Bekendstelling: Qashqai die kruismodel-koning

Die nuwe Nissan Qashqai (Foto: Nissan)

Ek het in 2007 die eerste Qashqai bestuur. Die hele kruismodel-ontwerp was daai tyd bietjie van ʼn raaisel. Ons was nog op MPV’s daai tyd, klein bussies soos Renault se Scénic. Ek kon nie verstaan waarheen Nissan op pad was met die groot luikrug wat ʼn 4×4 wil wees, maar nie is nie.

Tien jaar later maak die resep heeltemal sin. Nissan het net in Januarie 2018 altesaam 22 549 Qashqais in Europa verkoop. Sjoe! Dit is ʼn groot luikrugmotor met beter grondvryhoogte. Dit bied mens beter sigbaarheid in die verkeer, en die kar voel uiters ruim op skouervlak. Die kattebak is net so indrukwekkend.

Ek het nie die opgekikkerde eerste Qashqai of die tweede model bestuur nie. Dit is ook my eerste ervaring met Nissan se 1.2-turbopetrolviersilinderenjin. ʼn Ware klein juweel. Lieflik stil, en heeltemal sterk genoeg om die Qashqai rond te sleep met 85 kW en 190 Nm. My gunsteling is die 1.5-viersilinderturbodieselenjin. Dié enjin bied 81 kW en 260 Nm. Ek het op die toetsroete ʼn asemrowende 4.9 ℓ/100 km bereik, met drie volwassenes in die voertuig. Ons het nie gejaag nie, maar heeltemal normaal tussen 110 en 130 km/h op die snelweg vanaf Menlyn in Pretoria tot Johannesburg se SBD gery.

Die nuwe Nissan Qashqai (Foto: Nissan)

Nog ʼn reuseverrassing in die Qashqai is Nissan se nuwe palwisseltransmissie (CVT). Dit is geprogrammeer om ʼn gewone outokas se ratwisselings na te aap. Dit werk voorwaar puik. Tot op hede is dit die lekkerste CVT wat ek al teëgekom het, soveel so dat 99% van die publiek nie eens sal agterkom dat dit ʼn CVT is nie. Al jammerte oor die CVT is dat die enjin se wringkrag effe teruggetrek is van 190 Nm na 165 Nm.

Die gehalte aan die binneruim is nog ʼn vertrekpunt vir ʼn Japannese vervaardiger. Die Qashqai se panele pas perfek en sagte materiale is gebruik. Die nuwe platbodem-stuurwiel gee ʼn sportiewe gevoel en gepaard met die lekker sitplekke voel mens oombliklik tuis.

Daar is vier spesifikasievlakke beskikbaar in die Qashqai-reeks – Visia, Acenta, Acenta Plus en Tekna. Visia is slegs 1.2 T, Acenta kry CVT, handrat en diesel, en Tekna is slegs diesel. Die reeks word gedek deur Nissan se 6 jaar/150 000 km-waarborg en ʼn 3 jaar/90 000 km-diensplan.

Die pryse lyk só:

Qashqai 1.2 T VisiaR334 900
Qashqai 1.2 T Visia + SierwieleR346 700
Qashqai 1.2 T AcentaR367 000
Qashqai 1.2 T Acenta CVTR381 000
Qashqai 1.2 T Acenta Plus CVTR394 000
Qashqai 1.5 dCi AcentaR394 000
Qashqai 1.5 dCi Acenta PlusR407 000
Qashqai 1.5 dCi TeknaR434 000

Is daar enige probleme? Nee, ek glo nie. Die reeks is lekker wydverspreid – so daar is ʼn Qashqai wat jou sak en benodigdhede kan pas. Ek wil graag ʼn 1.5 dCi Tekna-outomaties in die reeks sien, ek dink dit sal die lekkerste model wees. Ek sou ook graag effe laer wil sit, maar nou is ek regtig besig om hare te kloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Perspektief ·

Op die pryslys sien ek dat die diesel-model nie in die “fancy” CVR ratkas kom nie. Wonder hoekom nie??, aangesien die Nm lesing heelwat meer as petrol model is. Ek dink die diesel sal great wees met daardie CVT. Ek self ry n Nissan Juke diesel, met die selfde engin spesifikasies, en wens elke dag vir n outomatiese weergawe (ook nie beskikbaar in diesel juke nie). Renault gebruik dieselfde 1.5 diesel in sekere modelle, en koppel dit baie suksesvol aan n outomatieseraktas…kan MM nie dalk by Nissan hoor wat hul opinie is daaroor nie?
Dankie

Carel Kat ·

Miskien moet ek maar die goed gaan bestuur en voel, maar die enjins klink so klein vir hierdie karre deesdae. 1.2 liter so ‘n groor bak. Selfde met die nuwe Polo.

Brendon ·

Dagsê Carel Kat,

Baie dankie vir jou kommentaar. Doen jou self ‘n guns. Gaan toetsbestuur beslis een. Die nuwe enjins klink dalk klein, maar die krag wat hul lewer is gelykstaande aan ‘n atmosferiese 2.0 enjin.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Piet Pompies ·

Hierdie model was ook op ons “om te koop lys” gegrond op so twee jaar terug se inligting (Prys)
Intussen het die model sy prys gegroei dat hy nou van die lys af is, onbekostigbaar!

Brendon ·

Dagsê Perspektief

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek het met Xavier Gobille van Nissan SA daaroor gesels. Hy en die produkbestuurder werk daaraan. Hulle kan wel geen idee van tydlyn vasmaak nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.