Bekendstelling: Renault laat herrys die Koleos-naam

Renault Koleos (Foto: Verskaf)

Renault het in 2016 die Kadjar aan ons bekendgestel, ʼn mooi nuwe model wat die Koleos in ons mark vervang het.

Ongelukkig was die produk net te duur vir die Suid-Afrikaanse beursie. Al was dit ʼn puik produk, was die verkope nie ʼn weerspieëling daarvan nie.

Dus het Renault sopas besluit om die groter Koleos terug te bring in stede van die Kadjar. Ek was skepties… tot ek die prys gesien het. Die splinternuwe Koleos begin teen ʼn billike R399 000. Vir ʼn mediumgrootte sportnutsvoertuig is dit nie te versmaai nie.

My tweede twyfeling was oor die atmosferiese 2.5‑viersilinderpetrolenjin. Dié enjin kom van die Nissan kant van die alliansie. Jare terug, in die X-trail was ʼn weergawe van dié enjin verskriklik swaar op brandstof.

Met Renault se kalibrasie en die puik palwisseltransmissie het ons op ʼn 250 km‑toetsroete ʼn indrukwekkende 7.8 ℓ/100 km gehandhaaf. Vir ʼn 2.5 is die regtig puik. Die enjin bied 126 kW en 233 Nm wringkrag. Die krag, met die gepaardgaande ratkas en vierwielaandrywing, maak van die Koleos ʼn lekker reisgenoot.

Renault Koleos (Foto: Verskaf)

Die ontwerp is vir my regtig mooi. Dit lyk soos ʼn Megane wat al sy pap opgeëet het en baie tyd in die gim deurbring. Die binneruim is lekker ruim en die kwaliteit indrukwekkend. Al wat effens pla is die raakskerm-inligtingstelsel en die trap-parkeerrem. Dit is vir my bietjie verwarrend om die inligtingstelsel baas te raak, maar eienaars sal dit op die ou einde onder die knieg kry.

Terselfdertyd is die parkeerrem in ʼn vreemde posisie. Ek dink mens gaan baie jou maermerrie daar stamp.

Ritgehalte is indrukwekkend. Die binneruim is uiters stil en al ry mens op ʼn vreeslike hobbelpad raak die rit nie ondeund nie. Padhouvermoë is in die kol vir ʼn sportnutsvoertuig en die Koleos raak ʼn modderige grondpad maklik baas. Veiligheid is waar Renault nog altyd uitblink. Die Koleos verskil nie met ʼn 5-ster Euro NCAP-veiligheidsgradering nie. Indien ʼn mens in die mediumgrootte sportnutsmark is, kyk gerus na die Koleos…

Die reeks lyk só:

Koleos Expression 2.5 CVT126 kW/233 Nm8,1 ℓ/100 kmR399 900
Koleos Dynamique 2.5 CVT126 kW/233 Nm8,1 ℓ/100 kmR439 900
Koleos Dynamique 2.5 CVT 4×4126 kW/233 Nm8,3 ℓ/100 kmR479 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑waarborg en 5 jaar/90 000 km‑diensplan.

Ons sal weer tyd saam met die Koleos deurbring. Ons sal hom dán teen sy mededingers vergelyk en sien hoe hy hom in die stad gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vra net ·

Ek is mal oor Renault se modelle. Wil net weet, wie dink hulle model name uit?
Clio, Duster, Koleos, Fluence, Fuego, Scenic, Megane, lekker kleurvolle name en dan die teenpool Renault 4, 5, 6, 7, 9, 11,12, 14, 16, 19 ens. totaal boring.

Grens ·

Jy kan bollie met stroosuiker gooi, dit bly bollie. Het twee Renault’s gery, altwee was plein gemors. Nooit weer een op my werf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.