Bekendstelling: Opgekikkerde Figo beïndruk

Die nuwe Ford Figo (Foto: Ford)

ʼn Reuse-segment in die Suid-Afrikaanse motorbedryf tans is die laer B-segment. Dit is die spasie waar Toyota se Etios, VW se Polo Vivo, Nissan se Micra Active en Ford se Figo speel. Dit is gewoonlik ouer weergawes van vorige modelle wat opgekikker word en as ʼn produk op sy eie staan. Ford se eerste Figo was ʼn ou Fiesta, maar nou is die Figo ʼn model op sy eie, unieke enjin en al.

ʼn Mens verwag dat die gehalte in dié segment nie heeltemal sal kan kers vashou by die gewone B-segment nie. In die meeste gevalle is dit beslis so, maar die opgekikkerde Figo voel regtig solied en van ʼn goeie gehalte.

Ja, die kajuit is eenvoudig, sonder fieterjasies en allerhande truuks – maar dié voertuig is gebou om bekostigbaar te wees. Die sitplekke is gemaklik, maar vir my effe hoog en nie verstelbaar nie. Die stuurkolom is vir hoogte en reikafstand verstelbaar, indrukwekkend in dié klas. Daar is elektriese vensters, ysige lugreëling en ʼn klankstelsel met Bluetooth. Twee lugsakke en ABS-remme verseker dat ʼn mens veilig is in die Figo.

Die nuwe Ford Figo (Foto: Ford)

Die nuwe 1.5 driesilinderenjin beïndruk en trek lekker sterk. Die enjin voel glad en stil, verbasend vir ʼn driesilinder. Dié enjin bied 88 kW en 150 Nm. Die 5 spoed-handrat is gewild en sy wisselaksie lekker gemaklik. Daar word nou ʼn 6 spoed- outomatiese ratkas aangebied. Dié ratkas ry regtig lekker, en selfs in die hoëveld trek die Figo lekker, sonder ʼn turbo. Brandstofverbruik is op die toetsroete om en by 7.1 ℓ/100 km in die handrat en outo.

Die vering is soepel, sonder om te sag te wees, en die ritgehalte in die Figo is puik. Daar is min wind- of padgeraas wat in die kajuit indring – so die Figo sal ʼn lekker langpad-vennoot ook wees.

Die nuwe opkikkerings aan die bakwerk maak die Figo oulik. Die binneruim is regtig aangenaam en die pryse nie wild nie. Die Figo is beslis ʼn sterk mededinger in dié klas. Gaan toetsbestuur self een en sien.

Die reeks lyk só:

Figo 1.5 TiVCT Ambiente luikrug handratR181 300
Figo 1.5 TiVCT Trend luikrug handratR190 600
Figo 1.5 TiVCT Trend luikrug outoR205 700
Figo 1.5 TiVCT Ambiente sedan handratR187 200
Figo 1.5 TiVCT Trend sedan handratR196 000

Die reeks word gedek deur Ford se 4 jaar/120 000 km waarborg en 4 jaar/60 000 km diensplan.

Die nuwe Ford Figo (Foto: Ford)

Die nuwe Ford Figo (Foto: Ford)

Die nuwe Ford Figo (Foto: Ford)

Die nuwe Ford Figo (Foto: Ford)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

7.1L/100km is nou nie eintlik lig op brandstof vir ‘n diesel nie veral vir ‘n 1500 engin. met my 12 jaar oue 1.4 diesel citroen C3 kry ek 20km/l

Brendon ·

Dagsê Robert,

Baie dankie vir jou kommentaar. Die enjin is ‘n petrolenjin met drie silinders, sonder ‘n turboaanjaer. Ek self besit presies so ‘n Citroen C3.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.