Bekendstelling: R200 000 meer vir V6 Merc-bakkie

Die Mercedes-Benz X350d. Foto: Verskaf

Mercedes-Benz het in Mei vanjaar die X-klas aan Suid-Afrika bekendgestel. Daar het nou al baie maskara in die rivier geloop of dit ʼn goeie bakkie is, hoe duur hy is en so meer. Ek wou wag om die V6-diesel te ry voordat ek my finale mening gee.

Mercedes-Benz het verlede week die X350d V6 aan die Suid-Afrikaanse media bekendgestel. Die ontwerp en binneruim is so te sê dieselfde as die viersilinder-weergawe. Daar is wel ʼn ander enjin en ratkas, en dit maak ʼn groot verskil aan die voertuig. Let wel, ʼn R200 000-verskil.

Die Mercedes-Benz X350d. Foto: Verskaf

Is die V6-enjin R200 000 meer werd as die X250d? Na my eerlike mening, nee. Die V6 bied ʼn baie lekkerder bestuurservaring as die viersilinder – maar daar is nie genoeg van ʼn opknapping aan die res van die voertuig om die premie vir my te regverdig nie. Daar is steeds ʼn gebrek aan bekerhouers en die stuurwiel kan steeds nie hoog genoeg oplig sodat mense wat effens lank is die meters mooi kan lees nie. Die wind het kwaai gewaai in die Kaap, so daar was baie windgeraas om die kajuit van die bakkie. Vir ʼn bakkie pla dit nie. Vir ʼn R1 miljoen-voertuig pla dit wel.

Die Mercedes-Benz X350d. Foto: Verskaf

Die verrigting van die V6 is tóg indrukwekkend. Hy bied 195 kW en 550 Nm en daai krag kan die X350d stoot van stilstand tot 100 km/h in ʼn ratse 7.9 sekondes. Topsnelheid is ʼn groot 205 km/h. In ʼn bakkie! ʼn Mens hoef jou wel nie te bekommer dat al daai krag net reuse-ongelukke gaan veroorsaak nie – die X-klas se vering en padhouvermoë is regtig van die boonste rak. Ons het die X-klas haastig gemaak deur die Franschhoekpas en hy het hom regtig puik gedra. (‘n Video volg onderaan die berig)

Sê ek dan dat die X350d ʼn mors van geld is? Nee. As jy dit het, koop gerus vir jou een as dit vir jou mooi is en as jy graag ʼn Mercedes-Benz wil hê. Die X-klas is ʼn leefstylvoertuig en sal tuistes vind by mense wat reeds ander Mercedes-Benz-produkte het, maar ook ʼn behoefte aan ʼn bakkie. Indien jy ʼn plaas- of kommersiële bakkie soek, is die Merc nie vir jou nie.

Die reeks lyk só:

ModelVerrigtingBrandstofverbruikPrys
Mercedes-Benz X220d 4×2 Progressive120 kW/403 Nm7.5 ℓ/100 kmR646 071
Mercedes-Benz X250d 4×2 Progressive outo140 kW/450 Nm7.8 ℓ/100 kmR699 200
Mercedes-Benz X250d 4Matic Progressive140 kW/450 Nm7.7 ℓ/100 kmR701 615
Mercedes-Benz X250d 4Matic Progressive outo140 kW/450 Nm7.9 ℓ/100 kmR729 675
Mercedes-Benz X250d 4Matic Power140 kW/450 Nm7.7 ℓ/100 kmR796 145
Mercedes-Benz X250d 4Matic Power outo140 kW/450 Nm7.9 ℓ/100 kmR824 205
Mercedes-Benz X350d 4Matic Progressive190 kW/550 Nm9 ℓ/100 kmR914 711
Mercedes-Benz X350d 4Matic Power190 kW/550 Nm9 ℓ/100 kmR983 711

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal vroeg in 2019 weer tyd met die X350d V6 deurbring. Ek sal dán dié bakkie teen die V6-Amarok vergelyk.

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos ·

Merc gaan darem maar ver om die bakkie aan ons af te smeer. Dis die hoeveelste toets/berig op MM. Ek is ‘n baie groot Merc fan, maar die X klas, nee dankie. Persoonlik dink ek jy moet jou kop laat lees om verby Toyota, Nissan en VW bakkies verby te loop om die X klas te koop. Maar nou ja, die sal verkoop, net oor die kenteken.

koos ·

Sien VC. Presies my punt. Dit sal verkoop of dan hoe lank werk jy al vir Mercedes Benz?

Die Laaste Boerseun ·

Goeie aarde, ek is so tien jaar terug uit die land uit toe ñ ‘double cab’ onder R300 000 was. Wie kan R 1 miljoen vir ñ bakkie bekostig? Dit is duurder as in Australië.

JWC ·

Belaglike pryse! Nie net sit jy met duur dienste nie, maar vind maar uit wat maandelikse versekering jou gaan kos…. nee dankie! Dis net nog ‘n bakkie Mercedes…. skrik wakker! Julle het kompetisie en van die kompetsie se rygoed lyk nie net beter nie – dit is beter!!

Chris Ws ·

Ek sal hom nie ruil vir my 17 jaar oue Isuzu 2.5D dubbelkajuit bakkie nie.Hy kan al die spoedperke in ons land maklik handhaaf en is BAIE betroubaar so wat help die Merc se top spoed van 205km/h nou eintlik?Dis nutteloos.

Johan ·

‘n Teleurstellende uitvoering van n luukse bakkie teen ‘n belaglike prys!

Wie-ookal die ding koop het meer geld as verstand, en moet liefs ‘n sielkundige gaan sien.

Koop ‘n Amarok V6 tdi (wat n beter voertuig is), en spandeer R200k op nuttoge toebehore soos ‘n kappie, bosbreker, wenas, BFG bande, ens – en niemand gaan jou spot omdat jy ‘n baster Renault / Nissan, aka Mercedes ry nie!

Judge Dredd ·

Mercedes se bakkie – nee wat.

Google Hyundai Santa Cruz en sien watse bakkie ek voor wag.

koos ·

Sien VC. Presies my punt. Dit sal verkoop of dan hoe lank werk jy al vir Mercedes Benz?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.