die passasiers beskerm. ABS is oor die algemeen ‘n uitstekende veiligheids eienskap aangesien dit intree waar die bestuurder foute maak, dieselfde met ander stelsels wat onderstel en rem aksie verbeter. Dieselfde geld vir veiligheidsgordels, dit beskerm jou. Neem nou ‘n kleiner voertuig met al die eienskappe soos genome en laat hom bots met ‘n spoed van 120km/h kop aan kop met ‘n swaarvoertuig, dan gaan geen van die eienskappe van hulp vir die bestuurder en passasier wees. Daar is meer veiligheid gewaarborg as die bestuurder van die voertuig veilig ry en bewus is van ander padgebruikers se optrede. In kort, die Renault karretjie kan net so veilig wees as wat jy hom bestuur.

Paul ·

Ek ry my derde Renault, tot my spyt, die tweede een se rekenaar het probleem gegee, en natuurlik het die bakwerk sulke kraakgeluide gemaak as mens lank in die son gery het, uitsetting en inkrimping van die ‘metaal’ wat in de bakwerk gebruik is. Ek het dié Renault na 8 maande vir ‘n ander model ingeruil. Vir ‘n paar jaar was als 100% en toe vind ek die rekenaar begin ook nukke uithaal, al is die sagteware al ‘n keer oor gelaai.

Johann ·

In die mark vir n klein kompakte petrol suinige dag tot dag kar…. NIE DIE RENAULT NIE!!!!! Al met die toets bestuur besef, dis n sardien blik mwt beskuitjie wiele. BAD BAD BAD BAD kwaliteit. Kyk maar hoeveel van hulle reeds in die 2e handse mark teen ENORME laer pryse as nuut

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.