Bekendstelling: Santa (Fe) net betyds vir Kersfees

Die Hyundai Santa Fe. Foto: Verskaf

Kyk, ons weet nou al ʼn geruime tyd dat die Koreane weet hoe om goeie karre te maak. Wat ek wel onlangs geleer het, is dat die Koreane tog weet hoe om dit luuks ook te doen. Ek’s eintlik heel verbaas.

Die splinternuwe Hyundai Santa Fe is hul volgrootte sportnutsvoertuig, 7-sitplekke en al. Daar is drie modelle in die reeks, Premium, Executive & Elite. Al drie modelle word aangedryf deur Hyundai se romerige 2,2 CRDI viersilinderturbodieselenjin. Dié enjin bied 142 kW en 440 Nm en stoot die krag deur ʼn nuwe 8-spoed wringkragomsitter-ratkas en die voorwiele, behalwe op die reeksleidende Elite – hy het HTRAC en sit sy krag aan al vier wiele.

Die ontwerp van die nuwe Santa Fe is voorwaar aantreklik. Die proporsies lyk goed, en die nuwe gesig met sy dagligte wat soos wimpers die hoofligte afrond, is iets anders en mooi. Die vorm van die agterkant is herontwerp sodat passasiers in die derde ry sitplekke beter kop en skouer ruimte het. Die derde ry sitplekke is nie vir die langste mense nie – maar sal vir kinders ʼn perfekte skuiling bied waar die ouers hulle nie kan sien, hoor of bykom nie.

Agter die stuur is die Santa Fe voorwaar gemaklik. Die sitplekke kan op verskeie maniere stel sodat ʼn mens gou gemaklik is. Die stuurkolom kan vir reik en kantel stel. Die kombinasie van ʼn ideale bestuurposisie en die lieflike enjin en ratkas verseker dat die Santa Fe die myle opvreet. Die binneruim is ergonomies uitgelê en alles op sy plek. Hyundai se nuwe klank en inligtingstelsel is toegerus met Apple CarPlay en Android Auto, sowel as navigasie vir diegene wat nog nie Google Maps ontdek het nie.

Die ritgehalte op teer en grond is indrukwekkend. Die voorwielaangedrewe intreemodel is regtigwaar tjoepstil op die oop pad. Padhouvermoë op grond is selfs verbasend goed, so ʼn mens hoef nie skaam te wees om bietjie die stofpad aan te durf nie.

Op die pad is die Hyundai romerig en stil met ʼn lieflike ratkas wat puik brandstofverbruik bied. Die binneruim is luuks en bied al die speelgoed wat mens sou begeer. Die intreemodel teen R599 900 is die beste waarde in die reeks. Die reeksleier voel vir my kwaai teen R749 995.

Die reeks lyk só:

Santa Fe 2.2 PremiumR599 900
Santa Fe 2.2 ExecutiveR659 900
Santa Fe 2.2 Elite HTRACR749 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/ 150 000 km voertuig en 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg. Daar is ʼn 5 jaar/ 90 000 km diensplan en diensintervalle is elke 15 000 km.

Ons sal binnekort meer tyd met die Santa Fe deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann cb ·

Baie beïndruk met die hersiene ontwerp! Die voertuig kom kleiner en meer kompak voor, veral met die mooi kopligte!

Gerhard Bezuidenhout ·

Neewat teen daardie prys is daar vele beter voertuie op die mark met baie beter inruilwaarde.

Mrs H ·

Oe! Ek kan nie wag nie. Beslis baie waarde en motor vir daardie geld. Ek soek een Nou! Prakties, bekostigbaar en baie betroubaar. Briljant.

Jannie ·

Mrs H, is seker ń verkoops konsultant wat lesers probeer mislei.
Ek stem saam met Gerhard.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.