Bekendstelling: Porsche Macan opgeknap

Porsche Macan (Foto: Verskaf)

In 2015 het die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste die Porsche Macan as motor van die jaar gekroon. Ons het onlangs die opgeknapte Macan in die Wes-Kaap gery, en ek wonder nou glad nie meer hoekom die Macan dié gesogte toekenning opgeraap het nie.

Ek het al voorheen geskryf dat alle Porsche-voertuie ʼn spesifieke gevoel het. As ʼn Porsche‑aanhanger geblinddoek word, en in ʼn Porsche gaan sit en ʼn bietjie rond voel, sal hulle dit kan uitken. Dit is nie net waar van die gevoel nie, maar ook van die ontwerp van die binneruim. Alles is waar dit hoort en werk maklik. Die bougehalte is nes ʼn mens verwag dit moet in ʼn Porsche wees.

Ek is oortuig dat Porsche ʼn resep gebruik vir die ingenieurswese wat aan die onderstelle toegepas word. Hoe verskeie Porsches ʼn bergpas kan takel en dieselfde voel, is indrukwekkend. Die intree Macan bly getrou aan hul resep. Die ontwerp is mooi, netjies en skoon. Die binneruim is pure Porsche. Alles waar dit hoort en getuig van absolute Duitse gehalte.

Porsche Macan (Foto: Verskaf)

ʼn Groot verandering kom in die vorm van ʼn nuwe 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin. Die enjin bied 180 kW en 370 Nm. Met die Sport Plus‑pakket is 0 – 100 km/h in 6,1 sekondes beskikbaar en die Macan sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 225 km/h terwyl hy net 8,1 ℓ/ 100 km gebruik om die gekombineerde siklus. Vir die goedkoopste Porsche wat tans beskikbaar is, is dit nie sleg nie. Die Macan maak gebruik van Porsche se puik 7-spoed PDK‑dubbelkoppelaarratkas.

Die ritgehalte in die Macan is uiters gemaklik. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die intreemodel op 18”‑wiele loop waar daar ook 19”, 20” en 21” beskikbaar is. Die Macan sou nie ʼn ware Porsche gewees het indien die padhouvermoë nie uit die boonste rakke was nie, en die Macan stel glad nie teleur nie. Ons het verskeie bergpasse op die toetsroete aangedurf, en die Macan gedra hom uitmuntend.

Die Porsche Macan tree nou ʼn nuwe segment binne met die goedkoper prys te danke aan die viersilinderenjin. Die Macan bied ʼn baie sterk spesifikasievlak van standaarde. Sodra mens regtig gaan krap, is daar baie mededingers in sy prysklas – maar die Macan is die enigste Porsche…

Bou jou eie Macan hier: https://www.porsche.com/middle-east/_johannesburg_/modelstart/

Die reeks lyk só:

Porsche Macan180 kW/370 Nm8,9 ℓ/100 kmR849 000
Porsche Macan S260 kW/480 Nm9,6 ℓ/100 kmR1 099 00

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 3 jaar/90 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ekstras ·

Nie sleg nie, maar kyk na ‘n paar “eenvoudige” ekstras se pryse:
Mettalic kleur: R16 140 – R42 860 (Goeie Gert)
Alloys: R9 920 – R68 820 (Weereens GOEIE GERT)
Elektroniese trekstang: R21 980 (Wat op aarde maak dit SO spesiaal?)
“Sports tailpipes silver” (daai mooies jy weet): R14 000 (DIT MOET BITTER MOOI WEES)
LED ligte (voor): R19 600 – R27 240. (So vir R849 000 kry jy halogeen ligte?)
LED ligte (agter): R10 890 (Weet nie of jy dit saam kry met boonste nie – HOOP SO)
Park Assist: R9 260 (Op R849 000 moet dit “wraggies” standaard wees)
Kant lugsakke agter: R6 670 (Hel, sommige karre minder as R400K het dit)
Vloer matte: R2 140 (WAT??)
Brandblusser: R2 700 (Ek gee myself oor aan alkhol, R2 700 VIR ‘n BRANDBLUSSER?)
Apple CarPlay: R5 390 (STANDAARD op my R230K luikrug – ek sê net)

So dit is net goed wat EK sou wou hê – gekry op Porsche se webtuiste op 04.04.19. Al het ek so baie geld om dit te spandeer, is dit die moeite werd om ‘n blik te koop en dié te betaal vir wat eintlik as standaard moet wees? #EkVraNet

Kaptein ·

En die toetskarre was natuurlik tot by die kiewe gelaai met allerhande ekstras. Sit bietjie in die toekoms ‘n “Prys soos getoets” lyntjie by die berig …

Kaptein ·

Daardie toekenning is lankal nie meer gesog nie hoor, dis deesdae ‘n totale GRAP.

Dis besonder hartseer dat 4 silinders deesdae soveel kos …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.